Categories
ESTER

ESTER 5

Ester doen soos sy gesê het

1 Drie dae later het Ester haar koninklike klere aangetrek. Sy het in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die saal waar die koning se troon is. Die koning was toe juis op sy troon met sy gesig na die ingang.

2 Die koning was bly toe hy koningin Ester daar in die voorhof sien staan. Hy het die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek om haar te verwelkom. Ester het nadergekom en aan die punt van die septer gevat.

3 Die koning vra haar toe: “Wat het jy op die hart, koningin Ester? Wat is jou versoek? Jy sal dit kry, selfs al is dit die helfte van my koninkryk.”

4 Toe sê Ester: “As dit die koning behaag, sal hy en Haman dan asseblief vandag na die onthaal kom wat ek vir u voorberei het?”

5 Die koning sê toe: “Gaan kry gou vir Haman dat ons kan doen wat koningin Ester vra.” Die koning en Haman is na die onthaal toe wat Ester reggemaak het.

6 Terwyl hulle besig was om wyn te drink, vra die koning vir Ester: “Wat is jou versoek? Jy sal dit kry. Wat het jy nodig? Al is dit ook die helfte van my koninkryk wat jy nodig het, sal ek dit vir jou gee.”

7 Ester het geantwoord: “My wens en my versoek is soos volg:

8 As die koning my goedgesind is en bereid is om te gee wat ek vra deur my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal voorberei. Dan sal ek my wens aan die koning bekendmaak.”

Haman en Mordegai

9 Haman is daardie dag in ’n goeie bui en vrolik daar weg. Toe hy egter by die ingang van die paleis op Mordegai afkom en hy weer nie opstaan om aan hom eer te bewys nie, of glad nie wys dat hy bang is vir hom nie, het hy woedend geword vir Mordegai.

10 Haman het hom egter beteuel.

Toe hy by die huis kom, het hy sy vriende en sy vrou Seres nadergeroep.

11 Haman het by hulle gespog oor hoe ryk hy is en oor hoe baie seuns hy het. Hy het uitgewei oor die koning wat hom so vereer het en hom bo al die ander hoë amptenare en onderdane van die koning bevorder het.

12 “En dit is ook nie al nie,” het hy verder gesê. “Koningin Ester het vandag net vir my saam met die koning uitgenooi na die onthaal wat sy gegee het. Boonop is ek uitgenooi om môre weer saam met die koning te eet.

13 Maar dit alles help my niks solank ek teen daardie Jood Mordegai in die poort van die paleis moet vaskyk nie.”

14 Sy vrou Seres en sy vriende stel toe voor: “Plant ’n paal van 23 meter hoog en vra môre-oggend vir die koning dat hulle Mordegai daaraan moet ophang. Jy kan dan met ’n vrolike hart saam met die koning na die onthaal toe gaan.”

Haman het gedink dit is ’n goeie voorstel. Hy het toe die galg laat inplant.

Categories
ESTER

ESTER 6

Slim vang sy baas

1 Die koning kon daardie nag nie slaap nie. Hy het beveel dat die boeke oor die geskiedenis van sy koninkryk gebring moes word sodat hulle vir hom daaruit kon lees.

2 Daarin is beskryf hoe Mordegai die twee haremamptenare Bigtan en Teres, wat diens as deurwagte gedoen het, se komplot om die koning te vermoor, aan die lig gebring het.

3 “Watter beloning of erkenning het Mordegai hiervoor ontvang?” wou die koning weet. Sy amptenare het geantwoord: “Hy het niks gekry nie.”

4 “Wie is daar in die voorhof?” wou die koning weet. Haman was juis besig om van die buitenste voorhof van die paleis af in te kom. Hy wou by die koning toestemming kry dat Mordegai aan die galg wat Haman vir hom laat oprig het, opgehang moes word.

5 Die amptenare van die koning sê vir hom: “Dit is Haman wat in die voorhof staan.”

“Laat hy inkom!” sê die koning.

6 Toe Haman inkom, vra die koning vir hom: “Wat dink jy moet gedoen word vir iemand wat die koning graag wil vereer?”

Haman het by homself gedink: “Vir wie anders sou die koning eerder wil vereer as vir my?”

7 Hy antwoord toe die koning: “As die koning iemand graag wil vereer,

8 moet hulle van die koning se klere bring wat hy self gedra het en die perd waarop die koning self gery het met die koning se embleem op sy voorkop.

9 Die klere en die perd moet vir een van die hoogste amptenare van die koning gegee word, en hy moet die klere aantrek vir die man vir wie die koning graag wil vereer. Die amptenaar moet dan die man op die perd laat ry en hom oor die stadsplein lei terwyl hy uitroep: ‘Dit is wat gedoen word met die persoon wat die koning graag wil vereer!’”

10 “Uitstekend,” sê die koning vir Haman. “Vat dadelik van my klere en my perd. Gaan doen dan soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis bly. Moet niks nalaat van alles wat jy gesê het nie.”

11 Haman het toe van die koning se klere gevat en ook sy perd en die klere vir Mordegai laat aantrek. Hy het hom op die rug van die perd laat sit en oor die stadsplein gelei terwyl hy voor hom uitroep: “Dit is wat gedoen word met die persoon wat die koning graag wil vereer!”

12 Mordegai is toe weer terug na die poort van die paleis toe, terwyl Haman haastig huis toe is, neerslagtig en verneder.

13 Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende vertel wat met hom gebeur het. Sy raadgewers en sy vrou Seres sê toe vir hom: “As Mordegai, voor wie jy vandag die knie moes buig, ’n Jood is, is jy nie teen hom opgewasse nie. Hy is beslis jou ondergang.”

Haman word tereggestel

14 Terwyl hulle nog besig was om met hom te praat, het die amptenare van die koning daar opgedaag om hom te kom haal vir die onthaal wat Ester sou gee.

Categories
ESTER

ESTER 7

1 Die koning en Haman het by koningin Ester aangekom om saam met haar te eet.

2 Terwyl hulle besig was om op die tweede dag wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is jou versoek, koningin Ester? Ek sal dit vir jou gee. Jy kan kry net wat jy wil hê, al is dit ook die helfte van my koninkryk.”

3 Koningin Ester antwoord toe: “As U Majesteit my genadig wil wees, en as dit vir u reg is, dan vra ek u asseblief om my en my volk se lewens te spaar.

4 Ek en my volk is verkoop aan hom wat ons wil doodmaak, ons wil uitwis en van die aarde af wil wegvee. As ons maar net as slawe en slavinne verkoop was, sou ek stilgebly het. Dit sou dan te onbenullig wees om die koning daarmee lastig te val.”

5 “Wie is dit wat so iets wil doen?” vra koning Ahasveros vir koningin Ester. “Waar is hy?”

6 Ester antwoord toe: “Ons vervolger en vyand is hierdie slegte Haman!”

Haman het asvaal van skrik voor die koning en koningin geword.

7 Die koning het woedend van die ete af opgespring en uitgegaan na die tuin van die paleis. Haman het by koningin Ester agtergebly om vir sy lewe te smeek. Hy het gesien dat dit verby was met hom by die koning.

8 Net toe die koning van die tuin van die paleis af terugkom na die vertrek waar die onthaal gegee is, kry hy Haman besig om op die bank waarop Ester sit, neer te val. Die koning skreeu toe vir hom: “Wil jy nou ook nog die koningin by my in my paleis verkrag?”

Die koning het bevel gegee en sy amptenare het Haman in hegtenis geneem.

9 Garbona, een van die koning se amptenare, sê toe vir hom: “Haman het by sy huis ’n paal laat inplant van 23 meter hoog om vir Mordegai, wat destyds die koning gered het, daaraan op te hang.”

Toe sê die koning: “Hang hóm daaraan op!”

10 Hulle het Haman toe opgehang aan die paal wat hy vir Mordegai laat oprig het. Die koning se woede het toe afgekoel.

Categories
ESTER

ESTER 8

1 Daardie selfde dag nog het koning Ahasveros alles wat Haman, die vyand van die Jode, besit het, vir koningin Ester gegee. Ester het vir die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is. Mordegai het na die koning toe gekom.

2 Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit vir Mordegai gegee. Ester het Mordegai in beheer van Haman se besittings aangestel.

’n Tweede proklamasie

3 Ester het toe nog ’n keer gewaag om met die koning te kom praat. Sy het huilend by sy voete neergeval en hom gesmeek om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, tot niet te maak.

4 Die koning het weer sy goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy het opgestaan en voor hom kom staan.

5 Sy het gesê: “As dit goed is vir die koning en u my goedgesind is, en dit vir u in orde lyk, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman, seun van Hammedata die Agagiet, terug te trek. Hy het daarin geskryf dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word.

6 Ek kan mos nie net toekyk wanneer my volk deur so ’n ramp getref word nie. Hoe kan ek toelaat dat my familie uitgeroei word?”

7 Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het alles wat Haman besit het vir Ester gegee en ek het hom aan sy eie galg laat ophang omdat hy die Jode wou uitroei.

8 ’n Proklamasie wat reeds in die naam van die koning uitgevaardig is en met sy seëlring bevestig is, kan nooit herroep word nie. Maar skryf julle nou ook ’n brief aan die Jode met julle plan. Skryf dit as ’n verdere proklamasie in my naam en verseël dit met my seëlring.”

9 Die sekretarisse van die koning is ontbied. Dit was op die 23ste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai vir die Jode, die amptenare van die koning, die goewerneurs en die leiers in die 127 provinsies van Indië af tot by Etiopië wou laat weet. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook vir die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf.

10 Mordegai het namens koning Ahasveros laat skryf en die briewe met die koning se seëlring laat verseël. Die briewe is met boodskappers op resiesperde uit die koning se stalle gestuur.

11 In die briewe is geskryf dat die koning aan al die Jode in elke stad die vergunning gee om bymekaar te kom om hulleself te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle en hulle kinders en vroue aanval, doodmaak en vernietig en uitroei. Hulle kon op hulle besittings beslag lê.

12 Die dag waarop hulle dit in al die provinsies van koning Ahasveros kon doen, was die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar.

13 ’n Afskrif van die proklamasie moes na elke provinsie gaan en as wet afgekondig word. Al die volke moes daarvan kennis neem. Die Jode moes reg wees om hulle op daardie dag op hulle vyande te wreek.

14 Die boodskappers op die perde uit die koning se stalle het toe, volgens die opdrag van die koning, haastig vertrek. Die proklamasie is tegelyk ook in die hoofstad Susan afgekondig.

15 Toe Mordegai van die koning af weg is, was hy geklee in ’n koninklike kleed van blou en wit linne, met ’n groot goue kroon op sy kop, en ’n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan was verheug en baie bly oor die proklamasie.

16 Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en hulle het aansien onder die ander volke gehad.

17 In elke provinsie en in elke stad waar die besluit en proklamasie van die koning afgekondig is, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het ’n feesdag uitgeroep en saam geëet. Baie mense uit die ander volksgroepe het Jode geword omdat hulle bang was vir die Jode.

Categories
ESTER

ESTER 9

Bedreiging word oorwinning

1 Op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar, het die twee proklamasies van die koning van krag geword. Dit was die dag waarop die vyande van die Jode gereken het om hulle te oorweldig. Dit het egter net andersom gebeur, want die Jode het die mense wat hulle haat, oorweldig.

2 Die Jode het oral in die stede waar hulle gewoon het en in al die provinsies van koning Ahasveros bymekaargekom om hulleself te verdedig teen almal wat hulle wou aanval. Niemand was teen hulle opgewasse nie, want al die volke was bang vir hulle.

3 Al die leiers in die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander in diens van die koning, het die Jode gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai.

4 Mordegai het opgang gemaak in die koning se hofhouding. Hy het in al die provinsies bekend geword. Hy het al hoe groter mag gekry.

5 Die Jode het hulle vyande met die swaard oorweldig. Hulle het onder hulle vyande gemaai.

6 In die hoofstad Susan het die Jode 500 mense doodgemaak.

7 Hulle het ook die tien seuns van Haman die seun van Hammedata, Parsandata, Dalfon, Aspata,

8 Porata, Adalja, Aridata,

9 Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata,

10 die vyande van die Jode, doodgemaak. Hulle het nie oorlogsbuit van hulle gevat nie.

11 Teen die aand van daardie dag het die koning gehoor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is.

12 Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode 500 mense doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle in die ander provinsies van my ryk reggekry het! Is daar nog iets meer wat jy wil hê? Jy sal dit kry. Is daar iets waarna jy nog soek? Dit sal vir jou gedoen word.”

13 Ester sê toe: “As dit vir die koning in orde is, laat dan die Jode in Susan toe om môre aan te gaan waarmee hulle vandag besig was. Laat ook die lyke van die tien seuns van Haman aan hulle pa se galg opgehang word.”

14 Die koning het ingestem dat dit mag gebeur. Hy het so ’n proklamasie in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is aan sy galg opgehang.

15 Die Jode wat in Susan bly, het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog ’n verdere 300 mense doodgemaak. Hulle het nog steeds nie hulle eiendom as buit gevat nie.

16 Die ander Jode in die provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het die juk van hulle vyand afgeskud en van hulle haters 75 000 mense doodgemaak. Hulle het egter niks wat aan hulle vyand behoort het, vir hulleself as oorlogsbuit gevat nie.

17 Dit was op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag van die maand het hulle gerus. Hulle het daarvan ’n dag gemaak waarop hulle feesmaaltye gemaak het en hulle oorwinning gevier het.

18 Die Jode wat in Susan gebly het, het op sowel die dertiende asook die veertiende dag bymekaargekom om te veg. Hulle het eers op die vyftiende van die maand tot rus gekom en daarvan ’n dag van feesviering en vreugde gemaak.

19 Dit is hoekom die Jode wat op die platteland en in klein dorpies sonder veiligheidsmure woon, op die veertiende van die maand Adar ’n jaarlikse vakansiedag van vreugde en feesviering hou waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur.

20 Mordegai het laat opteken wat gebeur het. Hy het briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, aan dié wat naby bly en dié wat ver is.

21 Hy het die Jode opdrag gegee om elke jaar op die veertiende en die vyftiende van die maand Adar fees te vier.

22 Hulle moet op daardie dae feesvier en bly wees en vir mekaar eetgoed stuur en geskenke vir die arm mense gee. Hulle moet dit in herinnering roep as die dae waarop die Jode van hulle vyande bevry is. Hulle vrees is in blydskap verander en hulle droefheid in feesviering.

23 Die Jode het die opdrag in Mordegai se brief aanvaar en dit as ’n vaste instelling begin vier.

24 Haman, die seun van Hammedata die Agagiet en vyand van die Jode, het planne gemaak om die Jode uit te roei. Hy het met die Pur, dit is die lot, beslis watter dag hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei.

25 Toe Ester egter na die koning gegaan het, het hy ’n brief laat skryf om Haman se bose plan teen die Jode op sy eie kop te laat neerkom. Hy en sy seuns is aan hulle eie galg opgehang.

26 Dit is hoekom hierdie feesdae Purim genoem word, in aansluiting by die woord Pur. Na aanleiding van alles wat Mordegai in daardie brief geskryf het en alles wat hulle gesien en belewe het,

27 het die Jode hulleself en hulle nageslag onherroeplik daartoe verbind om nooit na te laat om elke jaar hierdie twee dae te vier nie. Dit moes elke jaar op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd gebeur.

28 Hierdie dae moes deur elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad herdenk en onderhou word. Hierdie dae van die Purim mag nooit in die Joodse gemeenskap oorgeslaan word nie. Hulle nageslag mag nooit daarvan vergeet nie.

29 Koningin Ester, die dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het saam en met hulle volle gesag ’n tweede brief geskryf om die reëlings oor die Purim te bevestig.

30 Mordegai het afskrifte van die brief aan al die Jode in die 127 provinsies van koning Ahasveros gestuur om hulle heil en voorspoed toe te wens.

31 Die briewe het hulle beveel om die dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle en hulle nakomelinge hulle daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep.

32 Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in ’n boek opgeskryf.

Categories
ESTER

ESTER 10

Mordegai, die geliefde Jood

1 Koning Ahasveros het die inwoners van sy land en sy onderdane oorsee dwangarbeid laat verrig.

2 Al sy prestasies en die groot en magtige dinge wat hy reggekry het, en die verhaal oor die hoë pos waarin hy vir Mordegai aangestel het, is alles opgeteken in die geskiedenisboeke van die konings van Medië en Persië.

3 Die Jood Mordegai was net onder koning Ahasveros in rang. Hy was gerespekteer onder die Jode en baie gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die vooruitgang van sy volk beywer en die voorspoed van sy mense aan die hof bevorder.

Categories
JOB

JOB 1

1
Inleiding

Daar was ’n man met die naam Job. Hy het in die land Us gewoon. Hy het onberispelik geleef en was ’n man met integriteit. Hy het God gedien en nie die verkeerde gedoen nie.

2 Hy het sewe seuns en drie dogters gehad.

3 Hy het ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 500 spanne trekosse, 500 donkiemerries en baie slawe gehad – sowel mans as vroue. Hy was die rykste man in daardie omgewing.

4 Elke jaar wanneer een van sy seuns verjaar het, het hulle die ander broers en die drie susters genooi om saam te kom partytjie hou. Dan het hulle vrolik saam geëet en gedrink.

5 Ná so ’n partytjie, wat soms vir ’n hele paar dae aangehou het, het Job sy kinders gereinig. Dan het hy vroegoggend opgestaan en vir elkeen van hulle ’n brandoffer gebring. “Miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” So het Job elke keer gedoen.

Job se eerste toets

6 Eendag het die hemelwesens* voor die Here kom staan. Die aanklaer was tussen hulle.

7 “Waar was jy heeltyd?” vra die Here vir die aanklaer. Die aanklaer antwoord die Here: “Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat daar aangaan.”

8 Die Here vra toe vir die aanklaer: “Het jy vir Job opgemerk? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy aanbid My en vermy die kwaad.”

9 Die aanklaer sê toe vir die Here: “Ja, dit is so. Job dien die Here. Maar hy het goeie rede om dit te doen!

10 U het hom, sy huisgesin en sy eiendom nog altyd net beskerm. En U het hom voorspoedig gemaak in alles wat hy aanpak. Kyk net hoe ryk is hy!

11 Maar reik nou uit en vat alles wat hy het. Hy sal U verseker in u gesig vloek!”

12 “Goed, jy mag hom toets,” sê die Here vir die aanklaer. “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.” Die aanklaer is toe weg van die Here af.

13 Eendag het Job se seuns en dogters by hulle oudste broer se huis geëet en wyn gedrink.

14 Daar kom toe ’n boodskapper by Job se huis aan met die nuus: “Ons was aan’t ploeg met die osse, en die donkies het ook daar rond gewei.

15 Toe oorval skurke ons uit Skeba. Hulle het al die diere gesteel en al die werkers doodgemaak. Ek is die enigste een wat kon wegkom om dit vir u te vertel.”

16 Hy was nog besig met dié droewige verhaal toe ’n ander man by Job aankom met die nuus: “Weerlig het van God af uit die hemel geslaan* en al u skape en al die skaapwagters doodgeslaan. Ek is die enigste een wat oorleef het om dit vir u te vertel.”

17 Hy was nog besig om te praat toe ’n derde boodskapper by Job aangehardloop kom met die nuus: “Drie groepe Galdese rowers het al u kamele gesteel. Hulle het ook al u werkers doodgemaak. Ek is die enigste wat oorleef het om dit vir u te vertel.”

18 Hy was nog besig om vir Job van die tragedie te vertel toe nog ’n boodskapper met die nuus kom: “U seuns en dogters het partytjie gehou in die huis van hulle oudste broer.

19 Skielik was daar ’n baie sterk wind wat van die woestyn se kant af gewaai het. Dit het die huis van alle kante getref, en die huis het inmekaargeval. Al u kinders is op slag dood. Ek was die enigste wat oorleef het om dit vir u te vertel.”

20 Job het toe opgestaan. Hy het sy klere stukkend geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond voor God geval.

21 Hy het gesê:

“Naak het ek

uit my ma se skoot gekom,

en naak sal ek weer wees

die dag wanneer ek doodgaan.

Die Here het my alles gegee

wat ek gehad het,

en nou het Hy

dit alles weggeneem.

Prys die Naam

van die Here!”

22 In alles wat gebeur het, het Job nie gesondig nie en God nie verwyt nie.

Categories
JOB

JOB 2

Job se tweede toets

1 Eendag was die hemelwesens* weer voor die Here. Die aanklaer was ook tussen hulle.

2 “Waar was jy?” vra die Here vir die aanklaer.

“Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat gebeur,” sê die aanklaer vir die Here.

3 “Het jy vir Job raakgesien? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy dien My en doen nie die verkeerde nie. En hy hou aan om My te dien, al het jy My ook oorreed om sonder enige oorsaak aan hom skade te doen,” sê die Here vir die aanklaer.

4 Die aanklaer antwoord die Here: “Hy dien U maar net omdat U dit goed laat gaan met hom.* ’n Mens sal immers enigiets gee om sy lewe te red!

5 Maar tas hom aan en vat sy gesondheid weg, dan sal U sien hoe vloek hy U in u gesig!”

6 “Goed, doen met hom wat jy wil. Spaar net sy lewe,” sê die Here vir die aanklaer.

7 Die aanklaer is toe weg van die Here af. Hy het Job met pynlike swere getref. Sy hele lyf was oortrek van die swere.

8 Job het op die ashoop gaan sit en met ’n gebreekte potskerf sy swere gekrap.

9 Sy vrou vra hom: “Hoekom hou jy aan om die Here te dien? Vloek God en sterf!”

10 Job het haar geantwoord: “Jy praat nou soos ’n mens wat God glad nie ken nie. Ek het die goeie geskenke uit God se hand aanvaar. Moet ek nie nou ook die slegte aanvaar nie?” Job het steeds niks verkeerds gedoen of gesê nie.

Job se drie vriende

11 Drie van Job se vriende was Elifas uit Teman, Bildad uit Suag en Sofar uit Naäma. Hulle het gehoor van die tragedies wat Job getref het. Toe het hulle mekaar ontmoet en saam na Job gekom om hom te troos en te bemoedig.

12 Hulle het Job al van ’n afstand af gesien, maar hulle het hom nie eens herken nie. Toe het hulle hardop begin huil, hulle klere geskeur en stof op hulle koppe gegooi, so hartseer was hulle oor Job se situasie.

13 Daarna het hulle sewe dae en sewe nagte lank op die grond by Job gesit. Nie een kon ’n woord teenoor hom uitkry nie. Hulle kon sien dat Job se smart te groot is vir woorde.

Categories
JOB

JOB 3

Job praat vir die eerste keer

1 Ten einde laaste het Job begin praat. Hy het die dag waarop hy gebore is, vervloek.

2 Hy het gesê:

3 “As my geboortedag

tog nooit aangebreek het nie,

en die nag toe daar gesê is:

‘’n Seun is gebore.’

4 As daardie dag

tog donker gebly het

en God daarbo

dit nie raakgesien het nie,

en geen lig daardie dag

geskyn het nie!

5 Mag duisternis en donkerte

dit weer opeis

en ’n wolk dit oorskadu.

Mag donkerte die dag verskrik.

6 Mag diep duisternis daardie nag

wegneem.

Mag dit nooit getel word

as ’n dag in die jaar nie.

Mag dit nie tussen die maande

verskyn nie.

7 Mag daardie nag

onvrugbaar gebly het.

Mag dit vir niemand

enige vreugde bring nie.

8 “Mag mense wat dae vervloek,

ook hierdie dag vervloek,

so ook die mense wat die seemonster*

kan oproep.

9 Die sterre van daardie oggend

moes verduister gewees het.

Die dag moes tevergeefs

gewag het op lig

en nie die dag sien breek het nie.

10 Want dit het nie verhoed

dat ek gebore word nie,

het nie smart vir my weggesteek nie.

11 “Hoekom het ek nie

by geboorte gesterf

en omgekom

terwyl ek gebore is nie?

12 Hoekom was daar ’n skoot

om my op neer te sit,

twee borste waaraan ek kon drink?

13 Want dan sou ek in vrede

in die graf kon lê,

en rustig in die dood geslaap het

14 saam met konings

en raadgewers van die aarde

wat puinhope herbou het,

15 met vorste wat goud besit het

en huise vol silwer.

16 Hoekom is ek nie maar

in die grond weggesteek

soos ’n misgeboorte,

soos ’n doodgebore kind

wat nie die daglig gesien het nie?

17 Daar staak die goddeloses

die onrus,

en daar kan die vermoeides rus.

18 Gevangenes geniet hulle rus,

hulle hoor nie die stem

van die slawedrywer nie.

19 Daar is geringes

en vernames gelyk,

en die slaaf is vry van sy baas.

20 “Hoekom gee God lig aan mense

wat moeg is,

lewe vir die wat verbitterd is?

21 Hulle wens dat hulle

kan doodgaan,

maar die dood ontwyk hulle.

Hulle soek die dood

eerder as verborge skatte.

22 As hulle uiteindelik doodgaan,

is dit vir hulle

’n groot verligting en vreugde.

23 Hoekom moet mense

wat niks van die toekoms

verwag nie,

aanhou lewe,

mense vir wie God

aan swaarkry oorgegee het?

24 Versugting is my voedsel,

my kreune word uitgegiet

soos water.

25 Dit waarvoor ek gevrees het,

het oor my gekom.

Dit waarvoor ek bang was,

het nou met my gebeur.

26 Ek ken geen rus en vrede nie.

Daar is vir my

geen blaaskans meer nie,

net moeilikheid.”

Categories
JOB

JOB 4

Elifas reageer die eerste keer op

Job

1 Elifas die Temaniet

het Job geantwoord:

2 “Sal jy geduldig kan wees

sodat ek iets vir jou kan sê?

Geen mens kan stilbly nie.

3 Jy het self baie mense

wat moed verloor het,

moed ingepraat.

Jy het swakkes ondersteun.

4 Jou woorde het

almal wat geval het, versterk.

Jy het mense wat twyfel,

regop gehou.

5 En nou dat die moeilikheid

oor jou gekom het,

is jy verslae,

noudat dit jou getref het, is jy

gebroke.

6 Gee dit dan nie vir jou hoop

dat jy God aanbid het nie?

Moet jy nie juis nou glo

dat God sorg

vir mense wat Hom dien nie?

7 “Dink daaraan:

Het onskuldige mense

ooit vergaan?

Wanneer is die mens

wat God getrou dien,

al ooit vernietig?

8 My ondervinding is

dat mense

wat moeilikheid plant

en die bose saai,

dit ook sal oes.

9 Deur die asem van God

het Hy hulle vernietig.

Deur sy woede vergaan hulle.

10 Die gebrul van die leeu,

die gegrom van die roofdier,

het stilgeraak.

Die tande van die jong leeu

is uitgeslaan.

11 Sonder prooi

gaan die leeu dood,

en die welpies

loop verlore rond.

12 “Ek het dit eenmaal

in die geheim gehoor,

asof iemand

dit in my oor fluister.

13 Een nag, terwyl ander slaap,

het ek dit gesien

in ’n gesig wat my verskrik het.

14 Ek was bang.

Ek het gebewe van die skok.

15 ’n Windvlaag

het by my verby getrek,

en die hare van my lyf

het orent gaan staan.

16 Iets het voor my gestaan,

maar ek kon nie uitmaak

watter vorm dit het nie.

Iets het voor my verskyn

en ’n veraf stem het gepraat:

17 ‘Kan ’n sterflike mens

regverdig wees

voor sy Maker,

en ’n blote mens

rein wees voor sy Skepper?’

18 Selfs sy eie hemelse dienaars

kan God nie vertrou nie.

Selfs sy boodskappers

is voor Hom vol gebreke.

19 Hoe kan Hy ons vertrou

wat van klei gemaak is?

Ons is van stof gemaak,

en word papgedruk,

so maklik soos ’n mot.

20 Tussen oggend en aand

word hulle vernietig,

onopsigtelik

vergaan hulle vir altyd.

21 Hulle tentpenne word uitgetrek,

en hulle sterf

sonder om wysheid te leer.”