Categories
TITUS

TITUS 2

Bevorder die gesonde leer en ’n

leefstyl wat daarby pas

1 Maar jý moet die soort leefstyl bevorder wat die gesonde leer weerspieël.

2 Leer die ouer mans om selfbeheersing te beoefen, om respek te verdien, en om verstandig te lewe. Hulle moet ’n gesonde geloof hê en vervul wees met liefde en geduld.

3 Net so moet jy ook die bejaarde vroue onderrig om só te leef soos dit iemand betaam wat aan die Here toegewy is. Hulle moet nie rondloop en skinder nie, ook nie aan wyn verslaaf wees nie. Hulle moet liewer goeie dinge vir ander leer.

4 Hierdie bejaarde vroue moet die jong vroue leer om hulle mans en kinders lief te hê

5 en om met selfbeheersing en rein te leef, om goeie tuisteskeppers te wees wat onderdanig is aan hulle eie mans. Dan sal die boodskap van God nie belaster word nie.

6 Net só moet jy die jonger mans aanmoedig om met selfbeheersing te lewe

7 in alles. Jy moet ’n goeie voorbeeld stel, suiwerheid in die leer handhaaf,

8 met gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal die teenstanders beskaamd staan omdat hulle dan niks slegs oor ons te sê het nie.

9 Die slawe moet in alle opsigte aan hulle eie eienaars onderdanig wees en hulle tevrede hou. Hulle moet nie teëstribbel of

10 steel nie, maar toon dat hulle goed en ten volle betroubaar is. Op só ’n manier sal hulle in alles wat hulle aanpak, die onderrig oor ons Verlosser aantreklik maak.

11 Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword.

12 Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, volgens die wil van God en toegewyd aan Hom, in die huidige tyd te leef.

13 Ondertussen sien ons daarna uit dat die wonderlike hoop wat ons koester, ’n werklikheid sal word en dat die heerlikheid van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, sigbaar sal word.

14 Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.

15 Oor hierdie dinge moet jy praat. Met gesag moet jy ook bemoedig en teregwys. Moenie toelaat dat iemand jou geringskat nie.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/TIT/2-cba63e37b9c102ab83997561a550096a.mp3?version_id=117—

Categories
TITUS

TITUS 3

1 Herinner die mense om hulle aan die regeerders en gesagsinstansies te onderwerp. Hulle moet aan hulle gehoorsaam wees, altyd gereed om te doen wat goed is.

2 Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie bakleierig wees nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd saggeaard teenoor almal optree.

3 Eens op ’n tyd was ons ook dwaas en ongehoorsaam. Ons was verlei en verslaaf aan baie begeertes en allerlei bose plesiere. Ons het ons lewens deurgebring in boosheid en jaloesie. Ons was haatlik en het mekaar gehaat.

4 Toe het die goedheid

van God ons Verlosser

en sy liefde vir mense verskyn.

5 Hy het ons verlos,

nie op grond van wat ons gedoen het

vir ons vryspraak nie,

maar slegs op grond

van sy eie ontferming.

Dit het Hy vermag

deur die reiniging

van die weergeboorte

en deur die Heilige Gees

wat ons vernuwe.

6 Hy het die Gees ryklik

op ons uitgestort

op grond van wat Jesus Christus

ons Verlosser gedoen het.

7 Só is ons vrygespreek

deur sy genade,

en het ons erfgename geword

van die ewige lewe

waarop ons hoop.

8 Hierdie boodskap is betroubaar. Daarom wil ek hê jy moet hierdie dinge met groot beslistheid handhaaf sodat hulle wat op God vertrou, hulle op goeie werke kan toespits, dit wil sê werke wat goed en voordelig vir mense is.

Paulus groet met ’n paar

praktiese wenke

9 Moet tog nie betrokke raak in dwase twisgesprekke en geslagsregisters of in twiste en struwelinge oor die wet nie, want dit is onproduktief en tevergeefs.

10 Vermy ’n skeurmaker wat na een of twee vermanings nog daarmee voortgaan

11 omdat jy weet dat sulke persone die spoor byster is. Deur hulle eie sonde veroordeel hulle hulleself.

12 Wanneer ek Artemas of Tigikus na jou toe stuur, moet jy jou bes doen om my in Nikopolis te ontmoet, want ek het besluit om daar te oorwinter.

13 Doen jou bes om Senas, die regsgeleerde, en Apollos met hulle reis te help sodat hulle niks kortkom nie.

14 Ons mense moet leer om nie onproduktief te leef nie. Hulle moet uitmunt in goeie dade om in ander se behoeftes te voorsien.

15 Almal hier by my stuur groete. Dra ons groete oor aan al die gelowiges wat liefde teenoor ons koester.

Mag die genade van God met julle almal wees.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/TIT/3-49934ad6329d2c582933f8a5a5664204.mp3?version_id=117—

Categories
FILEMON

FILEMON 1

1
Paulus en Timoteus skryf aan

Filemon en dié by hom, en stuur

Hierdie brief kom van Paulus. Ek is ’n gevangene ter wille van Christus Jesus. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my.

Ons skryf aan Filemon, ons geliefde vriend en medewerker,

2 asook aan ons suster Affia, aan Argippus, ons medesoldaat, en aan die gemeente wat in jou huis bymekaarkom.

3 Mag die genade en die vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

Dank aan God oor Filemon

4 Filemon, ek dank my God altyd wanneer ek in gebed aan jou dink,

5 want ek hoor van jou liefde vir al God se mense en van jou getrouheid aan die Here Jesus Christus.

6 Ek bid dat die geloof wat ons met mekaar deel, jou ’n diep insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen.

7 Broer, jou liefde het my bly gemaak en my bemoedig, omdat jy die harte van God se mense so dikwels verkwik het.

Ontvang Onesimus soos ’n

broer terug

8 In my verbondenheid aan Christus het ek volle vrymoedigheid om vir jou te sê wat jy moet doen.

9 Tog wil ek, Paulus, ’n ou man, en nou ook nog ’n gevangene ter wille van Christus Jesus, eerder ’n beroep op jou liefde doen.

10 Ek pleit by jou vir my kind Onesimus. Ek het hom hier in die tronk tot bekering gelei.

11 Hy was voorheen vir jou niks werd nie, maar nou is hy vir jou en ook vir my baie bruikbaar.

12 Ek stuur hom na jou toe terug. Hy is my hart se punt.

13 Eintlik sou ek, terwyl ek in boeie is omdat ek die Goeie Nuus verkondig, hom graag hier by my wou hou sodat hy my namens jou kan help.

14 Ek wou egter eers met jou daaroor praat sodat die goeie dinge wat jy doen, nie afgedwing word nie, maar vrywillig kan wees.

15 Dalk móés Onesimus ’n rukkie van jou af weg wees sodat jy hom vir ewig kan terugkry,

16 nie langer as ’n slaaf nie, nee, méér as ’n slaaf, as ’n geliefde broer! Dis wat hy veral vir my beteken; hoeveel te meer sal hy as mens én as Christen, dit nie vir jou beteken nie!

17 Aangesien jy my dan as vennoot beskou, verwelkom hom soos jy my sou verwelkom.

18 As hy jou enige skade aangedoen het, of jou iets skuld, sit dit op my rekening.

19 Ek, Paulus, skryf hier met my eie hand: “Ek sal betaal.” Ek hoef nie te noem dat jy my eintlik jou lewe skuld nie!

20 Asseblief, broer, bewys aan my hierdie guns omdat ons aan die Here verbonde is. Verkwik my hart omdat jy ’n Christen is.

21 Ek skryf aan jou in die vertroue dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet dat jy selfs méér as dit sal doen.

22 Terwyl ek nou vra, reël asseblief vir my verblyf, want ek hoop om danksy julle gebede vrygelaat te word.

Groete

23 Epafras, wat saam met my ’n gevangene ter wille van Christus Jesus is, stuur vir julle groete.

24 Ook Markus, Aristargus, Demas en Lukas, my medewerkers, stuur groete.

25 Mag die Here Jesus Christus se genade julle geestelik versterk!

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/PHM/1-147284e93f29cc0777b368b777ed24f9.mp3?version_id=117—

Categories
HEBREËRS

HEBREËRS 1

1
God het deur Jesus Christus op

’n unieke manier met ons

Vroeër het God dikwels en op baie maniere deur die profete met ons voorvaders gepraat.

2 Maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur sy Seun. God het Hom bestem om die erfgenaam van alles te wees; trouens, Hy het deur Jesus Christus ook die wêreld en alles wat daarin is, gemaak.

3 Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is. Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand. Nadat Hy gesterf het om ons van sondes te reinig, het Hy die posisie van eer en mag aan die regterhand van God ingeneem – dié God so vol majesteit wat in die hemel woon.

Jesus Christus as die Seun

oortref die engele verreweg

4 Jesus Christus is oneindig groter as die engele, net soos die erenaam van Seun wat Hy gekry het, baie heerliker is as dié van die engele.

5 God het tog nooit vir enige engel gesê wat Hy vir Jesus gesê het nie:

“Jy is my Seun.

Vandag het Ek jou Vader

geword.”

Op ’n ander plek sê God weer:

“Ek sal sy Vader wees,

en Hy sal my Seun wees.”

6 En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy:

“En laat al die engele van God

Hom aanbid.”

7 God sê van die engele:

“Hy verander sy engele in

stormwinde,

sy dienaars in vuurvlamme.”

8 Maar vir die Seun sê Hy:

“U troon, o God, staan vir altyd

onwankelbaar vas.

U koninklike heerskappy

word gekenmerk

deur regverdigheid.

9 U het lief wat reg is

en U haat wat verkeerd is.

Daarom het, o God, u God

U met jubelende vreugde

tot koning gesalf –

ver verhewe bo almal

saam met U.”

10 En verder:

“O Here, U het heel aan die begin

die fondamente

van die aarde gelê,

en die hemele is u handewerk.

11 Hierdie dinge sal vergaan,

maar U bly vir altyd.

Hulle sal almal

soos klere verslete raak.

12 Soos ’n oorkleed sal U hulle oprol;

soos ’n bo-kleed

sal hulle verander word.

Maar U bly steeds Uself

en U leef vir altyd.”

13 En God het nooit aan ’n engel gesê nie:

“Sit aan my regterhand

totdat Ek jou vyande

heeltemal aan jou

onderwerp het.”

14 Die engele is tog maar net diensknegte. Hulle is geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat verlos gaan word.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/HEB/1-7fc1fa6a1d2f59e2e5f3aa12f77affb7.mp3?version_id=117—

Categories
HEBREËRS

HEBREËRS 2

Waarskuwing teen wegdryf

1 Ons moet dus baie styf vashou aan die boodskap wat ons gehoor het sodat ons tog nie dalk wegdryf nie.

2 Die woord wat God deur engele aan ons gegee het, het nog altyd onwrikbaar vasgestaan. Daarby is mense tereg gestraf vir elke oortreding van God se wet en elke daad van ongehoorsaamheid.

3 Hoe sal ons ontvlug as ons ons rug op so ’n groot saligheid draai – ’n boodskap wat ons Here Jesus eerste begin verkondig het en wat daarna deur dié wat Hom gehoor het, aan ons bekragtig is,

4 terwyl God dit nog verder bevestig deur tekens en wonderwerke, deur allerlei kragtige dade en deur gawes van die Heilige Gees toe te bedeel soos Hy dit goedvind.

Jesus het ons leidsman en broer

geword om by ons te staan

5 God het ook nie aan engele die beheer van die toekomstige wêreld waarvan ons praat, toevertrou nie.

6 Inteendeel, iemand het êrens soos volg getuig:

“Wat is die mens

dat U aan hom sou dink,

’n mensekind

dat U aan hom sou aandag gee?

7 Vir ’n klein rukkie

het U hom minder gemaak

as die engele;

U het hom met heerlikheid

en eer gekroon.

8 U het alles onder

sy beheer geplaas.”

Wanneer die Skrif sê “alles” is onder die mens se beheer geplaas, beteken dit werklik álles. Tog sien ons nou nog glad nie dat alles reeds onder die mens se beheer is nie.

9 Maar ons sien wel vir Jésus. Vir “’n klein rukkie” is Hý “minder gemaak as die engele”, maar nou is Hy “met heerlikheid en eer gekroon” omdat Hy vir ons die doodslyding deurgemaak het. Ja, Hy het deur God se genade vir elke mens gesterf.

10 God – wat alles gemaak het en op wie alles gerig is – wou baie mense deel laat kry aan die heerlikheid. Daarom was dit net gepas dat Hy hulle Voorganger – naamlik Jesus wat vir hulle die pad tot verlossing sou oopmaak – deur lyding volkome vir sy taak gereedmaak.

11 Nou is dit so dat sowel Jesus – dié Een wat geheilig is – as almal wat deur Hom geheilig word, dieselfde Vader het. Dit is waarom Jesus nie huiwer om hulle sy broers en susters te noem nie.

12 Want Hy sê vir God:

“Ek sal u Naam bekendmaak

aan my broers en susters.

Ek sal in u gemeente u lof

besing.”

13 Hy sê ook:

“Ek sal vas op Hom vertrou.”

En verder:

“Hier is Ek saam met die kinders

wat God My gegee het.”

14 Omdat hierdie “kinders” mense van vlees en bloed is, het Jesus ook ten volle mens net soos hulle geword. Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was en Hy kon net deur self te sterf hom die nekslag toedien wat mag oor die dood gehad het – die duiwel.

15 Net op hierdie manier kon Hy dié vrymaak wat hulle lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het.

16 Ons weet almal dat Jesus gekom het om die nakomelinge van Abraham te help – nie die engele nie.

17 Daarom moes Hy ten volle soos ons – sy broers en susters – word om as ons ontfermende en betroubare Hoofpriester voor God priesterdiens te verrig en die sondes van God se volk te versoen.

18 Omdat Hy self versoekings verduur het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/HEB/2-663fe072ef07508f1ea83b40053e7238.mp3?version_id=117—

Categories
HEBREËRS

HEBREËRS 3

Jesus is Moses se meerdere

1 En nou, broers en susters – julle wat aan God behoort en vir die hemel bestem is – fokus nou skerp op hierdie Jesus van wie ons bely dat Hy Apostel en Hoofpriester is.

2 Hy was getrou aan God wat Hom aangestel het, net soos Moses getrou gedien het in God se hele huishouding.

3 Maar Jesus verdien baie groter erkenning as Moses, net soos die persoon wat ’n huis bou baie meer lof kry as die huis self.

4 Want elke huis het ’n bouer, maar God is die bouer van alles.

5 Moses was getrou in die hele huis van God, maar dan net as dienaar. Sy werk moes getuig van die waarhede wat God later sou uitspreek.

6 Maar Christus, as sy getroue Seun, was in bevel van die hele huis van God. Ons is daardie huis van God as ons met moed en vertroue bly vashou aan ons toekomsverwagting.

Ernstige waarskuwing teen ’n

houding van ongeloof

7 Julle moet dus luister wanneer die Heilige Gees die volgende sê:

“Vandag wanneer julle

sy stem hoor,

8 moet julle nie julle harte verhard

soos Israel gedoen het

toe hulle gerebelleer het nie,

toe hulle God se geduld

in die woestyn getoets het.

9 –

10 Dáár het julle voorvaders

my geduld beproef

ten spyte daarvan

dat hulle vir 40 jaar

my magtige dade aanskou het.

Daarom het Ek vir daardie geslag

kwaad geword

en gesê: ‘Hulle harte dwaal altyd

van My af weg.

Hulle wou nie doen

wat Ek van hulle verwag nie.’

11 Daarom het Ek in my toorn

onder eed verklaar:

‘Hulle sal nooit my land van rus

binnegaan nie.’”

12 Wees dan versigtig, broers en susters. Maak seker dat daar nie by enigeen van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof posvat wat julle vervreem van die lewende God nie.

13 Julle moet mekaar van dag tot dag aanspoor, ja, so lank as wat die “vandag” nog bestaan, om te keer dat een van julle deur die verleidelikheid van die sonde verhard word.

14 Want as ons enduit stewig bly vashou aan die vertroue op God waarmee ons oorspronklik begin het, het ons deelgenote geword van alles wat aan Christus behoort.

15 Daarom moet julle nooit die vermaning vergeet nie:

“Vandag wanneer julle sy stem

hoor,

moet julle nie julle harte verhard

soos Israel gedoen het

toe hulle gerebelleer het nie.”

16 Wie was daardie mense wat gerebelleer het alhoewel hulle God se stem gehoor het? Was hulle nie die mense vir wie Moses uit Egipte gelei het nie?

17 En vir wie was God 40 jaar lank kwaad? Was dit nie die mense wat gesondig het en wat in die woestyn omgekom het nie?

18 Oor wie het God met ’n eed verklaar dat hulle nie sy land van rus sal binnegaan nie? Was dit nie juis hulle wat aan Hom ongehoorsaam was nie?

19 Ons sien dus dat dit juis as gevolg van hulle ongeloof was dat hulle nie in die land van rus kon ingaan nie.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/HEB/3-d4828fa7bc8d6664b3d90455a28e0e7e.mp3?version_id=117—

Categories
HEBREËRS

HEBREËRS 4

’n Blye vooruitsig vir hulle wat

luister

1 God se belofte dat ons sy rus kan binnegaan, staan nog steeds. Daarom moet ons oppas dat dit nie dalk blyk dat een van julle langs die pad agtergebly het nie.

2 Want hierdie blye boodskap van ’n plek van rus het ons ook ontvang, net soos hulle. Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie.

3 Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan.

Ten opsigte van hulle wat nie geglo het nie, het God egter gesê:

“Daarom het Ek in my toorn

met ’n eed soos volg verklaar:

‘Hulle sal nooit my land van rus

binnegaan nie.’”

Dit is ten spyte van die feit dat God se rusplek alreeds gereed staan van die skepping van die wêreld af.

4 Ons weet dit is so, want die Skrif sê êrens van die sewende dag: “En God het op die sewende dag gerus van alles wat Hy gemaak het.”

5 In die ander gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.”

6 God se plek van rus is dus beskikbaar, maar dié wat destyds die goeie tyding ontvang het, kon as gevolg van hulle ongeloof nie daar ingaan nie.

7 Gevolglik het God weer ’n dag bepaal om sy rus binne te kan gaan. Daardie dag is vandag. God het dit aansienlik later deur Dawid aangekondig, naamlik:

“Vandag wanneer julle sy stem

hoor,

moet julle nie julle harte verhard

nie.”

8 Hierdie nuwe rusplek was nie die land Kanaän waarheen Josua die Israeliete gelei het nie. Anders sou God nie later van ’n ander plek van rus gepraat het nie.

9 Daar wag dus nog ’n heel spesiale rus vir God se volk.

10 Want almal wat in hierdie rus van God ingaan, sal self rus van hulle moeitevolle arbeid, soos God ook van sy eie skeppingswerk gerus het.

11 Kom ons span dan alles in om daardie rus binne te gaan sodat nie-mand van ons dalk hulle slegte voorbeeld van ongehoorsaamheid volg en ook omkom nie.

Voor God en sy woord lê ons oop

en bloot

12 Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard wat twee skerp kante het. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop.

13 Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie. Ons staan kaalgestroop en weerloos voor dié Een aan Wie ons verantwoording moet doen.

Ons Hoofpriester het verlossing

vir ons bewerk

14 Ons het dan nou ’n groot Hoofpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God. Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou.

15 Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie.

16 Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/HEB/4-ebfbf20ef2120978c4e494d3283680ec.mp3?version_id=117—

Categories
HEBREËRS

HEBREËRS 5

1 ’n Hoofpriester is iemand wat uit die mense geneem en vir die mense aangewys word om priesterdiens voor God te verrig. Hy lê dié mense se gawes voor God en bring ook offers vir hulle sondes.

2 Hy kan empatie hê met die onkundiges en dwalendes omdat hy self aan swakheid onderhewig is.

3 Hy is daarom verplig om nie net vir die volk nie, maar ook vir sy eie sondes offers te bring.

4 En niemand kan ’n hoofpriester word bloot omdat hy graag daardie ereposisie wil hê nie. Hy moet deur God daartoe geroep word – net soos in die geval van Aäron.

5 Net so het Christus ook nie vir Homself die waardigheid van hoofpriester toegeëien nie. Nee, Hy is aangewys deur die Een wat vir Hom gesê het:

“Jy is my Seun.

Vandag het Ek

jou Vader geword.”

6 En op ’n ander plek het God vir Hom gesê:

“Jy is priester vir ewig

volgens die priesterorde

van Melgisedek.”

7 Terwyl Jesus hier op aarde was, het Hy hard uitgeroep en met trane by God gesmeek en gepleit, want God sou Hom van die dood kon red. God het Hom verhoor deurdat Hy die angs vir die dood van Hom weggeneem het.

8 Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het.

9 Op hierdie manier het Hy volmaaktheid bereik sodat Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword.

10 So het God Hom dan amptelik verklaar as Hoofpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Julle moet geestelik volwasse

word en volhard

11 Aangaande Jesus ons Hoofpriester het ons nog baie om vir julle te sê. Dis egter moeilik om dit aan julle te verduidelik omdat julle so traag is om te leer.

12 As ’n mens dink aan hoe lank julle reeds gelowiges is, moes julle eintlik al self onderrig in die geloof gegee het. En nou het ’n mens werklikwaar weer nodig om julle die mees elementêre aspekte van die woord van God te leer!

Julle is soos babatjies wat nog net melk kan drink en nie vaste kos kan inneem nie.

13 Mense wat nog van melk leef, kan nie werklik saampraat oor die suiwer leer nie. Hulle is dan nog maar net kinders.

14 Vaste kos is bedoel vir grootmense – vir hulle wat in die skool van die lewe ingeoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/HEB/5-cc9b1381dcabd00c5e11cb348e36b1ab.mp3?version_id=117—

Categories
HEBREËRS

HEBREËRS 6

1 Kom ons hou op om oor en oor te konsentreer op die basiese aspekte van Christenskap. Kom ons gaan eerder verder en word geestelik volwasse. Dit behoort tog seker nie nodig te wees om nog ’n keer die fondament te lê deur te praat oor die noodsaaklikheid dat ons ons van ’n ongelowige leefwyse moet bekeer en in God moet glo nie.

2 Of oor die verskillende vorme van doop en die handoplegging, of die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie.

3 Daarom sal ons, as God dit toelaat, binnekort ons betoog voortsit.

4-6 Intussen moet julle besef dat dit onmoontlik is om hulle wat een maal deur God verlig is, maar daarna hulle rug op God gedraai het, weer tot inkeer te bring – hulle wat God se geskenk ervaar het, wat die Heilige Gees ontvang het, wat die lieflikheid van God se woord en die kragte van God se toekomstige wêreld beleef het. As hulle dan tog hulle rug op God draai, kan hulle nie weer tot inkeer gebring word nie, want wat hulleself betref, kruisig hulle die Seun van God opnuut, en hulle maak Hom openlik tot ’n bespotting.

7 As die grond die reën indrink wat gereeld daarop val en ’n goeie oes vir die landbouers voortbring, rus God se seën daarop.

8 Maar as dit net dorings en dissels oplewer, is dit nutteloos. God sal weldra sy vloek daaroor uitspreek en uiteindelik is dit bestem vir die vuur.

9 Maar, geliefdes, al praat ons so ernstig hieroor, is ons tog wat julle betref daarvan oortuig dat dit nie op julle van toepassing is nie. Ons is positief oor julle en glo dat julle verlos sal word.

10 God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie.

11 Dit is ons hartsbegeerte dat elkeen van julle enduit dieselfde entoesiasme sal vertoon sodat julle toekomsverwagting bewaarheid kan word.

12 Dan sal julle nie traag raak nie. Inteendeel, julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het.

God se beloftes staan

onwrikbaar vas

13 Neem byvoorbeeld God se belofte aan Abraham. Omdat daar niemand groter as Hy self was by wie God ’n eed kon aflê nie, het Hy ’n eed by Homself afgelê deur te sê:

14 “Ek sal jou vir seker ryklik seën en Ek sal aan jou ’n baie groot nageslag gee.”

15 En so het Abraham volgehou en begin ontvang wat God beloof het.

16 Mense lê gewoonlik ’n eed af by iemand wat belangriker as hulleself is. Vir hulle is die eed dan absoluut bindend. Daar kan geen dispuut daaroor wees nie.

17 Omdat God bo alle twyfel vir hulle wat die belofte ontvang het, wou bewys hoe onwrikbaar vas sy besluit staan, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. Hy het dus vir ons ’n belofte sowel as ’n eed gegee.

18 Hierdie twee dinge waarborg dat God sy woord sal hou. En so het ons wat onsself aan God toevertrou het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die vooruitsig wat vir ons wink.

19 Hierdie vooruitsig is soos ’n betroubare en stewige anker – ’n anker wat onbeweeglik vasgemaak is in die Allerheiligste van die hemelse heiligdom, net agter die binneste gordyn.

20 Dít is tog waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het – Hy wat ons ewige Hoofpriester geword het volgens die priesterorde van Melgisedek.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/HEB/6-77cfd21c1d21025b31503e7e811ca8b1.mp3?version_id=117—

Categories
HEBREËRS

HEBREËRS 7

Die priesterskap van Melgisedek

oortref dié van die Leviete

1 Hierdie Melgisedek was koning van die stad Salem en ’n priester van God die Allerhoogste. Toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings in ’n groot geveg verslaan het, het Melgisedek hom tegemoetgegaan en geseën.

2 Daarop het Abraham aan hierdie Melgisedek ’n tiende gegee van alles wat hy in die oorlog buitgemaak het. Sy naam Melgisedek beteken “koning van geregtigheid”. Hy is ook “koning van vrede” omdat die naam Salem “vrede” beteken.

3 Daar bestaan geen rekord van sy pa of ma of enige van sy voorouers nie – ook nie van sy geboorte of dood nie. Hy bly priester vir altyd en kan daarin vergelyk word met die Seun van God.

4 Oorweeg nou hoe belangrik hierdie Melgisedek moes gewees het. Selfs Abraham, die groot stamvader van Israel, het sy belangrikheid erken deur vir hom ’n tiende van sy oorlogsbuit te gee.

5 Die priesters, wat uit die nageslag van Levi is, word in die wet beveel om ’n tiende van die volk Israel in te vorder, alhoewel hulle hulle eie bloedverwante is en ook van Abraham afstam.

6 Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het nietemin ’n tiende van Abraham ontvang en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën.

7 Dit kan tog nie ontken word nie dat dit altyd die meerdere is wat die mindere seën.

8 In die geval van die Joodse priesterdom word tiendes aan sterflike mense betaal. Melgisedek is egter belangriker as hulle, want daar word van hom getuig dat hy voortlewe.

9 Ons kan dus so ver gaan om te sê dat, deur Abraham, Levi ook eintlik tiendes aan Melgisedek gegee het.

10 Want alhoewel Levi op daardie stadium nog nie gebore was nie, was hy reeds in Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.

Waarom Christus se

hoofpriesterskap dié van

11 En verder: as die Levitiese priesterskap God se plan kon verwesenlik – die volk het tog met die oog op hulle die opdrag ten opsigte van die tiendes ontvang – waarom was dit dan vir God nodig om ’n ander priester, naamlik een uit die priesterorde van Melgisedek, te voorsien, een wat nie tot die priesterorde van Aäron en die Leviete behoort nie?

12 Wanneer die priesterskap verander, moet daar noodwendig ’n aanpassing van die wet plaasvind om daarvoor voorsiening te maak.

13 Want die Een van Wie ons praat, behoort tot ’n ander stam, ’n stam waarvan niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14 Ons weet tog almal dat ons Here uit die stam van Juda afkomstig was en dat Moses nooit enigiets gerep het oor priesters uit daardie stam nie.

15 Dit alles maak dit des te meer duidelik dat as daar ’n ander priester sou kom wat met Melgisedek ooreenstemming vertoon,

16 Hy nie sou verskyn volgens die ou vereiste van fisiese afkoms nie, maar in die krag van onvernietigbare lewe.

17 Die psalmdigter het dit soos volg uitgespel toe hy van Christus gesê het:

“Jy is priester vir ewig

volgens die priesterorde

van Melgisedek.”

18 Ja, die ou vereiste ten opsigte van die priesterskap is tersyde gestel omdat dit oneffektief en nutteloos was;

19 die wet kon glad nie God se doel verwesenlik nie. En toe het ’n baie beter vooruitsig verskyn, een waardeur ons daadwerklik in God se teenwoordigheid kan verskyn!

20 Boonop het God met ’n eed bevestig dat Christus vir altyd priester sal bly – iets wat nie in die geval van gewone priesters gebeur het nie.

21 Dis net vir Christus wat Hy gesê het:

“Die Here het ’n eed afgelê

en Hy sal dit nie herroep nie:

Jy sal vir ewig priester bly.”

22 Op grond van hierdie kragtige eed het Jesus die borg geword wat instaan vir die effektiwiteit van hierdie uitnemender verbond.

23 Nog ’n verskil tussen Jesus en die Levitiese priesterskap is dat daar onder die ou stelsel baie priesters was. Die dood het verhinder dat iemand vir altyd kon aanbly.

24 Maar Jesus bly priester vir altyd; sy priesterskap word nooit op iemand anders oorgedra nie.

25 Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!

26 Hý is die baie spesiale soort hoofpriester wat ons nodig het, want Hy is heilig, sonder kwaad en onbevlek deur die sonde. Hy is nou verwyder van sondige mense en bevind Hom in die hoogste hemel.

27 Anders as die ander hoofpriesters, is dit nie vir Hom nodig om daagliks eers vir sy eie sondes en daarna vir die volk offers te bring nie. Want Hy het Homself eens en vir altyd aan die kruis geoffer!

28 Die mense wat deur die wet tot hoofpriesters aangewys word, gaan uiteraard gebuk onder menslike swakhede. Maar na die bedeling van die wet, het God sy Seun met ’n eed tot ewige en volmaakte Hoofpriester verklaar.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/HEB/7-d69047be84e65800c835ae5ebeee9ed8.mp3?version_id=117—