Categories
1 JOHANNES

1 JOHANNES 2

1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sonde doen nie. As iemand egter sonde doen, ons het ’n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.

2 Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom.

3 En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken: as ons sy opdragte gehoorsaam.

4 As iemand sê: “Ek leef in ’n persoonlike verhouding met God,” maar nie sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ’n persoon ’n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie.

5 Wie egter sy woord gehoorsaam, in só ’n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is.

6 Dié wat beweer dat hulle in ’n noue verbintenis met Hom leef, moet self ook leef soos Hy geleef het.

Die liefdesopdrag is al oud,

maar tog ook nuut

7 Geliefdes, ek stuur nie aan julle ’n nuwe opdrag nie, maar ’n ou een wat julle nog altyd gehad het. Dié ou opdrag is die boodskap wat julle reeds lankal gehoor het.

8 Tog is dit ook ’n nuwe opdrag wat ek aan julle gee. Hierdie opdrag is betroubaar en van toepassing op julle verhouding tot Christus en tot mekaar. Die duisternis is immers aan die verbygaan en die lig wat die waarheid bring, skyn alreeds.

9 As iemand sê: “Ek leef in ’n hegte verhouding met die lig,” maar ’n medegelowige haat, verkeer so ’n mens nog steeds in die duisternis.

10 Enigeen wat sy medegelowiges liefhet, leef in ’n verbintenis met die lig en is nie ’n bron van struikeling vir ander nie.

11 Wie egter ’n medegelowige haat, is nog in die duisternis en leef in ’n noue verbintenis met die duisternis. Sulke persone besef nie waarheen hulle op pad is nie omdat die duisternis hulle oë verblind het.

Leef volgens julle identiteit as

Christene!

12 Ek skryf aan julle, kinders:

Julle sondes is vergewe

op grond van wat Jesus

vir ons gedoen het.

13 Ek skryf aan julle, pa’s:

Julle leef van die heel begin af

in ’n persoonlike verhouding

met Hom.

Ek skryf aan julle, jonges:

Julle het as oorwinnaars

oor die bose

uit die stryd getree.

14 Ek skryf aan julle, kinders:

Julle leef in ’n persoonlike

verhouding met die Vader.

Ek skryf aan julle, pa’s:

Julle leef van die heel begin af

in ’n persoonlike verhouding

met Hom.

Ek skryf aan julle, jonges:

Julle is kragtig

en die woord van God is deel

van julle bestaan

en julle het as oorwinnaars

oor die bose

uit die stryd getree.

15 Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis nie ook lief vir die Vader nie.

16 Wat ook al in die wêreld bestaan, alles wat tipies is van die menslike begeerte, die begeerte vir alles wat die oog sien, en die vals roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorsprong in die wêreld.

17 Dié wêreld én sy begeerlikhede is aan die verbygaan. Wie die wil van God uitvoer, leef egter vir altyd.

Die finale toets is hóé ons glo en

lewe

18 Kinders, dit is nou die laaste uur. Soos julle al gehoor het, is die antichris aan die kom. Ook nou het baie antichriste alreeds hulle opwagting gemaak. Daaruit lei ons af dat dit die laaste uur is.

19 Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie. As hulle regtig deel van ons was, sou hulle nou nog by ons gebly het. Hulle het uit ons geledere weggegaan sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie regtig deel van ons was nie.

20 Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees.

21 Ek het aan julle geskryf, nie omdat julle nie kennis dra van die waarheid nie, maar juis omdat julle die waarheid ken en ook weet dat geen leuen uit die waarheid kan kom nie.

22 Wie is die groot leuenaar? Dit is die een wat aanhou ontken dat Jesus die Messias is. So ’n persoon is die antichris, wat nie die Vader en die Seun erken nie.

23 Elkeen wat nie die Seun erken nie, het ook nie deel aan die Vader nie. Elkeen wat die Seun egter erken, het ook deel aan die Vader.

24 Hou vol met dit wat julle van die heel begin af gehoor het. As julle leef volgens dit wat julle van die heel begin af gehoor het, sal julle ook verbonde bly aan die Seun en die Vader.

25 En dít is die belofte wat Hy self aan ons gemaak het: die ewige lewe.

26 Hierdie dinge het ek aan julle geskryf oor die mense wat julle probeer verlei.

27 Julle het immers die Heilige Gees ontvang van Hom wat in ’n hegte verhouding met julle leef; daarom het julle nie behoefte daaraan dat iemand julle onderrig nie. Sy Gees lig julle immers oor alles in, en wat Hý sê, is die waarheid en nie ’n leuen nie. En soos Hy julle geleer het, moet julle ook in ’n hegte verhouding met Hom leef.

28 En nou, kinders, leef in ’n hegte verhouding met Hom sodat, wanneer Hy ook al verskyn, ons die vrymoedigheid kan hê om nie beskaamd te staan by sy koms nie.

29 As julle dan met die wete leef dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat reg leef, deur Hom verwek is.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1JN/2-e2a5bbdd427ad6f2d0f5d9f30e098ff2.mp3?version_id=117—

Categories
1 JOHANNES

1 JOHANNES 3

Dis julle herkoms wat saak

maak, kinders van God!

1 Kyk net hoe ’n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook. Daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.

2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.

3 Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is.

4 Elkeen wat aanhou sonde doen, doen ook wat teen die wet is, want sonde is wetteloosheid.

5 Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem en dat daar geen sonde in Hom is nie.

6 Elkeen wat in ’n hegte verhouding met Hom leef, hou nie aan sonde doen nie. Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook nie ’n begrip van Hom nie.

7 Kinders, moenie dat iemand julle hieroor mislei nie: Elkeen wat reg leef, is regverdig, net soos Hy regverdig is.

8 Elkeen wat aanhou sonde doen, is familie van die duiwel omdat die duiwel van die heel begin af sonde gedoen het. Juis daarvoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die duiwel te vernietig.

9 Elkeen wat deur God verwek is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly. Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle deur God verwek is.

10 Op hierdie manier is dit duidelik wie die kinders van God en wie die kinders van die duiwel is. Almal wat nie reg optree nie en ook nie hulle medegelowiges liefhet nie, is nie uit God nie.

Liefhê en haat loop nie saam nie

11 Dít is die boodskap wat ons van die heel begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê.

12 Ons moet nie soos Kain optree wat uit die bose was en sy broer doodgemaak het nie. Om watter rede het hy hom doodgemaak? Omdat sy eie optrede boos was en sy broer s’n reg.

13 Broers en susters, moet nie verbaas wees as die wêreld julle haat nie.

14 Ons leef in die wete dat ons reeds uit die dood oorgegaan het in die lewe omdat ons ons broers en susters liefhet. Wie nie liefhet nie, bly eenvoudig in die dood vasgevang.

15 Elkeen wat sy broer of suster haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar deel het aan die ewige lewe nie.

16 Ons het die volmaakte liefde leer ken: dit is dat Christus sy lewe ter wille van ons afgelê het. Só moet ons ook ons lewens prysgee ter wille van ons broers en susters.

17 Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broer of suster sien gebrek ly, maar weier om ’n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon?

18 Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings.

19 Deur ons optrede sal ons weet dat ons getrou aan die waarheid lewe en dat ons ons gewete voor Hom tot rus kan bring.

20 Maar selfs wanneer ons gewete ons sou aankla – God is groter as ons gewete en Hy weet alles.

21 Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan.

22 Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak.

23 En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het.

24 Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1JN/3-88deec424fc4143b3f012e8a8e8e072d.mp3?version_id=117—

Categories
1 JOHANNES

1 JOHANNES 4

Die Gees van die waarheid

teenoor die gees van misleiding

1 Geliefdes, moenie sommer almal glo wat daarop aanspraak maak dat hulle deur die Gees optree nie. Toets hulle om te bepaal of dié bepaalde gees sy oorsprong by God het, want daar het reeds baie vals profete die wêreld ingekom.

2 Hieraan herken julle die Gees van God: Elkeen wat erken dat Jesus Christus werklik ten volle mens geword het, is van God afkomstig.

3 Elkeen wat Jesus nie erken nie, is nie van God afkomstig nie. Dit is tipies van die antichris. Julle het mos gehoor dat hy aan die kom is, en hy is nou reeds in die wêreld aanwesig.

4 Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon.

5 Hierdie mense het die wêreld as oorsprong; daarom praat hulle uit ’n wêreldse oogpunt en luister die wêreld na hulle.

6 Ons is egter van God afkomstig; daarom luister dié wat God persoonlik ken, na ons. Elkeen wat nie van God afkomstig is nie, luister nie na ons nie. Dít is hoe ons weet wie die Gees van die waarheid het, en wie die gees van misleiding het.

Omdat God ons só liefgehad het,

moet ons ook mekaar liefhê

7 Geliefdes, laat ons mekaar

aanhou liefhê,

want volmaakte liefde

is van God afkomstig.

Elkeen wat só liefhet,

is uit God gebore

en ken God persoonlik.

8 Elkeen wat nie só liefhet nie,

ken God nie persoonlik nie

omdat God liefde self is.

9 Op hierdie manier het God

sy volmaakte liefde

aan ons bekendgemaak

toe Hy sy enigste Seun

na die wêreld toe gestuur het

sodat ons deur Hom

die lewe kan ontvang.

10 Dít is volmaakte liefde:

nie dat ons vir God

liefgehad het nie,

maar dat Hy ons liefgehad het

en sy Seun as versoeningsoffer

gestuur het

om ons sondes weg te neem.

11 Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê.

Wanneer God se liefde ten volle

verwesenlik word

12 Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons egter mekaar werklik aanhou liefhê, leef God in ons optrede en het sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom.

13 Hieraan weet ons dat ons in ’n hegte verhouding met Hom leef en dat Hy ook in ’n hegte verhouding met ons leef: aan sy Gees wat Hy aan ons gegee het.

14 Verder, ons het dit fyn raakgesien en ons hou aan daarvan getuig dat die Vader die Seun gestuur het as Verlosser van die mensdom.

15 Almal wat openlik erken dat Jesus die Seun van God is – God handhaaf ’n hegte verhouding met hulle en hulle met God.

16 Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ’n hegte verhouding met God en God met hulle.

17 Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag. Ons leef immers op dieselfde wyse as Christus in hierdie wêreld – sonder vrees.

18 Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie; volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volmaakte liefde bemeester nie.

Ons liefde vir God word sigbaar

in ons liefde vir ons naaste

19 Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.

20 As enigeen beweer: “Ek het God lief,” maar ’n broer of suster haat, is só ’n persoon ’n leuenaar, want as ons ’n broer of suster wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie.

21 Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang: As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1JN/4-2287cdabdb94471e6042e6798c4e4931.mp3?version_id=117—

Categories
1 JOHANNES

1 JOHANNES 5

Geloof in die Seun van God

oorwin die wêreld

1 Elkeen wat glo en bely dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook sy kinders lief.

2 Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en sy opdragte uitvoer.

3 Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie,

4 want elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof.

5 Wie anders kan dit wees wat die wêreld verower as die een wat bely dat Jesus die Seun van God is?

6 Dit is Hy wat deur die water en die bloed gegaan het, nie slegs deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat daaroor getuienis aflê omdat die Gees die waarheid is.

7 Daarom is daar dié drie wat getuienis aflê:

8 die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens.

9 As ons dan die getuienis van mense as betroubaar aanvaar – die getuienis van God dra soveel groter gewig. Hierdie getuienis kom van God af; sy getuienis oor sy eie Seun staan vas.

10 Almal wat glo in die Seun van God, dra dié getuienis in hulle eie hart; wie nie glo nie, het God as ’n leuenaar uitgemaak omdat hulle nie glo in die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het nie.

11 En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ’n hegte verhouding met sy Seun.

12 Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie.

Slot: Leef uit julle sekerhede

13 Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God.

14 Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.

15 As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan.

16 As jy sien dat jou broer of suster aanhou sonde doen – sonde wat nie tot die dood lei nie – moet jy ernstig bid en God sal aan hulle lewe gee. Dit geld vir dié sondes wat nie tot die dood lei nie. Daar is ook sonde wat tot die dood lei; ek sê nie dat jy daarvoor moet bid nie.

17 Elke optrede wat nie reg is nie, is sonde, maar nie elke sonde lei tot die dood nie.

18 Ons leef egter met die wete dat elkeen wat deur God verwek is, nie aanhou sonde doen nie. God bewaar dié een wat uit Hom gebore is en die bose kry nie vatplek aan hom nie.

19 Ons weet dat ons van God afkomstig is en dat die hele wêreld in die mag van die bose vasgevang lê.

20 Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe.

21 Kinders, loop tog wakker vir die afgode!

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1JN/5-d250df330386349e9b55b08b119c4bf5.mp3?version_id=117—

Categories
2 JOHANNES

2 JOHANNES 1

1
Die briefskrywer, geadresseerdes

en seëngroet

Dié brief kom van die ouderling en word gerig aan die vrou wat uitgekies is; dit gaan ook aan haar kinders wat ek werklik liefhet – nie net ek nie, maar ook almal wat ’n persoonlike belewenis van die waarheid het.

2 Dié waarheid het in ons stewig inslag gevind en sal vir altyd by ons wees.

3 Mag die genade, ontferming en vrede wat van God die Vader af kom, en van sy Seun, Jesus Christus, met ons wees – ons wat in ’n hegte verbintenis met die waarheid en die liefde leef.

Die waarheid moet jou leefstyl

bepaal

4 Ek was baie bly toe ek van jou kinders raakgeloop het wat in ’n hegte verbintenis met die waarheid leef volgens die opdrag wat ons van die Vader ontvang het.

5 En nou dring ek daarop aan, geagte Vrou, dat ons moet aanhou om mekaar lief te hê. Dit is nie asof ek ’n nuwe opdrag aan julle voorhou nie, maar ’n oue wat ons van die heel begin af het.

6 Liefde bestaan daarin dat ons moet aanhou om volgens sy opdragte te leef. Dié opdrag vra dat ons in ’n hegte verbintenis daaraan moet bly leef, soos julle van die heel begin af gehoor het.

7 Baie verleiers het die wêreld binnegedring. Hulle hou aan ontken dat Jesus Christus ’n ware mens van vleis en bloed geword het. So ’n persoon is die verleier en die antichris.

8 Wees op die uitkyk vir sulke mense sodat ons nie sal verloor waarvoor ons baie hard gewerk het nie, maar eerder die volle beloning sal ontvang.

9 Elkeen wat die leer aangaande Christus verander, het nie deel aan God nie. Wie in ’n hegte verbintenis met dié leer leef, het deel aan die Vader en die Seun.

10 As iemand na julle toe kom en nie hierdie leer met hom saambring nie, moet julle hom nie aan huis ontvang nie en julle moet hom nie eers groet nie.

11 Elkeen wat hom groet, vereenselwig hom met daardie persoon se bose optrede.

Slot

12 Ek het nog baie dinge om aan julle te skryf, maar ek wil dit nie met papier en ink doen nie, omdat ek hoop om by julle uit te kom en van aangesig tot aangesig met julle te praat, sodat ons ten volle gelukkig kan wees.

13 Die kinders van jou suster, die vrou wat uitgekies is, stuur vir jou groete.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/2JN/1-bc5789a56a6029614f311c16b76fcc00.mp3?version_id=117—

Categories
3 JOHANNES

3 JOHANNES 1

1
Die briefskrywer, geadresseerde,

en ’n versekering van

Dié brief kom van die ouderling en word gerig aan Gaius, die vriend wat ek opreg liefhet terwyl ons saam verbonde is aan die waarheid.

2 Geliefde vriend, ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan.

3 Ek was baie ingenome toe hier van die gelowiges aangekom het en getuig het dat jy jou aan die waarheid verbind het om in ’n hegte verbondenheid daaraan te lewe.

4 Ek ervaar geen groter blydskap as juis wanneer ek hoor dat my kinders in ’n hegte verbondenheid aan die waarheid lewe nie.

Omgee en ondersteuning vir die

werkers van die Here

5 Geliefde vriend, jy tree betroubaar op in wat jy ook al vir die gelowiges doen, selfs al is hulle vreemdelinge.

6 Hulle het voor die gemeente plegtig vertel van jou liefde. Jy doen goed deur hulle op hulle reise voort te help soos God dit wil hê.

7 Inderdaad, hulle gaan rond ter wille van die saak van Christus en ontvang niks van die ongelowiges nie.

8 Ons moet sulke mense ondersteun, sodat ons saam medewerkers kan word in diens van die waarheid.

9 Ek het hieroor aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes wat homself graag eerste stel, het ons gesag eenvoudig nie aanvaar nie.

10 Daarom, wanneer ek ook al kom, sal ek sy optrede onthou: Hy belaster ons deur bose gerugte te versprei, en asof dit nie genoeg is nie, ontvang hy selfs ook nie die gelowiges nie. Dié wat dit nog wil doen, verhinder hy en verban hulle uit die gemeente.

11 Geliefde vriend, moet tog nie dié slegte voorbeeld navolg nie. Volg liewer die goeie. Dié wat goed doen, is van God afkomstig; dié wat sleg doen, het God tot nou toe nie gesien nie.

12 Almal getuig positief oor Demetrius; ook die waarheid self onderskryf dit.

Ons getuig dit ook en jy weet dat ons getuienis betroubaar is.

Slot

13 Ek het regtig nog baie om aan jou te skryf, maar ek wil dit nie met pen en ink doen nie.

14 Ek hoop egter om jou gou te sien en persoonlik met jou te praat.

15 Mag jy vrede ondervind. Die vriende hier stuur vir jou groete. Dra asseblief my groete oor aan die vriende daar, aan elkeen persoonlik.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/3JN/1-07054234b4ca14796365ecfae1e919e4.mp3?version_id=117—

Categories
JUDAS

JUDAS 1

1
’n Brief van Judas om Christene

teen vals leraars te waarsku

Hierdie brief kom van Judas. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus en ’n broer van Jakobus.

2 Ek skryf aan julle vir wie God die Vader liefhet – julle wat deur Jesus Christus geroep is en veilig deur Hom bewaar word.

Mag God se ontferming, vrede en liefde steeds meer en meer julle deel word.

Die indringers onder julle is

arrogante bedrieërs, maar God

3 Geliefdes, ek was baie haastig om aan julle te skryf oor die verlossing wat ons met mekaar deel. Maar nou voel ek verplig om aan julle te skryf en julle aan te spoor om aan te hou stry vir die geloofsbelydenis wat eenmalig oorgelewer is aan God se mense.

4 Want sekere mense het hulle in julle geledere ingewurm, goddelose mense wat reeds lank tevore vir die oordeel bestem was. Hulle verwring die genade van ons God tot roekeloosheid en misken ons enigste Eienaar en Here, Jesus Christus.

5 Ek wil julle daaraan herinner, al weet julle al die dinge, dat die Here sy volk uit Egipte bevry het, maar later tog dié vernietig het wat nie wou glo nie.

6 En wat van die engele wat hulle nie gehou het by hulle perke van gesag nie, maar hulle eie woonplek verlaat het? God het hulle met ewige kettings in die donker onder bewaking gehou vir die oordeelsaankondiging op die groot dag.

7 Moet ook nie vir Sodom en Gomorra en die omliggende dorpe vergeet nie. Op dieselfde manier as die engele het hulle seksuele sondes gepleeg en gehunker na wesens anders as hulleself. As waarskuwende voorbeeld verduur hulle die straf van die ewige vuur.

8 Net so is dit nou met hierdie goddelose mense: terwyl hulle op droomvisioene aanspraak maak, besoedel hulle hulle eie liggame, verwerp hulle gesag en beledig hulle die glorieryke hemelwesens.

9 Selfs Migael, die aartsengel, het dit nie eers gedoen nie. Toe hy met die duiwel in ’n ernstige woordestryd oor Moses se liggaam gewikkel was, het hy dit nie gewaag om ’n beledigende oordeel teen hom uit te spreek nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal met jou afreken.”

10 Hierdie mense praat beledigend oor dinge wat hulle nie regtig verstaan nie. Hulle is eintlik soos redelose diere wat net hulle eie natuurlike instinkte ken waardeur hulle hulle eie vernietiging veroorsaak.

11 Ellende wag op hulle omdat hulle hulle op die pad van Kain bevind; deur dieselfde dwaling as Bileam het hulle hulleself verryk; deur dieselfde opstandigheid van Korag het hulle hulleself vernietig.

12 Hulle is soos vrot kolle by julle liefdesmaaltye terwyl hulle onbeskaamd saam feesvier en hulle ooreet; hulle is leë miswolke wat deur die winde verbygewaai word. Hulle is bome sonder vrugte in die herfsseisoen, dubbel-dood en ontwortel.

13 Hulle is woeste seegolwe wat hulle eie skandes bruisend laat opskuim; hulle is verdwaalde sterre; vir hulle is plek voorberei in die somber diepte van die ewige duisternis.

14 Oor hierdie mense het Henog, wat sewe geslagte ná Adam geleef het, geprofeteer en gesê: “Kyk, die Here kom met sy tienduisende heilige engele,

15 en Hy sal oor almal oordeel en die goddeloses skuldig bevind oor al hul goddelose optredes en oor al die skelwoorde wat die goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.”

16 Hierdie mense is klakouse en morpotte. Hulle rig hulle lewe in volgens hulle natuurlike drange, en met die mond raak hulle arrogante dinge kwyt; hulle vlei ander ter wille van eie voordeel.

Hou aan voortbou op die

fondament van julle geloof

17 Julle, geliefdes, moet egter die woorde wat die apostels van ons Here Jesus Christus lank terug gesê het, goed onthou.

18 Hulle het vir julle gesê dat daar in die eindtyd spotters sal wees wat hulle lewe inrig volgens hulle eie goddelose menslike drange.

19 Dit is juis daardie mense wat verdeeldheid veroorsaak; hulle leef volgens hulle natuurlike drange en het nie die Gees in hulle nie.

20 Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou op die fondament van julle allerheiligste geloof. Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees.

21 Hou julle liefdesband met God in stand. Verwag die ontferming van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe as einddoel.

22 Dié wat nog besluiteloos is, moet julle met ontferming behandel.

23 Red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Aan nog ander moet julle ontferming betoon, maar wees uiters versigtig dat julle nie ook deur hulle sondige luste besmet word nie, ja, verafsku dit.

24 Aan Hom wat magtig is om julle van val te bewaar, en julle sonder vlek met groot vreugde voor sy heerlike teenwoordigheid stelling te laat inneem,

25 aan die ewige God, ons Verlosser op grond van wat Jesus Christus vir ons gedoen het, behoort die heerlikheid, die grootheid, die krag en die mag van altyd af, ook nou en vir altyd. Amen.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/JUD/1-635b80be99f41e2cff0ab5e603f61b4a.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 1

1
Die openbaring van God deur

Jesus Christus

Dit is ’n openbaring wat van Jesus Christus af kom. God het dit aan Hom gegee om aan sy diensknegte bekend te maak wat binnekort moet gebeur. Hy het dit toe aan sy dienskneg Johannes gegee deur sy engel na hom toe te stuur.

2 Johannes het getuienis gelewer van alles wat hy gesien het: wat God gesê het en wat Jesus getuig het.

3 Geseënd is dié een wat die woorde van dié profesie lees, asook dié wat dit hoor en gehoorsaam wat daarin geskryf staan, want die tyd van beslissing is naby.

Johannes se brief aan die sewe

gemeentes in die provinsie Asië

4 Hierdie brief kom van Johannes en is gerig aan die sewe gemeentes wat in die provinsie Asië geleë is. Genade en vrede aan julle, van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is;

5 en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het en wat heers oor die konings van die aarde.

Aan Hom wat ons liefhet

en ons deur sy bloed

van ons sondes verlos het,

6 en ons laat deel in sy koninklike

regering,

aan Hom wat ons priesters vir God,

sy Vader gemaak het,

aan Hom behoort

die heerlikheid en die krag

vir ewig en altyd. Amen.

7 Kyk, Hy kom met die wolke! Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!

8 “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Johannes ontvang ’n visioen van

die verheerlikte Christus

9 Ek is Johannes, julle medegelowige. Deur ons hegte verhouding met Jesus deel ons saam in die swaarkry, maar ook in sy heerskappy en in die volharding. Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het omdat ek die boodskap van God en die getuienis wat deur Jesus gelewer is, gepreek het.

10 Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees en het reg agter my ’n harde stem, soos ’n trompet, hoor

11 sê: “Skryf wat jy sien in ’n boekrol neer en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

12 Ek het toe omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Nadat ek omgedraai het, het ek sewe goue kandelare gesien

13 en in die middel van die kandelare Iemand soos die Seun van die Mens. Hy het ’n kleed aangehad wat tot op sy voete gehang het en ’n goue band was om sy bors vasgemaak.

14 Sy kop en sy hare was wit soos wol, so wit soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam.

15 Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ’n smeltoond gloei en sy stem soos die geluid van baie waterstrome.

16 In sy regterhand het Hy sewe sterre vasgehou en uit sy mond het ’n skerp swaard met twee snykante gekom. Sy gesig het helder geskyn soos die son in al sy felheid.

17 Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ’n lyk. Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees, Ek is die Eerste en die Laaste,

18 en die Lewende. Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.

19 Skryf op wat jy gesien het: wat nou besig is om te gebeur en wat hierna gaan gebeur.

20 En dit is die geheim van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het en die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe voorgangers van die sewe gemeentes en die sewe kandelare is die sewe gemeentes self.”

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/1-6eb269b6b3b3e819ad9a1f55eb075216.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 2

Aan die gemeente in Efese wat

sy eerste liefde versaak het

1 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Efese: Só sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe kandelare rondstap:

2 Ek ken jou handel en wandel. Ek het ook jou harde werk en volharding raakgesien, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie. Jy het ook navraag gedoen oor dié wat sê dat hulle apostels is, maar dit nie is nie. Jy het toe uitgevind dat hulle eintlik leuenaars is.

3 Verder volhard jy en het jy ter wille van My baie verdra sonder om moeg te word.

4 Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het.

5 Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het. Anders kom Ek na jou toe en sal Ek jou kandelaar van sy staanplek af verwyder, as jy nie tot inkeer kom nie.

6 Maar daar is tog iets wat jy bly handhaaf het: Jy haat wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook haat.

7 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek laat eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God staan.

Aan die gemeente in Smirna wat

steeds geestelik ryk is

8 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Smirna: Só sê Hy wat die Eerste en die Laaste is, wat dood was, en weer lewe:

9 Ek ken jou swaarkry en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die leuentaal van dié wat sê dat hulle Jode is en dit nie regtig is nie, maar eintlik deel is van die sinagoge van Satan.

10 Hou op om bang te wees vir wat jy nog gaan ly. Kyk, die duiwel gaan sommige uit julle geledere in die tronk sit om julle regtig te toets. Julle sal ook swaarkry, vir tien dae lank. Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die kroon van die lewe gee.

11 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Elkeen wat aanhou oorwin, sal nié deur die tweede dood getref word nie.

Aan die gemeente in Pergamum

wat steeds lojaal en getrou bly

12 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:

13 Ek weet goed waar jy woon, waar die troon van Satan is. Tog het jy lojaal aan My gebly en nie die vertroue in My afgesweer nie, veral gedurende die tyd toe Antipas, my betroubare getuie daar by julle waar Satan woon, doodgemaak is.

14 Maar Ek het ’n paar klagtes teen jou: Jy verdra mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Dit is hy wat Balak beïnvloed het om ’n struikelblok in die pad van die Israeliete te plaas, naamlik om te eet van die afgodsoffervleis en om seksuele sondes te pleeg.

15 Net so is daar in jou geledere ook aanhangers van die leer van die Nikolaïete wat ook só optree.

16 Kom dan tot inkeer; anders kom Ek baie gou na jou toe en sal Ek teen hulle oorlog maak met die skerp swaard van my mond.

17 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Aan elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek van die weggesteekte manna gee, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam op gegraveer wat niemand anders ken nie behalwe die een wat dit ontvang het.

Aan die gemeente in Tiatira wat

moet vashou aan Christus

18 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God; Hy het oë soos ’n vuurvlam en sy voete is net soos gepoleerde koper:

19 Ek ken jou handel en wandel, ook jou liefde, vertroue, bediening en volharding. Ek weet ook dat jou handel en wandel nou selfs nog beter is as voorheen.

20 Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy die vrou Isebel laat begaan. Sy noem haarself ’n profetes. Sy onderrig en verlei my diensknegte om seksuele sondes te doen en om afgodsoffervleis te eet.

21 Ek het haar ’n bepaalde tyd gegun om tot inkeer te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar seksuele sondes.

22 Kyk, Ek pen haar op ’n siekbed vas, en die mense wat saam met haar aan seksuele wanpraktyke deelneem, gee Ek oor aan hewige swaarkry as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie.

23 Ek sal haar kinders doodmaak en al die gemeentes sal kennis neem dat dit Ek is wat gedagtes en bedoelings deursoek. Ek sal ook aan julle elkeen gee wat julle volgens julle handel en wandel verdien.

24 Vir julle ander in Tiatira wat nie deel het aan daardie leer nie en nie van die diepere dinge van Satan, soos hulle dit noem, ’n studie gemaak het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verantwoordelikheid nie,

25 behalwe om vas te hou aan wat julle het totdat Ek kom.

26 Aan die een wat aanhou oorwin en enduit my werke praktyk maak,

sal Ek bevoegdheid gee oor die

nasies.

27 Hy sal die nasies met ’n ysterstaf

beheer

en hulle soos kleipotte

stukkend breek.

28 Net soos Ek dit van my Vader ontvang het, sal Ek vir hom die môrester gee.

29 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/2-0958183d75a8c5511bc60c6eb6fffb4f.mp3?version_id=117—

Categories
OPENBARING

OPENBARING 3

Aan die gemeente in Sardis wat

dringend moet wakker word

1 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Sardis: Só sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre vashou:

Ek ken jou handel en wandel. Ek weet ook dat jy daarvoor bekend is dat jy lewe, maar jy is dood.

2 Word wakker en herstel wat nog oor is, wat op die drumpel van die dood is. Jou optrede vind Ek nie gepas in die teenwoordigheid van my God nie.

3 Probeer onthou hoe jy dit ontvang en gehoor het; gehoorsaam dit en kom tot inkeer. As jy nie wakker word nie, sal Ek skielik op jou afkom soos ’n dief, en jy sal nie weet presies wanneer Ek op jou afkom nie.

4 Maar jy het tog ’n klompie persone in Sardis wat nie hulle klere vuilgemaak het nie. Dit is hulle wat vir altyd saam met My in wit klere sal leef omdat hulle dit werd is.

5 Die een wat aanhou oorwin, sal net so met wit klere aangetrek word. En Ek sal sy naam nooit uit die Boekrol van die Lewe vee nie, maar voor my Vader en sy engele getuig dat hy van mý mense is.

6 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Aan die gemeente in Filadelfia

wat volhard en aan die getuienis

7 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Filadelfia. So sê die Heilige, die Betroubare –

Hy wat die sleutel van Dawid hou

en deure oopsluit, en niemand kan

dit toesluit nie;

en Hy sluit en niemand kan

dit weer oopmaak nie:

8 Ek ken jou handel en wandel. Kyk, Ek het ’n geopende deur voor jou gegee en niemand kan dit weer toemaak nie. Al het jy ook net beperkte krag, het jy my boodskap nogtans gehoorsaam en My nie verloën nie.

9 Kyk, daardie mense vanuit die geledere van die sinagoge van Satan wat beweer dat hulle Jode is, maar dit nie is nie maar lieg – Ek sal hulle verplig om voor jou voete neer te buig en te erken dat Ek jou liefgehad het.

10 Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets word.

11 Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.

12 Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hulle sal nooit weer daaruit weggeneem word nie. Ek sal op hulle die Naam van my God graveer, asook die naam van die stad van my God, naamlik die nuwe Jerusalem wat neerdaal uit die hemel, van my God af, asook my nuwe Naam.

13 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Aan die gemeente in Laodisea

wat louwarm geword het

14 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die getroue en betroubare getuie, die oorsprong van God se skepping:

15 Ek ken jou handel en wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Was jy tog maar net koud of warm.

16 Omdat jy so louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg.

17 Jy sê: “Ek is ryk; ek het skatryk geword en het aan niks behoefte nie.” Jy besef nie dat jy ellendig en bejammerenswaardig is nie, armlastig, blind en kaal.

18 Ek gee jou daarom die raad om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is sodat jy ryk kan word; en koop vir jou wit klere om aan te trek sodat die skande van jou naaktheid nie algemeen sigbaar word nie; en koop ook oogsalf om aan jou oë te smeer sodat jy kan sien.

19 Ek berispe en straf almal wat Ek liefhet. Kry lewe en kom tot inkeer!

20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die fees-ete saam geniet.

21 Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

22 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/REV/3-e711e9762f8901b37a4649e3fda638dc.mp3?version_id=117—