Categories
OPENBARING

OPENBARING 4

God die Skepper word in die

hemel aanbid

1 Hierna het ek gekyk, en werklikwaar, ’n deur is oopgemaak in die hemel, en ’n stem wat ek vantevore al hard soos ’n trompet met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur.”

2 Onmiddellik was ek in die greep van die Gees. Ek het ’n troon in die hemel sien staan met Iemand wat daarop sit.

3 En die Een wat sit, se voorkoms was net soos jaspis en karneool, terwyl daar ’n reënboog met die glans van smarag om die troon gehang het.

4 Rondom die troon was daar 24 trone en op die trone het 24 ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, met goue krone op hulle koppe.

5 Van die troon se kant af het daar weerligstrale, rammelings en donderslae gekom. Reg voor die troon het sewe vlammende fakkels gebrand; dit is die sewe Geeste van God.

6 Vlak voor die troon het dit gelyk soos ’n spieëlgladde see, soos kristal.

In die middel en rondom die troon het daar vier lewende wesens gestaan, met oë aan die voor- en agterkant.

7 Die eerste lewende wese het soos ’n leeu gelyk, die tweede soos ’n bul, die derde het ’n gesig soos dié van ’n mens gehad, en die vierde het gelyk soos ’n vlieënde arend.

8 Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke gehad wat rondom en aan die binnekant vol oë was. Hulle het dag en nag, sonder enige ruspouse, aanhou sê:

“Heilig, heilig, heilig

is die Here God

die Almagtige,

Hy wat was en wat is

en wat kom.”

9 Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, Hy wat vir altyd lewe,

10 val die 24 ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir altyd lewe en sit hulle krone voor die troon neer en sê:

11 “U is waardig, Here ons God,

om die heerlikheid

en die eer

en die mag te ontvang

omdat U alle dinge geskape het;

deur u wil is alles

wat bestaan, geskape.”

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/4-5d0f2f1975207cff434cfc4be3406981.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 5

Die Lam is waardig om die

boekrol se seëls oop te breek

1 Ek het toe in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ’n boekrol gesien, vol geskryf aan die binne- én die buitekant, en deur sewe seëls deeglik verseël.

2 Ek het ook ’n sterk engel gesien wat met ’n kragtige stem uitroep: “Wie is waardig genoeg om die boekrol oop te maak deur die seëls daarvan te breek?”

3 Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie.

4 Ek het toe bitterlik gehuil omdat niemand gekry is wat waardig genoeg is om die boekrol oop te maak om daarin te kyk nie.

5 Toe sê een van die ouderlinge egter vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die nakomeling van Dawid, het oorwin en kan die boekrol en sy sewe seëls oopmaak.”

6 Toe het ek tussen die troon en die vier lewende wesens en tussen die ouderlinge ’n Lam sien staan, soos Een wat geslag is. Hy het sewe horings en sewe oë gehad, dit is die sewe Geeste van God wat uitgestuur is oor die hele aarde.

7 Hy het toe vorentoe getree en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.

8 Net toe Hy die boekrol vat, het die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in aanbidding voor die Lam neergeval. Elkeen het ’n siter en ’n goue bak vol wierook vasgehou, dit is die gebede van die gelowiges.

9 Toe sing hulle ’n nuwe lied met dié woorde:

“U is waardig genoeg

om die boekrol te neem

en sy seëls te breek

omdat U geslag is

en met u bloed

mense vir God vrygekoop het,

uit elke geslag en taalgroep,

volk en nasie.

10 U het hulle vir ons

tot konings en priesters

gemaak.”

11 Toe het ek gekyk en ek het die stemme gehoor van baie engele wat rondom die troon gestaan het, asook van die lewende wesens en ouderlinge. Hulle getal was tienduisende, eintlik miljoene der miljoene.

12 Hulle het in ’n magtige koor gesing:

“Die Lam wat geslag is,

is waardig genoeg

om die mag en rykdom,

die wysheid en sterkte,

die eer, heerlikheid

en lofprysing te ontvang.”

13 Die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see en alles wat in hulle bestaan, het ek hoor sê:

“Aan Hom wat op die troon sit

en aan die Lam,

kom toe die lofprysing

en die eerbetoning,

die heerlikheid

en die krag

vir altyd en altyd.”

14 Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het neergeval en Hom begin aanbid.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/5-0289410f2fdaedbacbcd26d186dc8bf3.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 6

Die Lam maak die boekrol oop

1 Terwyl ek gekyk het, het die Lam een van die sewe seëls oopgebreek; en ek het een van die vier lewende wesens met ’n geluid soos ’n donderslag hoor sê: “Kom!”

2 Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n wit perd voor my! Sy ruiter het ’n boog vasgehou, en aan hom is ’n kroon gegee. Hy het as oorwinnaar uitgegaan met die doel om verder te gaan oorwin.

3 Toe die Lam die tweede seël oopgebreek het, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Kom!”

4 ’n Ander perd het uitgegaan, ’n rooie. Sy ruiter is toegelaat om die vrede van die aardbol weg te neem sodat sy inwoners mekaar uitmoor. Aan hom is ook ’n groot swaard gegee.

5 En toe die Lam die derde seël oopbreek, het ek gehoor dat die derde lewende wese sê: “Kom!” En ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n swart perd voor my! Sy ruiter het ’n weegskaal in sy hand vasgehou.

6 Ek het toe ’n geluid soos ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: “’n Skep koring vir ’n dag se loon en drie skeppe gars vir ’n dag se loon. Moet tog nie die olyfolie en die wyn skade aandoen nie.”

7 Toe die Lam die vierde seël oopbreek, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Kom!”

8 Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n bleekgrys perd voor my! Sy ruiter se naam was die Dood, en die doderyk het vlak agter hom gevolg. Aan hom is die mag gegee om ’n kwart van die aarde se mense dood te maak deur die swaard, hongersnood, ’n dodelike epidemie en deur die wilde diere van die aarde.

9 Toe die Lam die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van hulle wat doodgemartel is oor die boodskap van God en die getuienis wat hulle gelewer het.

10 Hulle het met ’n kragtige stem uitgeroep: “Hoe lank, o heilige en betroubare Heer, gaan U nog wag voordat U die oordeel voltrek en ons bloed op die bewoners van die aarde wreek?”

11 Aan elkeen van hulle is toe ’n lang wit kleed gegee, en hulle is aangesê om nog ’n klein rukkie te rus, tot die tyd aanbreek dat hulle medediensknegte en medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemartel gaan word, voltallig is.

12 Ek het gekyk toe die Lam die sesde seël oopbreek. Daar was ’n groot aardbewing; die son het swart geword soos ’n harige sak, en die hele maan het so rooi soos bloed geword.

13 Die sterre van die hemelruim het op die aarde geval, net soos ’n vyeboom sy groen navye afgooi wanneer dit deur ’n stormwind getref word.

14 Die hemelkoepel is weggeneem soos wanneer ’n boekrol opgerol word, en elke berg en eiland het uit hulle plek verskuif.

15 Die konings van die aarde en die hoogste amptenare, die militêre leiers, die rykes en die magtiges, elke slaaf en elke vrymens het gaan wegkruip in die grotte en onder die bergkranse.

16 Hulle sê toe vir die berge en die kranse: “Val op ons en verberg ons voor die oë van Hom wat op die troon sit en van die wraak van die Lam!”

17 Die belangrike dag van hulle wraak het aangebreek en wie kan staande bly?

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/6-ce4057c7901eeb8a8b793ec237ccd191.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 7

God laat die 144 000 op hulle

voorkoppe merk

1 Hierna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde teruggehou sodat geen wind op die land of op die see of teen enige boom waai nie.

2 Ek het ook ’n ander engel sien naderbeweeg van die kant waar die son opkom, terwyl hy ’n seël van die lewende God vashou. Hy het met ’n kragtige stem geroep na die vier engele wat toegelaat is om die land en see skade aan te doen, en

3 gesê: “Moenie skade doen aan die land of die see of die bome nie, totdat ons die diensknegte van God met ’n seël op hulle voorkoppe gemerk het.”

4 Ek het toe gehoor wat die getal is van dié wat met ’n seël op hulle voorkoppe gemerk is: daar was 144 000 gemerktes, afkomstig uit al die stamme van Israel:

5 Uit die stam van Juda was daar 12 000 wat met die seël op hulle voorkoppe gemerk is; uit die stam Ruben 12 000; uit die stam Gad 12 000;

6 uit die stam Aser 12 000; uit die stam Naftali 12 000; uit die stam Manasse 12 000;

7 uit die stam Simeon 12 000; uit die stam Levi 12 000; uit die stam Issaskar 12 000;

8 uit die stam Sebulon 12 000; uit die stam Josef 12 000, en uit die stam Benjamin was daar 12 000 wat met ’n seël gemerk is.

Die skare verlostes met wit klere

9 Hierna het ek gekyk, en werklikwaar – daar was ’n reuse skare mense wat niemand eers kon tel nie. Hulle het gekom uit elke nasie, stam, volk en taalgroep, en het voor die troon en voor die Lam gaan staan. Hulle het wit klere aangehad, met palmtakke in hulle hande.

10 Met ’n kragtige stem het hulle uitgeroep:

“Ons verlossing is te danke aan

God

wat op die troon sit en aan die

Lam!”

11 Al die engele het ook rondom die troon gaan staan, asook die ouderlinge en die vier lewende wesens. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon en God aanbid

12 en gesê:

“Amen, die lofprysing

en die heerlikheid,

die wysheid, die dank

en die eerbetoning,

die mag en die sterkte

behoort aan ons God vir altyd.

Amen!”

13 Een van die ouderlinge reageer toe en vra my: “Hierdie mense wat wit klere aanhet, wie is hulle en waarvandaan kom hulle?”

14 Ek het aan hom gesê: “Meneer, u is die een wat weet.”

Daarop sê hy vir my: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hulle klere wit gewas in die bloed van die Lam.

15 Daarom staan hulle

voor die troon van God

en dien hulle Hom dag en nag

in sy tempel;

en Hy wat op die troon sit,

sal sy tentwoning oor hulle span.

16 Hulle sal nie meer honger

of dors word nie;

die son sal nie op hulle

neerskroei nie

en ook nie ’n hittegloed nie.

17 Die Lam wat in die middel

by die troon staan,

sal hulle soos ’n herder lei

en hulle na die waterfonteine

van die lewe bring;

en God sal elke traan van hulle

oë afdroog.”

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/7-74509f7ff038427519ba73b30663754a.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 8

Die groot stilte voor die finale

drama

1 Toe die Lam die sewende seël oopbreek, het daar stilte in die hemel neergedaal, ongeveer ’n halfuur lank.

2 Ek het toe die sewe engele gesien wat voor God stelling inneem. Aan hulle is sewe trompette gegee.

3 ’n Ander engel het nadergekom en by die altaar gaan staan. Hy het ’n goue wierookbak vasgehou. Baie reukwerk is aan hom gegee om dit te meng met die gebede van almal wat aan God toegewy is, en om dit te offer op die goue altaar wat voor die troon staan.

4 Die rookwolk van die reukwerk wat deur die engel geoffer is, is gemeng met die gebede van hulle wat aan God toegewy is, en het opgestyg voor God.

5 Toe het die engel die wierookbak geneem, dit vol gemaak met die vuur van die altaar af en dit op die aarde uitgegooi. Donderslae, rammelinge, weerligstrale en ’n aardbewing het toe daarop gevolg.

Vier trompette met

vernietigende gevolge

6 Die sewe engele wat die sewe trompette vasgehou het, het hulle klaargemaak om daarop te blaas.

7 Die eerste engel het op sy trompet geblaas en hael en vuur vermeng met bloed is op die aarde gestort. ’n Derde van die aarde is verskroei. ’n Derde van die bome is verskroei en al die groen gras is verbrand.

8 Die tweede engel het op sy trompet geblaas en iets soos ’n hoë berg wat aan die brand is, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword.

9 ’n Derde van die diere wat in die see lewe, het doodgegaan, en ’n derde van die skepe is vernietig.

10 Toe het die derde engel op sy trompet geblaas, en ’n reuse ster wat soos ’n fakkel brand, het van die hemel af op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine geval.

11 Die ster word genoem Bitterheid. ’n Derde van die varswater het bitter geword, en ’n menigte mense het doodgegaan van die water omdat dit so bitter gemaak was.

12 Die vierde engel het op sy trompet geblaas en ’n derde van die son, ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref sodat ’n derde van hulle verduister is. ’n Derde van die dag het geen lig gehad nie, en só ook die nag.

13 Toe het ek gekyk en ’n besondere arend, wat hoog in die lugruim vlieg, met ’n skril stem hoor uitskreeu: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik, hoe vreeslik sal dit nie vir die bewoners van die aarde wees as die oorblywende engele binnekort op hulle trompette blaas nie!”

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/8-5253437d835c1e2a3ecdd2a533dc87a7.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 9

Sprinkane sak soos skerpioene

op die goddeloses toe

1 Daarna het die vyfde engel op sy trompet geblaas. Ek het gekyk hoe ’n ster van die hemel af op die aarde val, en die sleutel van die tonnel na die bodemlose put is aan hom gegee.

2 Hy het toe die tonnel na die bodemlose put oopgesluit. Daar het rook uit die tonnel opgedwarrel, soos die rook uit ’n groot smeltoond. Die son en die lugruim is deur die rook van die tonnel verduister.

3 Uit die rook het sprinkane oor die aarde heen geswerm. Hulle is toegelaat om dieselfde vermoë te hê as skerpioene.

4 Hulle is aangesê om nie die gras op die aarde, of enige plant of boom te beskadig nie, maar net die mense leed aan te doen wat nie die seëlmerk van God op hulle voorkoppe het nie.

5 Hulle is uitdruklik aangesê om nie die mense dood te maak nie, maar om hulle wel vyf maande lank te folter. Hulle foltering was soos die brandpyn wanneer ’n skerpioen jou steek.

6 Gedurende daardie dae sal die mense dit verkies om liewer dood te gaan, maar dit sal nie met hulle gebeur nie. Hulle sal begeer om dood te gaan, maar die dood sal hulle ontwyk.

7 Die sprinkane het gelyk soos perde wat voorberei is vir oorlog. Op hulle koppe was iets soos goue krone, en hulle gesigte het gelyk soos dié van mense.

8 Hulle het lang hare soos dié van vroue gehad, en hulle tande was soos dié van leeus.

9 Hulle het borsplate aangehad soos ysterharnasse, en die geluid van hulle vlerke het geklink soos die gedreun van baie perdestrydwaens wat opruk oorlog toe.

10 Hulle het sterte met angels net soos dié van skerpioene gehad, en in hulle sterte was hulle vermoë om die mense vyf maande lank leed aan te doen.

11 Hulle het as heerser die engel van die bodemlose put gehad. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks Apollion.

12 Die eerste verskrikking is verby. Kyk, daar volg nog twee hierna.

Miljoene perde rig

onberekenbare skade aan

13 Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n enkele stem hoor kom uit die rigting van die vier horings van die goue altaar by God.

14 Die stem het aan die sesde engel wat die trompet vashou, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.”

15 Die vier engele wat gereedgemaak is vir hierdie uur en dag en maand en jaar is toe losgemaak om ’n derde van die mense dood te maak.

16 Die getal perderuiters was ongeveer 200 miljoen. Ek het gehoor wat die getal is.

17 Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: Hulle het vuurrooi en hemelsblou en swaelgeel borsplate aangehad. Die perde se koppe was soos dié van leeus en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael gestoom.

18 Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke gestoom het, is ’n derde van die mense doodgemaak.

19 Die perde se vermoë om skade aan te rig, lê in hulle bekke, maar ook in hulle sterte, want hulle sterte het koppe net soos slange waarmee hulle die skade aanrig.

20 Die oorblywende mense wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het ook nie tot inkeer gekom wat hulle dade betref nie. Hulle het eenvoudig aangehou om die bose geeste te aanbid, asook die afgode van goud, silwer, brons, klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.

21 Hulle het hulle ook nie bekeer van hulle moorde of hulle toordery, seksuele sondes of stelery nie.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/9-b506832f7a5c465a6dbe585758280b97.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 10

Johannes moet die klein boekrol

gaan eet

1 Toe het ek ’n ander kragtige engel gesien wat van die hemel af neergedaal het. Hy was omring deur ’n wolk, met ’n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son, en sy voete soos twee vuurkolomme.

2 In sy hand het hy ’n oopgerolde boekrolletjie vasgehou. Hy het gaan staan, met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die aarde.

3 Toe het hy met ’n kragtige stem uitgeskreeu soos ’n leeu wat brul. Nadat hy so uitgeskreeu het, het sewe donderslae hulle eie dreunings laat weergalm.

4 En toe die sewe donderslae weergalm het, was ek op die punt om dit op te skryf, maar ek het ’n stem van die hemel se kant af hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae weergalm het, en moenie dit opskryf nie.”

5 Die engel wat ek op die see en die land sien staan het,

het sy regterhand in die rigting

van die hemel opgelig

6 en ’n eed gesweer by Hom

wat vir altyd lewe,

wat die hemel en sy inhoud, die land en sy inhoud, die see en sy inhoud, geskep het. Hy het onder eed gesweer: “Daar is nie meer tyd oor nie.

7 In daardie tyd wanneer die sewende engel sy trompet sal blaas, sal God se verborge bedoeling verwerklik word, soos Hy dit as goeie boodskap aan sy diensknegte, die profete, bekendgemaak het.”

8 Die stem wat ek van die hemel se kant af gehoor het, het toe weer met my gepraat deur vir my te sê: “Gaan haal die oopgerolde boekrolletjie wat in die hand is van die engel wat op die see en land staan.”

9 Ek het toe na die engel toe gegaan en hom gevra om die boekrolletjie vir my te gee. Sy reaksie was: “Neem dit en eet dit op. Dit sal bitter wees in jou maag alhoewel dit so soet soos heuning sal smaak in jou mond.”

10 Ek het toe die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, was dit bitter in my maag.

11 Hulle sê toe vir my: “Jy moet nog eers God se wil oor volke, nasies, taalgroepe en baie heersers gaan verkondig.”

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/10-413151f51043f4eb6ab005e648a3fda9.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 11

Die twee getuies

1 Toe is daar aan my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Gaan meet die tempel van God en die altaar en die mense wat in die tempel aanbid.

2 Die voorhof wat buitekant die tempel geleë is, moet jy weglaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die nasies oorgegee is. Hulle sal die heilige stad 42 maande lank met die voete vertrap.

3 En Ek sal aan my twee getuies, met sakklere aan, opdrag gee om die wil van God vir 1 260 dae lank te verkondig.”

4 Hulle is die twee olyfbome en ook die twee kandelare wat voor die Here van die hele aarde staan.

5 As iemand hulle leed wil aandoen, kom daar vuurvlamme uit hulle monde wat hulle vyande verbrand. Elkeen wat hulle leed wil aandoen, moet só doodgemaak word.

6 Hulle beskik oor die mag om die hemel te sluit sodat dit nie sal reën nie vir die volle tyd wat hulle die wil van God verkondig. Hulle beskik ook oor die mag om die waters in bloed te verander en om die aarde met elke moontlike plaag te tref, so dikwels as wat hulle dit nodig vind.

7 Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die bodemlose put uit opgekom het, teen hulle oorlog maak en hy sal hulle oorwin en doodmaak.

8 Hulle lyke sal langs die breë straat van die groot stad lê. Dit is die stad wat figuurlik Sodom en Egipte genoem word, waar hulle Here ook gekruisig is.

9 Vir drie en ’n half dae lank sal mense vanuit al die volke, stamme, taalgroepe en nasies hulle lyke sien lê. En hulle sal nie toelaat dat die lyke in ’n grafkamer begrawe word nie.

10 Die bewoners van die aarde sal juig oor hulle dood en hulle sal baie bly wees daaroor en aan mekaar geskenke stuur, omdat hierdie twee profete die bewoners van die aarde geteister het.

11 Maar na drie en ’n half dae het die lewegewende Gees van God in hulle gekom. Toe hulle op hulle voete orent kom, het ’n groot skrik almal wat hulle gesien het, oorweldig.

12 Hulle het ook ’n kragtige stem van die hemel af hoor sê: “Kom op hierheen!” Hulle het toe in ’n wolk na die hemel toe opgevaar terwyl hulle vyande toekyk.

13 Op daardie selfde uur was daar ’n geweldige aardbewing en ’n tiende van die stad het inmekaargetuimel. In die aardbewing is 7 000 mense gedood en die oorblywende mense het beangs geword en aan die God van die hemel eer betoon.

14 Die tweede verskrikking is verby. Kyk, die derde een kom spoedig.

Die koningsheerskappy behoort

aan die Here en sy Christus

15 Die sewende engel het toe op sy trompet geblaas. Daar was kragtige stemme in die hemel wat sê:

“Die koninklike heerskappy

oor die wêreld

behoort nou aan ons Here

en sy Christus,

en Hy sal as koning heers

vir altyd.”

16 Die 24 ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het op hulle gesigte neergeval en God aanbid

17 en gesê:

“Here God, Almagtige,

U wat is en wat was,

ons dank U

dat U nou u groot mag

opgeneem het

en as koning heers.

18 Die nasies het baie kwaad geword,

maar nou het die tyd

van u oordeel aangebreek

om dié wat dood is, te oordeel;

om u diensknegte, die profete

te beloon

en dié wat aan God

toegewy is,

en dié wat ontsag het

vir u Naam,

klein en groot,

en dié wat die aarde vernietig,

óók te vernietig.”

19 Toe is God se tempel in die hemel geopen, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar was toe weerligstrale, dreunings, donderslae, ’n aardbewing en ’n hewige haelstorm.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/11-d1402b0828959243b5121fe241644c05.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 12

Die draak bedreig die geboorte

van die Christuskind

1 ’n Groot teken het in die hemel sigbaar geword: ’n vrou wat met die son omklee is, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon met twaalf sterre.

2 Sy was verwagtend en het geskreeu van die geboortepyne en die benoudheid.

3 Daar het ook ’n ander teken in die hemel sigbaar geword: Kyk net – ’n groot rooi draak met sewe koppe en tien horings en op sy koppe was daar sewe koningskrone.

4 Sy stert het ’n derde van die sterre van die hemel meegesleur en hulle op die aarde neergegooi. Die draak het reg voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om wanneer sy geboorte skenk, haar kind op te vreet.

5 Sy het geboorte geskenk aan ’n manlike kind, wat al die nasies met ’n ysterstaf sal beheer. Haar kind is weggeruk van die draak af, na God en na sy troon toe.

6 Die vrou het na die woestyn toe gevlug, waar sy ’n plek gehad het wat deur God vir haar voorberei is sodat hulle haar daar 1 260 dae lank kan versorg.

7 Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak. Die draak en die engele onder sy beheer het aan die oorlog deelgeneem,

8 maar hy is verslaan. In die hemel was daar geen plek meer vir die draak en die engele onder sy beheer te vind nie.

9 Die reuse draak is uitgegooi, dit is die slang van die oertyd wat ook die duiwel en Satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei. Hy is op die aarde neergegooi, asook sy bose engele saam met hom.

10 Toe het ek ’n kragtige stem in die hemel hoor sê:

“Nou het die verlossing en die krag

en die koninklike heerskappy

van ons God aangebreek,

asook die mag van sy Christus.

Die aanklaer van ons

medegelowiges

is neergegooi,

hy wat hulle dag en nag

voor ons God aangekla het.

11 En hulle het hom self oorwin

op grond van die bloed

van die Lam

en die boodskap

waaroor hulle getuig het.

Hulle het hulle lewens

nie so liefgehad

dat hulle onwillig was

om vir Hom te sterf nie.

12 Daarom, juig daaroor, hemele

en dié wat daarin ’n woonplek

het!

Hoe vreeslik tog

vir die land en die see,

omdat die duiwel

na julle afgekom het

met fel woede

en met die besef

dat hy net ’n kort tydjie het.”

13 Toe die draak sien dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou wat geboorte gegee het aan die manlike kind, agtervolg.

14 Aan die vrou is egter twee groot arendsvlerke gegee sodat sy na haar plek in die woestyn kon vlieg. Dáár word sy versorg vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd, heeltemal buite bereik van die slang.

15 Die slang het toe uit sy bek ’n boog water soos ’n rivier agter die vrou aan uitgespoeg sodat sy deur die stroom meegesleur kon word,

16 maar die aarde het die vrou te hulp gesnel. Die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier wat die draak uit sy bek uitgespoeg het, ingesluk.

17 Die draak het toe woedend geword vir die vrou en vertrek om oorlog te gaan maak teen die res van haar afstammelinge wat die gebooie van God gehoorsaam en vashou aan die getuienis wat Jesus gegee het.

18 Die draak het toe op die sand van die see gaan staan.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/12-16c76e51a802a9c284b9f4036b1c94d7.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 13

Die monster uit die see trek op

teen Christus

1 Toe het ek ’n monster uit die see sien opkom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien koningskrone en op sy koppe name wat God belaster het.

2 Die monster wat ek gesien het, het net soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was net soos dié van ’n beer en sy bek net soos dié van ’n leeu. Die draak het van sy eie krag, sy troon en groot mag aan hom gegee.

3 Aan een van sy koppe was hy oënskynlik dodelik verwond, maar sy dodelike wond het gesond geword. Die hele wêreld het verwonderd agter dié monster aan geloop.

4 Hulle het in aanbidding neergeval voor die draak omdat hy aan die monster mag gegee het. En hulle het die monster aanbid en gesê: “Wie is soos die monster? En wie kan teen hom oorlog maak?”

5 Dié monster is toegelaat om vreeslike en lasterlike dinge te sê; aan hom is ook die mag verleen om 42 maande lank só op te tree.

6 Hy het sy mond oopgemaak om teen God te laster; hy het God as persoon, sy woonplek en dié wat in die hemel woon, belaster.

7 Hy is ook toegelaat om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; aan hom is ook gesag gegee oor elke stam, volk, taalgroep en nasie.

8 Al die bewoners van die aarde sal in aanbidding voor hom neerkniel. Dit is hulle wie se name nie van die fondamentlegging van die wêreld af in die Boekrol van die Lewe aangeteken is nie – die Boekrol van die geslagte Lam.

9 Elkeen wat ’n oor het om te luister,

moet hoor.

10 Wie vir gevangenskap bestem is,

gaan in gevangenskap;

wie bestem is om met die swaard

doodgemaak te word,

sal so doodgemaak word.

In hierdie sake het die gelowiges volharding en vertroue nodig.

Die monster uit die aarde, in

diens van die draak en die

11 Toe het ek ’n ander monster gesien wat uit die aarde opkom. Hy het twee horings gehad, net soos ’n lam, maar hy het gepraat soos ’n draak.

12 Hy tree met al sy gesag namens die eerste monster op. En hy oorreed die aarde en al die bewoners daarvan om die eerste monster te aanbid, dit is dié een waarvan die dodelike wond gesond geword het.

13 Hy doen ook asemrowende wondertekens sodat hy voor die oë van die mense selfs vuur uit die hemel op die aarde laat neerkom.

14 En hy mislei die bewoners van die aarde deur die wondertekens wat hy toegelaat is om namens die monster te doen. Hy het ook die bewoners van die aarde beveel om ’n standbeeld vir die monster op te rig; dit is die monster wat die litteken van die swaard dra en wat weer lewend geword het.

15 Hy is ook toegelaat om lewe in die standbeeld van die monster te blaas sodat dit kan praat en almal laat doodmaak wat dit nie aanbid nie.

16 Hy verplig al sy volgelinge, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te kry.

17 Dit word gedoen sodat niemand kan koop of verkoop sonder die merk van die naam van die monster, of die getal van sy naam nie.

18 In hierdie geval is onderskeidingsvermoë nodig. Laat die een wat insig het, die getal van die monster bereken, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is 666.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/13-bbc7da88f0f29df600581e84f4f77ce6.mp3?version_id=117—