Categories
ROMEINE

ROMEINE 15

Stel ander se belange voorop

1 Dié van ons met ’n sterk geloof behoort die twyfels en vrese van ons medegelowiges met ’n sensitiewe geloof in aanmerking te neem en nie ons eie belange voorop stel nie.

2 Ons moet aan die beswil van ons naaste dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou.

3 Ook Christus het immers nie aan sy eie sin en wil voorkeur gegee nie. Soos die Skrif sê: “Dié wat U beledig, beledig ook vir My.”

4 Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou.

5 Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe – elkeen met die gesindheid van Christus teenoor julle medegelowiges.

6 Dan sal julle almal in ’n wonderlike eenheid van gees en uit een mond die lof toebring aan God, die Vader van Jesus Christus ons Here.

7 Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het. So sal julle God verheerlik.

8 Dink daaraan dat Christus vir die Jode ’n dienskneg geword het om te bewys dat God getrou bly aan die beloftes wat Hy aan hulle voorouers gemaak het.

9 Hy het ook gekom sodat die nie-Joodse nasies God kan verheerlik op grond van sy ontferming teenoor hulle. Dit is soos die Skrif sê:

“Ek sal U loof

onder die nie-Joodse nasies,

ek sal tot eer van u Naam

’n lofpsalm sing.”

10 Op ’n ander plek staan:

“Juig, nie-Joodse nasies,

tesame met die Here se volk.”

11 En weer:

“Prys die Here, alle nie-Joodse

nasies!

Loof Hom, alle volke!”

12 En Jesaja sê op sy beurt:

“Die erfgenaam van Dawid se troon

sal na vore kom

en Hy sal die heerskappy

oor die nie-Joodse nasies

oorneem.

Op Hóm sal die nie-Joodse nasies

hulle hoop vestig.”

13 Ek bid dat dié God wat aan ons ’n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

Paulus verduidelik waarom hy

hierdie brief skryf

14 My broers en susters, ek is self deeglik bewus van julle goeie kwaliteite. Julle is trouens self so goed op hoogte van dinge dat julle mekaar sou kon onderrig.

15 Ek was vrymoedig genoeg om sekere punte te beklemtoon alhoewel ek besef het dat dit eintlik net nodig was om julle geheue op te skerp. Ek het dit gedoen as iemand wat deur God se genade

16 ’n evangeliedienaar van Christus Jesus onder die nie-Joodse nasies is. Soos ’n priester in die heiligdom bedien ek die Goeie Nuus aan julle, en so word julle ’n offer aan God met ’n lieflike geur, ’n offer wat Hy verwelkom en wat deur die Heilige Gees aan Hom gewy is.

17 Deur Christus Jesus is dit my trots dat ek hierdie offer vir God mag aanbied.

18 Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die nie-Joodse nasies tot gehoorsaamheid aan die evangelie te bring nie. Hy het dit gedoen deur my prediking en my voorbeeld,

19 deur kragtige tekens en wonders – bewerk deur die krag van die Gees van God. Op hierdie manier het ek die Goeie Nuus aangaande Christus uitgedra vanaf Jerusalem en tot by Illirikum.

20 Dit was egter vir my ’n saak van eer om die Goeie Nuus net te bring waar Christus se Naam nog nie vermeld is nie – eerder as om voort te bou op die fondament wat iemand anders reeds gelê het.

21 Ek het die riglyn van die Skrif gevolg:

“Dié vir wie nog nooit van Hom

vertel is nie, sal sien;

en dié wat nog nooit van Hom

gehoor het nie, sal verstaan.”

22 Om die waarheid te sê, juis dít is die rede waarom my besoek aan julle so herhaaldelik vertraag is.

Paulus se reisplanne

23 Maar noudat ek my werk in hierdie gebiede voltooi het, en na al die baie jare wat ek gretig daarna uitgesien het om julle te besoek, wil ek dit doen

24 terwyl ek na Spanje onderweg is. Ek hoop om julle op my deurreis na Spanje te sien. Nadat ek my eers vir ’n tydjie aan die samesyn met julle verlustig het, kan julle my dan verder na Spanje toe stuur.

25 Maar voor my koms na julle toe, moet ek nou eers Jerusalem toe om ’n geskenk aan die gelowiges daar te gaan aflewer.

26 Julle sien, die gelowiges in Griekeland het op die goeie gedagte gekom om geld in te samel vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem.

27 Hulle het dit gedoen onder die besef dat hulle so baie aan daardie gelowiges verskuldig is. Omdat die Joodse gelowiges bereid was om soveel geestelike seëninge met die nie-Joodse nasies te deel, is die minste wat hulle kan doen om die Joodse gelowiges met materiële dinge te help.

28 As ek dit dan afgehandel het en alles rondom hierdie insameling veilig afgerond het, wil ek by julle langs na Spanje toe reis.

29 As ek na julle toe kom – dit weet ek vir seker – sal Christus vir my ’n ryke seën gee om vir julle te bring.

30 Broers en susters, in die Naam van ons Here Jesus Christus en omdat die Heilige Gees ons in liefde saambind, smeek ek julle dringend:

31 Worstel saam met my op julle knieë voor God dat Hy my sal red uit die hande van die ongelowige Jode in Jerusalem en dat die gelowiges daar positief sal wees oor die kollekte wat ek vir hulle bring.

32 Dan sal ek, as God wil, vol blydskap na julle toe kom om julle teenwoordigheid te geniet en uit te rus.

33 Mag God, wat aan ons sy vrede gee, met julle almal wees. Amen.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ROM/15-80d98cfb90432448092f6986ec94a1cf.mp3?version_id=117—

Categories
ROMEINE

ROMEINE 16

Paulus groet sy medegelowiges

in Rome

1 Ons suster Febe sal julle binnekort besoek. Ek beveel haar sterk by julle aan. Sy doen dienswerk in die gemeente van Kengreë.

2 Ontvang haar by julle op ’n manier wat by Christene pas. Wees vir haar beskikbaar en help haar in alles wat sy dalk nodig kry. Sy is ’n staatmaker wat al baie gelowiges ondersteun het – ook vir my.

3 Groete vir Priscilla en Akwila. Hulle was my medewerkers in Christus Jesus se diens.

4 Wat meer is, hulle het hulle lewens vir my op die spel geplaas. Dis nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die nie-Joodse nasies.

5 Groete ook aan die gemeente wat in hulle huis bymekaarkom.

Groete vir my geliefde vriend Epenetus. Hy was die heel eerste persoon in die Romeinse provinsie Asië wat tot die Christelike geloof gekom het.

6 Groete vir Maria wat so hard in julle belang gewerk het.

7 Groete ook vir Andronikus en Junia, my mede-Jode, wat saam met my in die tronk was. Hulle is hoogaangeskrewe by die apostels, en was reeds voor my Christene.

8 Gee ook my groete aan Ampliatus, my geliefde Christenvriend.

9 Groete ook vir Urbanus, ons medewerker in diens van Christus en my geliefde vriend Stagis.

10 Groete aan Apelles, beproefde Christen wat hy is. Groete aan die lede van die huis van Aristobulus.

11 Groete ook vir Herodion, my mede-Jood. Groete aan die Christene uit die huis van Narsissus.

12 Groete aan Trifena en Trifosa, ywerige werkers vir die Here, en aan ons geliefde vriendin Persis wat so hard vir die Here gewerk het.

13 Groete vir Rufus, uitverkorene van die Here, en sy ma wat ook vir my ’n ma was.

14 Dra ook my groete oor aan Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en die broers en susters daar by hulle.

15 My groete ook aan Filologus en Julia, Nereus en sy suster, asook aan Olimpas en al die ander Christene wat daar by hulle is.

16 Groet mekaar met die soen van Christelike liefde. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete.

Finale opdragte

17 Nog ’n laaste beroep op julle, broers en susters. Wees op die uitkyk vir mense wat verdeeldheid veroorsaak en Christene se geloof ondergrawe deur dinge te verkondig wat bots met dit wat julle geleer het. Vermy hulle.

18 Sulke mense dien nie vir Christus ons Here nie, maar hulle eie persoonlike belange. Deur hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle naïewe mense.

19 Almal weet egter van julle gehoorsaamheid aan die Goeie Nuus. Ek verheug my oor julle en ek wil graag hê dat julle duidelik sal besef wat goed is en dat julle nie slim sal wees wat die verkeerde betref nie.

20 Die God van vrede sal Satan binnekort onder julle voete verpletter. Mag die genade van ons Here Jesus met julle wees.

21 Timoteus, my medewerker, en Lucius, Jason en Sosipater, my volksgenote, stuur vir julle groete.

22 Ek, Tertius, wat hierdie brief neergeskryf het, stuur vir julle Christengroete.

23 Gaius sê ook vir julle groete. Hy is my gasheer en hy stel ook sy huis vir die hele gemeente beskikbaar. Erastus, die stadstesourier, stuur vir julle sy groete; ook ons broer Kwartus.

25 God is magtig om julle te laat vasstaan volgens die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus wat ek verkondig en ook volgens die plan wat God nou bekendgestel het. Hierdie plan het eeue lank geheim gebly,

26 maar is nou onthul. Soos deur die profete voorspel en in opdrag van die ewige God, is dit aan alle volke bekendgemaak sodat hulle kan glo en die Goeie Nuus kan gehoorsaam.

27 Aan dié God wat enkel en alleen die ware wysheid is, kom die heerlikheid toe, deur Jesus Christus, vir altyd en altyd. Amen.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ROM/16-c143363af7f371f6f729fbe920bece4e.mp3?version_id=117—

Categories
1 KORINTIËRS

1 KORINTIËRS 1

1
Paulus en Sostenes skryf aan

die gemeente in Korinte en stuur

Hierdie brief kom van Paulus. Deur die wil van God is ek geroep om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ons broer Sostenes skryf hierdie brief saam met my.

2 Ons skryf aan die gemeente van God in Korinte, julle vir wie God deur Christus Jesus vir Homself afgesonder en geroep het om sy eie mense te wees. En verder skryf ons ook aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat Jesus Christus ons Here aanbid.

3 Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

Paulus sê dankie aan God

4 Ek sê voortdurend vir God dankie vir julle, want Hy het julle, omdat julle met Christus Jesus verenig is, met genade oorlaai.

5 Deur Hom het God julle in elke opsig ryk gemaak – ryk in elke vorm van welsprekendheid en kennis.

6 Op hierdie manier is my boodskap aangaande Christus onder julle bevestig.

7 Gevolglik ontbreek dit julle aan geen enkele genadegawe nie en sien julle gretig uit na Jesus Christus ons Here se verskyning by sy wederkoms.

8 Hy sal julle enduit vas laat staan sodat, op die groot dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom, geen vinger na julle gewys sal kan word nie.

9 God sal dit beslis vir julle doen, want Hy hou altyd by sy woord. Dit is tog Hý wat julle geroep het om in hierdie wonderlike persoonlike verhouding met sy Seun, Jesus Christus ons Here, te deel.

Daar mag nie verdeeldheid wees

nie

10 En nou, broers en susters, pleit ek by julle in die Naam van ons Here Jesus Christus om eendragtig saam te staan – één in julle oortuigings. Daar mag nie groepvorming onder julle wees nie. Julle moet van harte saamstem in julle denke en in julle visie.

11 Lede van die huisgesin van Chloë het aan my vertel, my broers en susters, dat daar allerlei struwelinge onder julle voorkom.

12 Ek bedoel dat party van julle sê: Ek volg Paulus; ander weer: Ek volg Apollos; nog ander: Ek volg Petrus; en nog ander: Ek volg Christus.

13 Dink julle regtig Christus kan so in stukkies verdeel word?

Paulus is tog beslis nie vir julle gekruisig nie! Of is julle dalk in Paulus se naam gedoop?

14 Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie behalwe Krispus en Gaius,

15 want nou kan niemand beweer dat ek mense in my naam gedoop het nie.

16 O ja, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop. Verder weet ek van niemand anders wat ek gedoop het nie.

17 Julle moet verstaan dat Christus my nie in die eerste plek gestuur het om mense te doop nie; Hy het my gestuur om die Goeie Nuus te verkondig – en dit nie met allerlei woordkunsies nie, want daarmee verloor die kruis van Christus sy krag.

Die kruis getuig van Gód se

wysheid

18 Ek besef hoe belaglik die boodskap van die kruis moet klink vir hulle wat verlore gaan. Maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God.

19 Soos die Skrif sê:

“Ek sal die wyse mense

se wysheid tot niet maak;

en die skerpsinniges

se briljante idees

sal Ek van die tafel vee.”

20 Wat het dus geword van die filosowe, die boekgeleerdes, die debatvoerders van hierdie wêreld? God het bewys hoe inherent dwaas die wysheid van hierdie wêreld in werklikheid is.

21 Aangesien God in sy wysheid beskik het dat die wêreld Hom nooit deur menslike slimmigheid sou vind nie, het Hy dit goedgevind om deur die “dwaasheid” van ons prediking dié wat glo, te red.

22 Die Jode wil wondertekens hê om die waarheid van die Goeie Nuus te bevestig en die Grieke wil ’n vertoon van wysheid hê.

23 Maar ons verkondig die gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit skokkend en vir die nie-Jode is dit absolute dwaasheid.

24 Maar vir ons almal wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is die gekruisigde Christus die magtige kragwerking van God en die wonderlike wysheid van God.

25 Hier-die Goddelike “dwaasheid” is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike “swakheid” is oneindig sterker as enige menslike kragvertoon.

26 Broers en susters, dink maar net terug hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie.

27 Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dwaasheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges skaam te laat kry.

28 Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk, ja, wat vir die wêreld glad nie ’n faktor is nie, het God uitgekies om wat vir die wêreld wel belangrik is, heeltemal af te skryf.

29 Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie.

30 Dit is deur God alleen dat julle nou aan Christus Jesus behoort. Dit is deur Hom dat Jesus vir ons die wysheid van God geword het, die Een deur wie God ons vrygespreek en vir Homself geheilig en vrygekoop het.

31 Soos die Skrif dit stel:

“Die persoon wat graag wil spog,

mag net spog

oor wat die Here vir hom gedoen

het.”

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1CO/1-34aeb34f46c3a72de341d5e0ecc42520.mp3?version_id=117—

Categories
1 KORINTIËRS

1 KORINTIËRS 2

1 Broers en susters, toe ek destyds vir die eerste keer na julle toe gekom het, het ek nie ’n stortvloed woorde of indrukwekkende wysheid gebruik om aan julle God se groot geheim, naamlik die Goeie Nuus, te verkondig nie.

2 Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te konsentreer en veral op sy kruisdood.

3 Ek het na julle gekom in swakheid – angstig en vol huiwering.

4 My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het.

5 Dit het ek gedoen sodat julle geloof nie sou berus op menslike geleerdheid nie, maar op die krag van God.

6 Ja, wanneer ek onder geestelik volwassenes is, gebruik ek wel woorde van wysheid, maar dan ook nie die soort wysheid wat eie is aan hierdie wêreld of aan die heersers van hierdie wêreld wat self tot die verlede sal behoort nie.

7 Nee, die wysheid waarvan ons praat, is die diepsinnige wysheid van God wat voorheen geheim gehou is, wat God van ewigheid af daargestel het sodat ons die heerlikheid kan ontvang.

8 Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie.

9 Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:

“Wat geen oog gesien het;

wat geen oor gehoor het;

wat in niemand se hart

opgekom het nie –

dit het God voorberei

vir hulle wat Hom liefhet.”

10 Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het. Want die Gees deurvors alle dinge, ook God se diepste geheime.

11 Niemand sal ooit die diepste gedagtes van ’n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees. Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God.

12 Ons het die Gees ontvang wat van God uitgaan – nie dié van die wêreld nie – sodat ons kan besef watter wonderlike geskenke God aan ons gegee het.

13 As ons hierdie dinge aan julle vertel, gebruik ons nie woorde wat hulle oorsprong het in menslike slimmigheid nie, maar wat hulle oorsprong het by die Gees.

Ons gebruik woorde wat van die Gees kom om geestelike waarhede te verduidelik.

14 Die natuurlike mens kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ’n geestelike perspektief verstaan word.

15 Ons in wie die Gees is, verstaan al hierdie dinge, maar ander kan ons glad nie verstaan nie.

16 Hoe kan hulle ook? Want:

“Wie kan verstaan

wat die Here dink?

Wie kan Hom raad gee?”

Óns kan hierdie dinge egter verstaan, want ons is ingestel om soos Christus te dink.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1CO/2-5021c601b2f72871dda25b5652836577.mp3?version_id=117—

Categories
1 KORINTIËRS

1 KORINTIËRS 3

Paulus en Apollos is nie

opponente nie, maar deel van

1 Broers en susters, toe ek by julle was, kon ek nie met julle praat soos met geestelik volwassenes nie. Ek moes met julle praat soos met mense wat nog wêrelds is, soos met kindertjies in die Christelike geloof.

2 Ek moes julle met melk voed, nie met vaste kos nie, want julle sou nie iets sterkers kon verteer nie. Trouens, julle is ook nou nog nie gereed daarvoor nie,

3 want julle word nog steeds deur wêreldse neigings beheer. Julle is jaloers op mekaar en maak rusie. Is dit nie ’n bewys dat julle nog deur wêreldse neigings oorheers word nie? Julle tree op soos mense wat nie aan die Here behoort nie.

4 As die een sê: “Ek volg Paulus,” en die ander een sê: “Ek verkies Apollos,” tree julle dan nie op soos mense wat nie aan die Here behoort nie?

5 Wie is Apollos of Paulus nou eintlik dat julle so oor ons verdeel is? Ons is tog net diensknegte deur wie julle tot die geloof gekom het. Elkeen van ons het maar net die werk gedoen wat die Here aan ons toevertrou het.

6 My werk was om die saad te plant. Apollos moes dit natgooi. Maar God het laat groei.

7 Wie plant en wie natgooi, is nie belangrik nie. Die belangrike Een is God, want dit is Hý wat laat groei.

8 Die een wat plant en die een wat natgooi, werk saam en het een gesamentlike doel, alhoewel elkeen sy eie beloning sal ontvang in ooreenstemming met sy eie harde werk.

9 Ons is Gód se werkspan. Julle is Gód se saailand, Gód se gebou, nie ons s’n nie.

10 Op grond van die genade wat God aan my bewys het, het ek soos ’n meesterbouer die fondament gelê. Ander bou daarop voort. Maar elkeen wat op hierdie fondament bou, moet baie versigtig wees.

11 Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus.

12 As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels.

13 Daar kom egter ’n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.

14 Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.

15 Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ’n brand gered word.

16 Besef julle nie dat julle almal saam die tempel van God uitmaak en dat die Gees van God in julle as sy tempel woon nie?

17 As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom skade aandoen. God se tempel is immers heilig en julle is self daardie tempel.

18 Moenie julleself om die bos lei nie. As julle dink dat julle wys is volgens die standaarde van hierdie wêreld, sal julle eers dwaas moet word sodat julle werklik wys kan word volgens God se standaarde.

19 Want die wysheid van hierdie wêreld is by God dwaasheid. Soos die Skrif dit stel:

“God vang die slimmes

met hulle eie slinkse planne.”

20 En weer:

“Die Here ken die gedagtes

van die wyses –

hoe niksseggend hulle is.”

21 Moet julle dus nie daarop beroem dat julle volgelinge van een spesifieke leier is nie. Alles is immers julle s’n:

22 Paulus en Apollos en Petrus, die wêreld, die lewe en die dood, die hede en die toekoms. Alles behoort aan julle!

23 Maar julle behoort weer aan Christus, en Christus aan God.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1CO/3-73348c63e74b37abc9f3f1ba845b614c.mp3?version_id=117—

Categories
1 KORINTIËRS

1 KORINTIËRS 4

Paulus praat oor sy verhouding

met die Korintiërs

1 Dit beteken dat julle ons moet beskou as blote diensknegte van Christus. Ja, as mense wat God se diepsinnige planne moet help bestuur.

2 Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys.

3 Wat van my? Was ek betroubaar? Dis vir my werklik nie belangrik hoe julle of enige menslike regbank my beoordeel nie. Ek vertrou selfs nie eers my eie oordeel in hierdie opsig nie!

4 My gewete is skoon, maar daarmee is ek nog nie noodwendig skotvry nie. Die Hére se oordeel oor my is al wat saak maak.

5 Julle moet dus nie voortydig ’n oordeel vel voordat die Here kom nie. Hý sal sy lig laat skyn op die dinge wat in die donker verborge lê, en Hý sal die motiewe van ons harte aan die lig bring. Dan sal God aan elkeen die lof gee wat hom of haar toekom.

6 Broers en susters, ek het myself en Apollos as voorbeelde gebruik sodat julle van ons kan leer. As julle na die Skrif luister, sal julle nie oor julle leiers teenoor mekaar spog nie.

7 Wat maak jou beter as enige ander gelowige? Wat het jy wat God nie aan jou gegee het nie? En as dit dan aan jou gegee is, hoe spog jy dan asof jy op eie houtjie presteer het?

8 Julle is so absoluut selfvoldaan! Julle dink julle is al klaar skatryk! Sonder ons het julle al klaar konings geword! Ek wens dit was werklik die geval, want dan sou ons al saam met julle op die troon gesit het!

9 Soms lyk dit vir my of God aan ons wat apostels is, die heel agterste plek in die prosessie toegeken het. Ons is soos terdoodveroordeeldes wat in die arena moet sterf, ’n skouspel waarmee die hele wêreld spot – engele sowel as mense.

10 Ons toewyding aan Christus laat ons dwaas lyk, maar julle is mos die Christene wat weet! Ons is broos, maar julle is die sterkes. Julle is die mense van aansien, maar ons is die veragtes.

11 Tot nou toe ly ons honger en dors, ons is skamel aangetrek; ons word geslaan en het geen tuiste nie.

12 Ons moet swoeg deur met ons eie hande te werk. Ons seën dié wat ons uitskel. Ons is geduldig met hulle wat ons vervolg.

13 Ons bly vriendelik wanneer ons beskinder word. Ons het die uitvaagsels van die wêreld geword, almal se sondebokke. En so is dit nog steeds.

14 Wat ek skryf, bedoel ek nie kwetsend nie, maar om julle te vermaan soos ’n mens maak met kinders wat jy liefhet.

15 Want selfs al sou julle tienduisend ander leermeesters hê om julle omtrent Christus te onderrig, het julle net een geestelike vader. Ek het tog julle vader in Jesus Christus geword toe ek die Goeie Nuus aan julle verkondig het.

16 Daarom vra ek julle dringend: Volg my voorbeeld!

17 Ek het Timoteus juis om hierdie rede na julle toe gestuur – om julle hierin by te staan. Hy is my geliefde en betroubare kind in die Here. Hy sal julle herinner aan my Christelike optrede en onderrig, soos ek dit oral in elke gemeente doen.

18 Toe dit lyk of ek nie meer na julle toe sal kom nie, het party van julle arrogant geraak.

19 Ek daag egter sommer eersdaags by julle op, as die Here wil. Dan sal ek wel uitvind of hierdie arrogante persone maar net grootpraters is, en of hulle tog oor God se krag beskik.

20 Want in die koninkryk van God gaan dit nie om blote praatjies nie, maar om ’n lewe in die krag van God.

21 Wat verkies julle? Moet ek met ’n lat na julle toe kom, of in ’n gesindheid van liefde en vriendelikheid?

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1CO/4-c34624f94571f17757f5d3d924045a01.mp3?version_id=117—

Categories
1 KORINTIËRS

1 KORINTIËRS 5

Hoe die Korintiërs moet optree

in ’n geval van ernstige seksuele

1 Ek kon my ore byna nie glo om van die seksuele vergrype onder julle te hoor nie – daarby van so ’n ernstige aard dat dit selfs nie onder die ongelowiges voorkom nie. Ek moes verneem dat daar iemand in julle gemeente is wat met sy stiefma in sonde saamleef.

2 En dan is julle nog so trots op julleself! Pleks dat julle treur en toesien dat hierdie man wat sulke dinge aanvang, uit julle midde verwyder word!

3-4 Al was ek nie self daar saam met julle nie, is ek tog in die gees by julle en het ek, asof ek teenwoordig is, al klaar in die Naam van ons Here Jesus ’n oordeel uitgespreek oor die man wat so iets gedoen het. Julle moet ’n gemeentevergadering saamroep. Ek sal in die gees daar wees en die krag van ons Here Jesus sal ook saam met julle daar wees.

5 Dan moet julle daardie man aan Satan oorgee sodat sy sondige aard vernietig word, maar hyself verlos kan word op die oordeelsdag.

6 Dis erg dat julle nog oor julle spiritualiteit kan spog terwyl julle iets soos hierdie in julle midde toelaat. Besef julle nie dat as selfs net een persoon toegelaat word om so voort te gaan, almal binnekort aangetas sal wees nie, soos suurdeeg die hele deeg suur maak?

7 Verwyder hierdie slegte invloed onder julle uit sodat julle weer nuut en skoon kan wees, want dit is tog wat julle in wese is. Ook vir ons is daar immers ’n Paaslam geslag – Christus.

8 Kom ons vier dan fees, nie met die ou brood van sonde en onsedelikheid nie, maar met die nuwe brood van reinheid en waarheid.

9 In my vorige brief het ek vir julle geskryf dat julle nie met mense moet assosieer wat ’n onsedelike lewe lei nie.

10 Daarmee het ek hoegenaamd nie die ongelowiges van die wêreld bedoel wat ’n onsedelike lewe lei of gierigaards of swendelaars of afgodsdienaars is nie. Om dit reg te kry sou julle hierdie wêreld moes verlaat!

11 Wat ek bedoel het, is wat ek nou in hierdie brief bevestig: Julle moenie in die gemeente assosieer met iemand wat op Christenskap aanspraak maak en ten spyte daarvan ’n onsedelike lewe lei of ’n gierigaard of afgodsdienaar of kwaadsteker of dronkaard of swendelaar is nie. Julle moenie eers saam met so iemand eet nie.

12 Dis nie my taak om oor die buitestanders te oordeel nie. Maar dit is tog sekerlik julle verantwoordelikheid om te oordeel oor dié binne die gemeente wat hulle op hierdie manier skuldig maak.

13 Gód sal sy oordeel vel oor hulle wat buite staan. Maar die Skrif sê: “Julle moet die slegte persoon uit julle midde verwyder.”

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1CO/5-ee0e23e5fd32c6046a848811c9314ec6.mp3?version_id=117—

Categories
1 KORINTIËRS

1 KORINTIËRS 6

Vermy hofsake met

medegelowiges

1 Wanneer een van julle ’n geskil met ’n medegelowige het, gaan julle werklik so ver om ’n sekulêre hof om ’n beslissing te vra in plaas van julle medegelowiges?

2 Besef julle dan nie dat ons Christene eendag die wêreld gaan oordeel nie? Terwyl julle dan die wêreld gaan oordeel, beskou julle julleself dan onbevoeg om selfs die kleinste ou sakies te beoordeel?

3 Besef julle nie dat ons selfs oor engele gaan oordeel nie? Behoort julle dan nie oor gewone aardse verskille te kan oordeel nie?

4 As julle sulke alledaagse geskille het, waarom laat julle buitestanders daaroor uitspraak gee – mense wat nie eers in die gemeente gerespekteer word nie?

5 Ek sê dit om julle skaam te laat kry. Is daar dan regtig niemand in julle gemeente wat oor genoeg wysheid beskik om oor geskille tussen julle te beslis nie?

6 Maar nee, as gelowiges daag julle mekaar voor die hof en dit voor ongelowige regters!

7 Bloot die feit dat julle hofsake onder mekaar het, is al klaar vir julle ’n neerlaag. Hoekom dan nie maar die onreg ly en dit daarby laat nie? Hoekom laat julle julle nie maar eerder benadeel nie?

8 In plaas daarvan is julle die mense wat onreg doen en ander benadeel en julle doen dit nogal aan medegelowiges.

Julle moet seksuele en alle

ander sondes vermy

9 Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie. Mense wat ’n onsedelike lewe lei, afgodsdienaars, egbrekers, manlike prostitute en die mans wat met hulle omgaan,

10 diewe, gierigaards, drinkers, kwaadpraters, swendelaars – nie een van hierdie mense sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

11 Daar was ’n tyd toe party van julle presies so was, maar nou is julle sonde afgewas en God het julle aan Homself toegewy. Julle is vrygespreekte mense op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het.

12 Jy kan dalk sê: “Ek mag nou enigiets doen.” Maar ek sal daarop antwoord: “Nie alles is vir jou goed nie. Selfs al sê jy ‘ek mag enigiets doen’, mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie.”

13 Jy sê: “Kos is vir die maag en die maag is vir kos.” Dis waar, maar God sal eendag albei hierdie dinge tot niet maak. Ons liggame is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie. Hulle is daar vir die Here, net soos die Here sorg dra vir ons liggame.

14 God sal ons deur sy wonderlike krag opwek, net soos Hy ons Here opgewek het.

15 Besef julle nie dat ons liggame deel is van Christus nie? Sal ’n mens dan jou liggaam wat aan Christus behoort, met ’n prostituut verenig? Dit kan tog nie!

16 Of dink julle nie daaraan dat iemand wat homself aan ’n prostituut verbind, liggaamlik met haar een word nie? Die Skrif sê tog: “Die twee sal tot een liggaam verenig word.”

17 Daarteenoor word dié wat hulle aan die Here verbind, geestelik met Hom een.

18 Vlug dus weg van seksuele losbandigheid. Geen ander sonde beïnvloed ’n mens se liggaam so direk soos hierdie een nie. Want as jy seksuele losbandigheid bedryf, sondig jy teen jou eie liggaam.

19 Of verstaan julle nie dat julle liggame ’n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie,

20 want julle is teen ’n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1CO/6-ba9159229d866c14e255c72a86890e3e.mp3?version_id=117—

Categories
1 KORINTIËRS

1 KORINTIËRS 7

Riglyne vir die huwelik

1 Ek kom nou by die vrae wat julle in julle brief gestel het. Ja, ’n selibaatlewe is goed.

2 Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.

3 Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie.

4 Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra.

5 Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle julle meer volkome aan gebed kan toewy. Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing.

6 Ek gee vir julle my mening hieroor; ek bedoel dit nie as ’n absolute reël nie.

7 Eintlik sou ek wens dat almal – soos ek – sonder die huwelik sou regkom. Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander een weer ander.

8 Nou wil ek vir die ongetroudes en die weduwees sê: Dis beter om soos ek ongetroud te bly.

9 Maar as hulle nie selfbeheersing kan toepas nie, is dit beter om te trou as om deur seksuele begeerte verteer te word.

10 Vir die getroudes het ek ’n opdrag wat nie bloot van my kom nie, maar van die Here self. Dit is dat ’n vrou nie van haar man behoort te skei nie.

11 Maar as sy dit tog wel doen, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag die man ook nie van sy vrou skei nie.

12 Nou gaan ek met die res van julle praat alhoewel ek nie ’n direkte opdrag van die Here het nie. As ’n Christenman ’n ongelowige vrou het en sy vind dit goed om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie.

13 En as ’n Christenvrou ’n ongelowige man het en hy vind dit goed om by haar te bly, moet sy nie van hom skei nie.

14 Want die Christenvrou bring ’n atmosfeer van gewydheid oor haar ongelowige man en die Christenman bring ’n atmosfeer van gewydheid oor sy vrou. Anders sou julle kinders nie aan God toegewyd wees nie, maar nou is hulle.

15 (Maar as die ongelowige huweliksmaat daarop aandring om te skei, laat dit dan so wees. In sulke gevalle is die Christenbroer of -suster nie verplig om met die huwelik voort te gaan nie. God wil immers hê dat julle in vrede lewe.)

16 Wie weet, dalk help jy as Christenvrou jou man om verlos te word. Of wie weet, dalk help jy as Christenman jou vrou om verlos te word.

17 Elkeen van julle moet voortgaan in die lewensituasie wat die Here vir julle gegee het toe julle God se roepstem gehoor het. Dit is my opdrag aan al die gemeentes.

18 As jy byvoorbeeld reeds besny was toe jy geroep is, moet jy nie jou besnydenis ongedaan laat maak nie. As jy onbesnede was toe jy geroep is, moet jy jou nie nou laat besny nie.

19 Of jy besny is of nie – dis heeltemal onbelangrik. Wat wel belangrik is, is om God se opdragte na te kom.

20 Gaan dus voort soos julle was toe God julle geroep het.

21 Is jy ’n slaaf? Moet jou nie daaroor verknies nie – maar as jy wel jou vryheid kan verkry, gryp die geleentheid beslis aan.

22 En onthou, alhoewel jy ’n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy ’n vrygemaakte van die Here geword; en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy ’n slaaf van Christus geword.

23 God het julle teen ’n duur prys gekoop! Moenie slawe van mense word nie.

24 Dus, broers en susters, bly voor God in die omstandighede waarin julle was toe God julle geroep het.

25 Wat die ongetroude meisies betref, beskik ek nie oor ’n opdrag van die Here nie. Maar die Here het my begenadig om betroubare leiding te gee en daarom gee ek nou my mening aan julle deur.

26 Met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dink ek dis die beste dat julle bly soos julle nou is.

27 As jy aan ’n vrou verbind is, moenie die huwelik probeer beëindig nie. As jy ongetroud is, moenie ’n vrou probeer kry nie.

28 Maar as jy sou trou, doen jy nie sonde nie en as die ongetroude meisie sou trou, doen sy nie sonde nie. Ek wil julle egter die ekstra kwellinge spaar wat die huwelik meebring.

29 Dít wil ek vir julle sê, broers en susters, onthou die tyd wat nog oorbly, is kort. Daarom moet die getroude mans besef dat daar dinge is wat nog belangriker is as hulle huwelik.

30 Om bly of hartseer te wees, of dinge te kan aankoop mag nie in die pad staan van die Here se werk nie.

31 Dié wat gebruik maak van die dinge van hierdie wêreld, moenie daaraan geheg raak nie. Want hierdie bedeling gaan verby.

32 Ek wil hê dat julle in alles wat julle doen, vry moet wees van die kwellinge van hierdie lewe. ’n Ongetroude man is begaan oor die dinge van die Here; oor hoe hy die Here kan gelukkig maak.

33 Maar die getroude man is begaan oor wêreldse dinge, oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak.

34 Sy aandag is verdeeld. Net so kan ’n vrou wat nie langer getroud is nie of nog nooit getroud was nie, haar aandag op die Here toespits om met liggaam en siel aan Hom toegewy te wees. Die getroude vrou is egter oor wêreldse dinge begaan, oor hoe sy haar man kan gelukkig maak.

35 Ek sê hierdie dinge in julle belang, nie om allerlei beperkings op julle te lê nie. Ek wil hê julle moet, sonder dat iets julle aandag aftrek, fatsoenlik en toegewyd vir die Here lewe.

36 Maar as ’n jong man oordeel dat hy oneerbaar teenoor sy meisie optree as hy nie met haar trou nie, of as hy probleme het om sy passie te beheer, moet hy na sy goeddunke handel. Hy doen nie sonde nie. Laat hulle maar trou.

37 Maar as hy innerlik sterk staan en daar geen noodsaaklikheid bestaan om te trou nie; en as hy goeie selfbeheersing het en in sy hart klaar besluit het om sy meisie in haar ongehude staat te laat bly, doen hy ook goed.

38 Hy wat dus met sy meisie trou, doen goed. Maar hy wat nie trou nie, doen beter.

39 ’n Vrou bly aan haar man verbind vir so lank as wat hy lewe. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vry om met iemand van haar keuse te trou – mits hy ook ’n Christen is.

40 Ek is egter van opinie dat sy gelukkiger sal wees as sy ongetroud bly. En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1CO/7-330e23a7b52a0dddb143a334a53605b9.mp3?version_id=117—

Categories
1 KORINTIËRS

1 KORINTIËRS 8

Hoe gemaak met vleis wat aan

afgode geoffer is?

1 Kom ons praat nou oor vleis wat aan afgode geoffer is – ’n saak waaroor julle ook navraag gedoen het. Ons weet julle sê: “Ons het almal kennis oor hoe ons moet optree.” Kennis laat ’n mens belangrik voel; die liefde, daarenteen, bou ’n gemeente op.

2 As jy dink jy weet alles, het jy nog nie die ware kennis nie.

3 Maar as jy God liefhet, dan ken God jou en jy is vir Hom belangrik.

4 Wat dan die eet van afgodsoffervleis betref – wel, ons weet almal dat ’n wêreldse afgod eintlik een groot niks is en dat daar in werklikheid geen god is nie, behalwe die een ware God.

5 Selfs al sou daar, volgens sommige, gode in die hemel en op die aarde wees – ja, daar is inderdaad baie wat “God” en “Here” genoem word –

6 vir ons is daar net een God,

naamlik ons Vader

uit wie alles afkomstig is

en ons lewe is op Hom gerig.

En daar is net één Here,

naamlik Jesus Christus

deur wie alles bestaan

en deur wie ons lewe.

7 Maar nie alle gelowiges besef dit nie. Party is daaraan gewoond om te dink ’n afgod bestaan werklik. As hulle dan kos eet wat aan die afgode geoffer is, dink hulle dat hulle betrokke is by die verering van werklik bestaande wesens en hulle sensitiewe gewetens word met skuldgevoelens belas.

8 Onthou, dis nie kos wat ons nader aan God bring nie. Ons verloor niks as ons nie eet nie en ons wen niks as ons wel eet nie.

9 Maar wees versigtig dat jou vrymoedigheid om alles te eet nie jou medegelowiges met ’n sensitiewe gewete in hulle geloof laat struikel nie.

10 Julle sien, dit kan maklik gebeur dat iemand jou sien aansit vir ’n ete in ’n afgodstempel. Omdat jy die nodige kennis het, besef jy daar is niks daarmee verkeerd nie. Maar gaan jy nie daarmee jou sensitiewe medegelowiges aanmoedig om teen hulle gewete in afgodsoffervleis te gaan eet nie?

11 Dan gaan jou sensitiewe medegelowige deur jou danige kennis verlore – iemand vir wie Christus sy lewe gegee het.

12 So sondig julle teen Christus self wanneer julle teen julle broers en susters sondig deur hulle sensitiewe gewetens te laat seerkry.

13 Daarom – as iets wat ek eet ’n ander gelowige laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie. Ek wil nie aandadig wees aan die val van ’n medegelowige nie.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/1CO/8-3a1136b0f13206d4e17835f9bcae8fcc.mp3?version_id=117—