Categories
1 KONINGS

1 KONINGS 20

’n Onderonsie tussen Agab en

Ben-Hadad

1 Koning Ben-Hadad van Aram het sy leër opgeroep. Hy is gesteun deur 32 konings met hulle perde en strydwaens. Hulle het Samaria, die hoofstad van Israel, beleër en dit aangeval.

2 Ben-Hadad het boodskappers die stad in gestuur na koning Agab van Israel

3 en vir hom laat weet: “Ben-Hadad sê: ‘Jou silwer en goud behoort aan my, ook die mooiste van jou vroue en kinders.’”

4 “Dis goed so, my heer,” antwoord Agab terug. “Ek en alles wat ek besit, behoort aan u!”

5 Ben-Hadad se boodskappers het weer by Agab gekom en gesê: “Ben-Hadad laat weet: ‘Ek het reeds geëis dat jy jou silwer en goud, jou vroue en kinders vir my moet gee.

6 Maar môre omtrent hierdie tyd stuur ek my amptenare om jou paleis en die wonings van jou onderdane te deursoek. Hulle sal alles vat wat jy as waardevol beskou.’”

7 Die koning van Israel roep toe al die leiers van die land bymekaar en sê: “Let op hoe hierdie man nou moeilikheid soek! Ek het reeds ingestem toe hy my vroue en kinders, my silwer en goud opgeëis het.”

8 Die leiers en die hele volk sê egter: “Moenie luister nie, en moenie toegewings maak nie!”

9 Agab sê toe vir Ben-Hadad se boodskappers: “Sê vir my heer, die koning: ‘Ek sal vir u alles gee waarvoor u die eerste keer gevra het. Aan die laaste eis kan ek egter nie toegee nie.’” Die boodskappers het teruggegaan en die antwoord oorgedra.

10 Ben-Hadad stuur toe die volgende boodskap vir Agab: “Mag die gode onheil oor my bring as daar nog genoeg stof van Samaria oorbly dat ek vir elkeen van my manskappe ’n hand vol kan gee.”

11 Die koning van Israel antwoord hom: “Hulle sê: ’n Soldaat wat nog aantrek vir die geveg moenie spog soos een wat alreeds oorwin het nie.”

12 Toe Ben-Hadad hierdie antwoord hoor, was hy en die ander konings besig om in die tente te drink. “Maak julle klaar om aan te val,” sê Ben-Hadad vir sy offisiere. Hulle het toe voorberei vir die aanval.

Agab oorwin Ben-Hadad

13 ’n Profeet het na koning Agab toe gekom en vir hom gesê: “Dit is die boodskap van die Here: ‘Sien jy hierdie groot menigte? Ek sal hulle vandag in jou mag oorgee. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.’”

14 Agab vra toe: “Hoe sal die Here dit doen?”

Die profeet het geantwoord: “Dit is wat die Here sê: ‘Deur die jong soldate van die distrikshoofde.’”

“Wie moet eerste aanval?” vra Agab.

“U moet,” antwoord die profeet.

15 Agab het toe die jong soldate van die distrikshoofde opgestel. Daar was 232 van hulle. Hy het ook die res van sy leër van 7 000 man agter hulle opgestel.

16 Teen ongeveer die middag, terwyl Ben-Hadad en die konings van die 32 bondgenote nog besig was om in hulle tente te drink,

17 het die jong soldate van die distrikshoofde aan die voorpunt uit die stad opgeruk. Soos hulle naderkom, is Ben-Hadad ingelig: “Daar kom troepe uit Samaria.”

18 “Of hulle nou kom vir vrede of vir oorlog, vang hulle lewendig!” beveel Ben-Hadad.

19 Teen hierdie tyd het die jong soldate van die distrikshoofde reeds uit die stad getrek, met die leër agter hulle aan.

20 Elke Israelitiese soldaat het sy Aramese opponent doodgemaak. Die hele Aramese leër het paniekbevange gevlug, met die Israeliete agter hulle aan. Koning Ben-Hadad en ’n klompie ander het egter op perde gevlug.

21 Die koning van Israel het uit die stad gekom en die perderuiters en strydwamagte verslaan. Die Arameërs is in groot getalle afgemaai.

22 Daarna het die profeet weer gekom en vir koning Agab gesê: “Tref voorbereidings en beplan vir nog ’n aanval, want oor ’n jaar sal die koning van Aram weer teen u optrek.”

Ben-Hadad verloor ’n tweede

keer

23 Daarna het Ben-Hadad se raadgewers vir hom gesê: “Die gode van die Israeliete is berggode. Dis hoekom hulle gewen het. Maar as ons die oorlog op die vlaktes voer, sal ons hulle verslaan.

24 Ons moet net die volgende verandering maak: Onthef die konings van hulle bevelsposisies en vervang hulle met gewone bevelvoerders.

25 U moet self weer ’n leër op die been kry soos die een wat verslaan is. Laat daar net soveel perderuiters, strydwaens en manne wees soos voorheen. Dan pak ons hulle op die vlaktes. Daar is geen twyfel dat ons hulle dan sal verslaan nie.” Koning Ben-Hadad het toe gemaak soos hulle voorgestel het.

26 Die volgende jaar het hy die Aramese leër opgeroep en na Afek opgetrek om teen Israel te veg.

27 Israel het hulle leër opgeroep en goed voorbereid teen die vyand opgetrek. Die Israeliete het teenoor die Arameërs kamp opgeslaan. Hulle het egter soos twee troppe bokke gelyk in vergelyking met die groot Aramese mag wat oor die vlakte verspreid was.

28 Die man van God het weer na die koning van Israel gegaan en gesê: “Dit is wat die Here sê: ‘Die Arameërs het gesê die Here is ’n berggod en nie ’n god van die vlaktes nie. Daarom gee Ek hierdie groot leër oor in julle mag. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.’”

29 Die twee leërs het sewe dae lank so teenoor mekaar opgestel gestaan. Op die sewende dag het die geveg uitgebreek. Die Israeliete het 100 000 Aramese voetsoldate op een dag doodgemaak.

30 Die res het na die stad Afek gevlug. Toe val die muur om op 27 000 man. Ben-Hadad het die stad in gevlug en van huis tot huis weggekruip.

31 Ben-Hadad se offisiere sê toe vir hom: “Ons het gehoor die konings van Israel is baie genadig. Kom ons trek rouklere aan en maak toue om ons koppe vas. Dan gee ons ons oor aan die koning van Israel. Miskien sal hy u lewe spaar.”

32 Hulle trek toe rouklere aan en sit toue om hulle koppe. So het hulle na die koning van Israel gegaan en hom gesmeek: “U dienaar Ben-Hadad sê: ‘Laat my asseblief lewe!’”

Die koning van Israel antwoord: “Lewe hy nog? Hy is my broer!”

33 Die boodskappers het gou na hierdie strooihalm van hoop gegryp, en geantwoord: “Ja, Ben-Hadad ís u broer!”

“Gaan haal hom dan,” sê die koning van Israel. Toe Ben-Hadad daar kom, het Agab hom genooi om op sy strydwa te klim.

34 Ben-Hadad sê vir hom: “Ek sal al die dorpe wat my pa van jou pa afgevat het, teruggee. Jy kan ook ’n handelsbuurt in Damaskus inrig soos my pa in Samaria gedoen het.”

Agab sê toe: “As jy ’n ooreenkoms met my sluit, sal ek jou vrylaat.” Hulle het toe ’n ooreenkoms aangegaan en hy het Ben-Hadad laat gaan.

’n Profeet veroordeel Agab

35 In opdrag van die Here het een profeet vir ’n ander een gesê: “Slaan my!” Maar die man het geweier om dit te doen.

36 Toe sê die profeet vir hom: “Kyk, omdat jy ongehoorsaam was aan die woord van die Here sal ’n leeu jou doodmaak sodra jy van my af weggaan.” Toe hy weggaan, het ’n leeu hom dan ook teëgekom en hom verskeur.

37 Daarna gaan die profeet na iemand anders en sê: “Slaan my!” Hy het so gemaak, hom geslaan en selfs verwond.

38 Die profeet het ’n verband oor sy oë gedraai om homself te vermom en langs die pad die koning ingewag.

39 Toe die koning verbykom, roep die profeet na hom en sê: “My heer, terwyl ek in die geveg was, bring iemand ’n gevangene na my toe. Hy het gesê: ‘Pas hierdie man op. As hy om enige rede ontsnap, sal jy vir hom moet instaan of ’n boete van 30 kilogram silwer betaal.’

40 Maar terwyl ek met iets anders besig was, het die gevangene weggekom!”

“Nou, dan is dit jou fout,” antwoord die koning van Israel. “Jy het die oordeel oor jouself gebring.”

41 Toe ruk die profeet die verband van sy oë af en die koning het hom as een van die profete herken.

42 Die profeet sê vir hom: “Dit is wat die Here sê: ‘Jy het die lewe gespaar van die man wie se lewe Ek geëis het. Daarom sal jy in sy plek sterf en jou volk in die plek van sy volk.’”

43 Die koning van Israel het bedruk en woedend na sy huis toe gegaan en in Samaria aangekom.

Categories
1 KONINGS

1 KONINGS 21

Nabot se wingerd

1 Hierna het die volgende gebeur: Koning Agab van Samaria het ’n paleis in Jisreël gehad. Langs die paleis was ’n wingerd wat aan Nabot die Jisreëliet behoort het.

2 Op ’n dag sê Agab vir Nabot: “Aangesien jou wingerd net langs die paleis is, wil ek dit graag van jou koop vir ’n groentetuin. Ek sal vir jou ’n beter wingerd in ruil gee. Anders kan ek jou daarvoor betaal.”

3 Maar Nabot het Agab geantwoord: “Mag die Here verhoed dat ek die erfgrond van my voorouers vir u gee.”

4 Agab het huis toe gegaan en was bedruk en woedend oor Nabot se antwoord. Hy het op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur toe en wou niks eet nie.

5 “Wat gaan met jou aan?” vra sy vrou Isebel vir hom. “Wat het jou dan so ontstel dat jy niks wil eet nie?”

6 “Ek het vir Nabot gevra om sy wingerd aan my te verkoop of dit met ’n ander wingerd te ruil, maar hy het geweier!” sê Agab vir haar. “Hy het gesê hy sal dit nooit vir my gee nie.”

7 “Is jy koning van Israel of nie?” vra Isebel. “Staan nou op en eet en moenie jou verder daaroor bekommer nie. Ek sal Nabot die Jisreëliet se wingerd vir jou kry!”

8 Sy skryf toe briewe namens Agab, plaas sy seël daarop en stuur dit aan die oudstes en leiers van die stad waar Nabot gewoon het.

9 In haar brief het sy beveel: “Kondig ’n vasdag af en laat Nabot op ’n prominente plek sit.

10 Laat twee gewetenlose manne teenoor hom gaan sit en laat hulle hom aankla: ‘Jy het God en die koning gevloek!’ Vat hom dan weg en stenig hom.”

11 Die oudstes en leiers het toe so gemaak soos Isebel in die brief geskryf het wat sy vir hulle gestuur het.

12 Hulle het ’n vasdag afgekondig en Nabot voor in die byeenkoms laat sit.

13 Twee gewetenlose manne het toe ingekom, teenoor hom gaan sit en Nabot voor al die mense aangekla: “Jy het God en die koning gevloek.” Hulle het hom toe uit die stad gesleep en met klippe doodgegooi.

14 Hulle laat weet toe vir Isebel: “Nabot is met klippe doodgegooi.”

15 Toe Isebel die nuus kry, sê sy vir Agab: “Staan op en gaan lê beslag op die wingerd wat Nabot nie aan jou wou verkoop nie. Jy kan dit maar kry, want hy is dood!”

16 Agab het dadelik na die wingerd toe gegaan en dit vir hom gevat.

Elia dra die Here se woord aan

Agab oor

17 Die Here het toe vir Elia die Tisbiet gesê:

18 “Gaan na Agab toe wat in Samaria as koning van Israel regeer. Hy is in Nabot se wingerd, wat hy in besit geneem het.

19 Gee vir hom die volgende boodskap: ‘Dit is wat die Here sê: Is dit nie sleg genoeg dat jy Nabot doodgemaak het nie? Moet jy hom nou ook nog beroof?’ Sê verder vir hom: ‘Net daar waar die honde Nabot se bloed opgelek het, daar sal die honde ook jou bloed oplek – ja, joune!’”

20 “So! Het my vyand my toe gekry?” vra Agab vir Elia.

“Ja,” antwoord Elia. “Ek het jou gekry omdat jy jouself uitverkoop het om te doen wat vir die Here boos is.

21 Die Here sê: ‘Ek gaan ’n ramp oor jou bring en jou nageslag uitwis. Nie een van jou manlike afstammelinge in Israel, wie dit ook al is, sal dit oorleef nie!

22 “‘Omdat jy My getart en Israel laat sondig het, gaan Ek jou koningshuis uitroei soos Ek met Jerobeam seun van Nebat, en die koningshuis van Baesa seun van Agija gedoen het.’

23 “Oor Isebel het die Here gesê: ‘Die honde sal Isebel by die stadsmuur van Jisreël opvreet.’

24 En wat die res van jou familie betref: ‘Hulle wat in die stad sterf – die honde sal hulle opvreet; hulle wat in die veld sterf – die roofvoëls sal hulle verslind.’”

25 Daar was nie nog iemand wat soveel boosheid voor die Here bedryf het soos Agab waartoe sy vrou Isebel hom aangehits het nie.

26 Hy het afskuwelik opgetree deurdat hy afgodsbeelde aanbid het net soos die Amoriete wat die Here ter wille van die Israeliete uit die land gedryf het.

27 Toe Agab hierdie boodskap hoor, het hy sy klere geskeur, rouklere aangetrek en gevas. Hy het selfs in ’n roukleed geslaap en neerslagtig rondgeloop.

28 Die Here het weer ’n boodskap vir Elia die Tisbiet gegee:

29 “Het jy opgelet dat Agab homself voor My verootmoedig het? Omdat hy dit gedoen het, sal Ek die ramp nie gedurende sy lewe laat gebeur nie. Ek sal eers tydens die regering van sy seun die ramp oor sy familie bring.”

Categories
1 KONINGS

1 KONINGS 22

Josafat en Agab wil teen

Ramot-Gilead gaan veg

1 Drie jaar lank was daar geen oorlog tussen Aram en Israel nie.

2 Gedurende die derde jaar het koning Josafat van Juda vir koning Agab van Israel gaan besoek.

3 Tydens die besoek sê Agab vir sy amptenare: “Besef julle dat die Arameërs nog steeds ons stad Ramot-Gilead beset? En ons het niks daaraan gedoen nie!”

4 Toe vra hy vir Josafat: “Sal jy saam met my gaan veg by Ramot-Gilead?”

Josafat het Agab geantwoord: “Maar natuurlik! Ek is saam met jou in die saak! My soldate is tot jou beskikking, en ook my perde.”

5 Josafat voeg egter by: “Maar laat ons net eers die Here raadpleeg.”

6 Die koning van Israel laat roep toe die profete, omtrent 400 van hulle. Hy vra hulle: “Moet ek teen Ramot-Gilead optrek? Of moet ek dit liewer nie doen nie?”

Hulle antwoord: “Gaan gerus. Die Here gee die stad oor in u mag!”

7 Maar Josafat vra: “Is hier nie dalk ook nog ’n ander profeet van die Here vir wie ons kan raadpleeg nie?”

8 Koning Agab antwoord: “Hier is nog een van die Here se profete wat ons kan raadpleeg. Maar ek haat hom, want hy het net altyd slegte nuus vir my. Sy naam is Miga seun van Jimla.”

“Jy moet liewer nie so praat nie!” sê Josafat.

9 Die koning van Israel roep toe een van sy amptenare en sê: “Gaan gou en bring Miga seun van Jimla hiernatoe.”

Miga se uitspraak

10 Koning Agab en koning Josafat het albei hulle koninklike klere aangehad. Hulle het elkeen op sy troon op die dorsvloer by die poort van Samaria gesit. Al die profete was besig om hulle voorspellings daar voor hulle te maak.

11 Een van hulle, Sedekia seun van Kenaäna, het ’n paar ysterhorings gemaak en aangekondig: “Dit is wat die Here sê: ‘Met hierdie horings sal u die Arameërs platstoot en uitwis!’”

12 Al die ander profete het saamgestem. “Ja,” sê hulle, “trek op teen Ramot-Gilead en verslaan hulle, want die Here gee vir u die oorwinning!”

13 Intussen het die boodskapper wat vir Miga gaan roep het hom gewaarsku: “Luister, al die profete voorspel ’n oorwinning vir die koning. Jy moet liewer met hulle saamstem en ook ’n gunstige aankondiging maak.”

14 Maar Miga antwoord: “So seker as die Here leef, ek sal net dit sê wat die Here my beveel om te sê.”

15 Toe Miga by die koning aankom, vra Agab vir hom: “Miga, moet ons optrek teen Ramot-Gilead? Of moet ons dit nie doen nie?”

Miga het geantwoord: “Ja, trek maar op! Die Here sal die stad in die koning se mag oorgee.”

16 Maar die koning berispe hom: “Hoeveel keer moet ek jou nog sê om net die waarheid te praat wanneer jy namens die Here ’n uitspraak gee?”

17 Toe sê Miga vir hom:

“In ’n visioen het ek Israel gesien,

verstrooi op die berge

soos skape sonder ’n herder.

Die Here het gesê:

‘Hulle koning is dood.

Laat elkeen van hulle maar in vrede

teruggaan na sy huis toe.’”

18 “Het ek nie vir jou gesê nie?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy gee nooit enige uitspraak ten gunste van my nie.”

19 Miga het voortgegaan: “Luister wat die Here sê. Ek het die Here gesien waar Hy op sy troon sit met die hemelse leërmag weerskante van Hom.

20 Die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab gaan oortuig om teen Ramot-Gilead oorlog te maak sodat hy daar kan omkom?’ Hulle het hiernatoe en daarnatoe gepraat.

21 Uiteindelik het die leuengees voor die Here gaan staan en gesê: ‘Ek sal dit doen!’

“‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die Here vir hom.

22 “Die gees het geantwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oortuig om leuens te vertel.’

“‘Jy sal slaag,’ sê die Here. ‘Gaan voort en doen dit.’

23 “U sien, die Here het ’n leuengees in die monde van die koning se profete gelê omdat die Here ’n ramp vir jou bepaal het.”

24 Toe gaan Sedekia seun van Kenaäna na Miga toe en slaan hom, deur die gesig. “Hoe het die Here se gees dan by my verbygegaan om met jou te praat?” vra hy.

25 Miga het geantwoord: “Jy sal dit binnekort agterkom wanneer jy van een vertrek na ’n ander vlug om weg te kruip!”

26 Toe beveel die koning van Israel: “Arresteer Miga en vat hom na Amon, die burgemeester van die stad, en na my seun Joas toe.

27 Sê vir hulle die koning beveel: ‘Sit hierdie man in die tronk en gee hom niks meer as brood en water totdat ek veilig van die oorlog af terugkom nie!’”

28 Maar Miga antwoord: “As die koning veilig terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder sê hy vir die omstanders: “Julle moet almal luister na wat ek gesê het!”

Agab noodlottig gewond

29 Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het toe teen Ramot-Gilead opgetrek.

30 Koning Agab van Israel het vir Josafat gesê: “Voor ons begin veg, gaan ek my vermom. Jy kan gerus jou koninklike klere aanhou.” Die koning van Israel het hom toe vermom en so aan die geveg deelgeneem.

31 Die koning van Aram het die bevelvoerders van sy 32 strydwaens beveel: “Spits julle net toe op die koning van Israel! Moenie aan enigiemand anders klein of groot aandag gee nie.”

32 Toe die bevelvoerders van die strydwaens vir Josafat sien, sê hulle: “Dit moet die koning van Israel wees!” en hulle het op hom toegesak. Toe het Josafat om hulp geroep.

33 Die bevelvoerders van die strydwaens het egter besef dat dit nie die koning van Israel was nie en het opgehou om hom te agtervolg.

34 Iemand het egter blindweg ’n pyl afgeskiet. Die pyl het die koning van Israel tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat getref.

“Draai weg en kry my uit die geveg!” beveel Agab die drywer. “Ek is gewond!”

35 Die geveg het egter so hewig geword dat Agab verplig was om die hele dag teenoor die Arameërs regop in sy strydwa te bly staan. Teen die aand het hy gesterf. Die bloed uit sy wond het tot in die bak van die strydwa geloop.

36 Toe die son begin ondergaan, is daar in die kamp geroep: “Elke man terug na sy stad; elkeen terug na sy land toe!”

37 Die koning was reeds dood. Sy liggaam is na Samaria toe gebring en hy is daar begrawe.

38 Hulle het die strydwa by die dam van Samaria afgespoel, waar die prostitute hulleself altyd was. Die honde het gekom en die koning se bloed opgelek net soos die Here gesê het.

39 Die ander gebeurtenisse tydens Agab se regering, die vertellings oor die ivoorpaleis en die stede wat hy gebou het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

40 Agab is dood en sy seun Ahasia het hom opgevolg.

Josafat regeer in Juda

41 Josafat seun van Asa het in die vierde regeringsjaar van koning Agab in Israel koning van Juda geword.

42 Hy was 35 jaar oud toe hy koning geword het en hy het 25 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba, die dogter van Silgi.

43 Josafat het in die voetspore van sy pa Asa gevolg. Hy het nie daarvan afgewyk nie en gedoen wat vir die Here reg was.

44 Die heidense hoogtes is egter nie verwyder nie sodat die volk nog steeds daar geoffer en wierook gebrand het.

45 Josafat het in vrede met die koning van Israel geleef.

46 Die ander gebeurtenisse tydens Josafat se regering, sy dapper dade en die oorloë wat hy gevoer het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

47 Hy het die tempelprostitute wat uit die dae van sy pa, Asa, oorgebly het, uit die land verban.

48 In daardie tyd was daar geen koning in Edom nie; ’n plaasvervangende persoon het as koning opgetree.

49 Josafat het ook Tarsisskepe gebou om goud uit Ofir te gaan haal. Die skepe het egter nooit soontoe gevaar nie omdat hulle by Esjon-Geber skipbreuk gely het.

50 In daardie tyd het Ahasia seun van Agab voorgestel: “Laat my manne saam met joune op die skepe vaar!” Josafat het egter geweier.

51 Toe Josafat sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Joram het hom as koning opgevolg.

Ahasia regeer in Israel

52 Ahasia seun van Agab het in die sewentiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda in Samaria koning van Israel geword. Hy het twee jaar in Samaria oor Israel regeer.

53 Hy het egter gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het die pad van sy pa en ma gevolg en die voorbeeld van Jerobeam seun van Nebat wat Israel laat sondig het.

54 Hy het Baäl gedien en aanbid. Daarmee het hy die Here die God van Israel uitgetart, net soos sy pa gedoen het.

Categories
2 KONINGS

2 KONINGS 1

1
Elia konfronteer koning Ahasia

Na die dood van Agab het Moab teen Israel gerebelleer.

2 Op ’n dag het Ahasia deur die bokamer se traliewerk van die paleis in Samaria geval en homself ernstig beseer. Hy stuur toe boodskappers met die opdrag: “Gaan raadpleeg vir Baäl-Sebub die god van Ekron om te verneem of ek van hierdie besering sal herstel.”

3 Maar die engel van die Here het vir Elia die Tisbiet gesê: “Gaan die boodskappers van die koning van Samaria tegemoet en vra vir hulle: ‘Hoekom gaan julle na Baäl-Sebub die god van Ekron om te vra of die koning gesond sal word? Is daar dan geen God in Israel nie?

4 Daarom sê die Here: ‘Jy sal nie opstaan uit die bed waarop jy lê nie. Jy sal sekerlik sterf.’” Elia het gegaan en die boodskap afgelewer.

5 Toe die boodskappers terugkom by die koning, vra hy vir hulle: “Hoekom is julle so gou terug?”

6 Hulle antwoord hom: “’n Man het ons teëgekom en gesê: ‘Gaan terug na die koning wat vir julle gestuur het en gee hom hierdie boodskap van die Here: Hoekom stuur jy boodskappers na Baäl-Sebub die god van Ekron om te vra of jy gesond sal word? Is dit omdat daar geen God in Israel is nie? Omdat jy dit gedoen het, sal jy nie opstaan uit die bed waarop jy lê nie. Jy sal sekerlik sterf.’”

7 “Wie is hierdie man?” vra die koning. “Hoe lyk hierdie man wat julle teëgekom het en hierdie boodskap gestuur het?”

8 Hulle antwoord hom: “Dit was ’n harige man met ’n leergordel om sy middel.”

“Dit is Elia die Tisbiet!” roep die koning uit.

9 Toe stuur hy ’n offisier met 50 soldate om Elia te vang. Hulle het hom gekry waar hy bo-op ’n heuwel gesit het. Die offisier sê vir hom: “Man van God, die koning het beveel dat jy moet afkom.”

10 Maar Elia antwoord hom: “As ek dan ’n man van God is, laat daar vuur uit die hemel kom en jou en jou 50 manne verteer!” Daar kom toe vuur uit die hemel wat die offisier en sy 50 manskappe verteer het.

Toe stuur die koning ’n ander offisier met 50 soldate. Die offisier sê vir hom:

11 “Man van God, die koning sê jy moet dadelik afkom!”

12 Elia antwoord hom: “As ek dan ’n man van God is, laat daar vuur uit die hemel kom en jou en jou 50 manne verteer!” Weereens het daar vuur van God uit die hemel gekom en die offisier en sy manskappe verteer.

13 Die koning stuur toe ’n derde keer ’n offisier met 50 soldate. Maar hierdie keer het die offisier gekom en op sy knieë voor Elia geval. Hy het by hom gepleit: “O man van God, spaar asseblief my lewe en die lewe van hierdie 50 manne, u dienaars.

14 Kyk net hoe het die vuur uit die hemel die eerste twee offisiere en hulle manskappe verteer! Asseblief, spaar tog nou my lewe!”

15 Toe sê die engel van die Here vir Elia: “Jy hoef nie vir hom bang te wees nie. Klim af en gaan gerus saam met hom.” Elia het opgestaan en afgegaan na die koning toe.

16 Elia sê vir die koning: “Dit is wat die Here sê: Hoekom stuur jy boodskappers na Baäl-Sebub die god van Ekron om te vra of jy gesond sal word? Is dit omdat daar geen God in Israel is wat jy kan raadpleeg nie? Omdat jy dit gedoen het, sal jy nie opstaan uit die bed waarop jy nou lê nie. Jy sal sekerlik sterf.”

17 Ahasia het toe gesterf net soos die Here deur Elia aangekondig het. Omdat Ahasia nie ’n seun gehad het nie, het sy broer Joram hom opgevolg. Dit het in die tweede regeringsjaar van Joram seun van Josafat, koning van Juda, gebeur. Die ander gebeurtenisse tydens Ahasia se regering is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

Categories
2 KONINGS

2 KONINGS 2

Elia word in die hemel

opgeneem

1 Die tyd het aangebreek dat die Here vir Elia in ’n stormwind na die hemel toe sou opneem. Elia en Elisa was op pad van Gilgal af.

2 Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”

Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie!” Hulle het toe saam na Bet-El toe gegaan.

3 ’n Groep profete uit Bet-El het na Elisa toe gekom en vir hom gevra: “Het jy geweet dat die Here vandag jou leermeester van jou gaan wegneem?”

“Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy. “Bly net stil!”

4 Toe sê Elia vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”

Maar Elisa het weer geantwoord: “So waar as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe saam in Jerigo aangekom.

5 ’n Groep profete uit Jerigo het Elisa tegemoetgekom en hom gevra: “Het jy geweet dat die Here vandag jou leermeester van jou gaan wegneem?”

“Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy weer. “Bly net stil!”

6 Toe sê Elia vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaanrivier toe.”

Maar Elisa het weer geantwoord: “So waar as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe saam verder gegaan.

7 Uit die groep profete het 50 mans ook saamgegaan en op ’n afstand, teenoor die plek waar Elia en Elisa by die Jordaanrivier was, gaan staan.

8 Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het weerskante toe verdeel sodat die twee droogvoets deur die rivier kon gaan.

9 Toe hulle oorkant aankom, sê Elia vir Elisa: “Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?”

“Laat my asseblief ’n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,” antwoord Elisa.

10 “Jy vra my ’n moeilike saak,” antwoord Elia. “As jy sien hoe ek van jou af weggeneem word, sal jy dit ontvang. As jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11 Terwyl hulle nog so aanstap en gesels, verskyn daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur. Dit het hulle van mekaar geskei. Elia is in ’n stormwind opgeneem na die hemel toe.

12 Toe Elisa dit sien, roep hy uit: “My vader! My vader! Die strydwa en perderuiters van Israel!” Toe Elisa hom nie meer kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee geskeur.

13 Maar Elia se mantel het afgeval en Elisa het dit opgetel. Toe gaan hy terug en gaan staan by die wal van die Jordaanrivier.

14 Hy het Elia se mantel wat afgeval het, gevat, daarmee op die water geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, die God van Elia, ja, Hy?” Toe hy die water slaan, het dit weerskante toe verdeel sodat hy kon deurgaan.

15 Die groep profete van Jerigo het oorkant gestaan en gesien wat gebeur het. Hulle sê toe: “Elisa is Elia se opvolger!” Hulle het hom tegemoetgegaan en voor hom gebuig.

16 “Meneer,” sê hulle, “hier is 50 dapper manne onder ons. Laat hulle tog na u leermeester gaan soek. Miskien het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.”

“Nee,” sê Elisa, “moenie hulle stuur nie.”

17 Hulle het egter aangehou sodat hy moes toegee: “Goed, stuur hulle maar.” Die 50 manne het drie dae lank gesoek, maar kon nie vir Elia opspoor nie.

18 Elisa was nog in Jerigo toe hulle terugkom. “Het ek dan nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?” vra hy.

Die eerste wondertekens van

Elisa

19 Die inwoners van Jerigo het Elisa besoek en gesê: “Hierdie dorp is in ’n pragtige omgewing geleë, soos u self kan sien. Maar die water is onbruikbaar en die landerye is onvrugbaar.”

20 Elisa sê: “Bring vir my ’n nuwe skottel met sout daarin.” Hulle het dit gedoen.

21 Toe gaan hy na die fontein waar die dorp water vandaan gekry het en gooi die sout daarin. Hy sê: “Dit is wat die Here sê: Ek maak hierdie water bruikbaar. Dit sal nie meer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie.”

22 Die water het tot vandag toe bruikbaar gebly, net soos Elisa gesê het.

23 Elisa het daarna na Bet-El toe opgegaan. Terwyl hy in die pad loop, kom ’n groep klein seuntjies uit die dorp en begin hom spot. “Gaan op, kaalkop!” het hulle uitgeroep. “Gaan op, kaalkop!”

24 Elisa het omgedraai, na hulle gekyk en hulle in die Naam van die Here vervloek. Toe kom daar twee bere uit die bos en verskeur 42 van hulle.

25 Daarvandaan het Elisa na Karmelberg gegaan, en daarna terug na Samaria toe.

Categories
2 KONINGS

2 KONINGS 3

Oorlog tussen Israel en Moab

1 Agab se seun Joram het in die agtiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda koning van Israel geword. Hy het twaalf jaar in Samaria regeer.

2 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, maar hy was nie so boos soos sy pa en ma nie. Hy het minstens die klippilaar wat sy pa ter ere van Baäl opgerig het, afgebreek.

3 Tog het hy voortgegaan met die sonde van afgodery waarmee Jerobeam die seun van Nebat die volk Israel verlei het. Hy het hom nie daarvan bekeer nie.

4 Koning Mesa van Moab en sy onderdane was skaapboere. Hulle het aan die koning van Israel ’n jaarlikse belasting van 100 000 lammers en die wol van 100 000 ramme betaal.

5 Na Agab se dood het Moab egter teen die koning van Israel in opstand gekom.

6 Koning Joram het toe die leër van Israel opgekommandeer en uit Samaria opgeruk.

7 Hy stuur toe ook die volgende boodskap aan koning Josafat van Juda: “Die koning van Moab het teen my gerebelleer. Sal jy saam met my teen hom veg?”

Josafat het geantwoord: “Maar natuurlik! Ek is saam met jou in die saak! My soldate is tot jou beskikking, soos ook my perde.”

8 Hy vra toe: “Met watter pad sal ons gaan?”

“Ons sal hulle uit die woestyn van Edom aanval,” kom die antwoord.

9 Die koning van Edom en sy leër het ook saam met hulle opgetrek. Al drie leërs het met ’n ompad sewe dae lank deur die woestyn getrek. Maar daar was geen water vir die soldate of hulle pakdiere nie.

10 “Wat sal ons nou maak?” sê die koning van Israel. “Die Here het ons drie hier in die moeilikheid gebring sodat die koning van Moab ons kan verslaan.”

11 Maar koning Josafat van Juda vra: “Is daar nie ’n profeet van die Here saam met ons nie? As hier een is, kan ons die Here deur hom vra wat ons moet doen.”

Een van koning Joram se offisiere antwoord hom: “Elisa seun van Safat is hier. Hy was Elia se persoonlike dienaar.”

12 Josafat sê toe: “Die Here praat deur hom.” Die konings van Israel, Juda (naamlik Josafat) en Edom het Elisa gaan raadpleeg.

13 “Ek wil niks met jou te doen hê nie,” sê Elisa vir die koning van Israel. “Gaan na jou pa en ma se profete!”

Maar koning Joram antwoord: “Nee! Die Here het ons drie konings hiernatoe laat kom om ons aan die koning van Moab oor te lewer.”

14 Elisa antwoord: “So seker as die Here, die Almagtige, leef, Hy vir wie ek dien, ek sou my nie eens aan jou gesteur het nie as dit nie was vir die respek wat ek vir koning Josafat van Juda het nie.

15 Laat iemand wat die lier kan speel, hiernatoe kom.”

Terwyl iemand op die lier speel, kom die krag van die Here oor Elisa.

16 Hy sê: “Dit is wat die Here sê: Hierdie droë vallei sal met poele water gevul word.

17 Julle sal nie wind of reën sien nie, sê die Here, maar hierdie vallei sal vol water word. Julle sal genoeg hê vir julleself en vir julle beeste en ander diere.

18 Dis nog maar die minste wat die Here sal doen. Hy sal vir julle ook die oorwinning oor die leër van Moab gee.

19 Julle sal uitsoekstede verower, selfs die versterkte stede. Julle sal al die mooi bome afkap, hulle fonteine toestop en hulle landerye met klippe verniel.”

20 En dit was ook so. Die volgende dag teen die tyd van die oggendoffer het daar skielik water gekom! Dit het uit die rigting van Edom aangestroom sodat daar gou-gou oral water was.

21 Intussen het al die Moabiete gehoor dat die konings opgetrek het om teen hulle te veg. Hulle het toe elke weerbare man, jonk en oud, opgeroep en hulle al langs die grens laat stelling inneem.

22 Toe hulle die oggend opstaan, het die son oor die water geskyn sodat dit so rooi soos bloed gelyk het.

23 “Dit is bloed!” roep die Moabiete uit. “Die konings het mekaar aangeval en maak nou mekaar dood! Kom, laat ons die buit gaan plunder!”

24 Toe hulle die kamp van die Israeliete bereik, het die leër van Israel op hulle afgestorm en die Moabiete aangeval sodat hulle omgedraai en gevlug het. Die leër van Israel het hulle tot in die land van Moab agtervolg en op hulle pad alles vernietig.

25 Hulle het die stede verwoes, die landerye met klippe bestrooi deurdat elke manskap ’n klip daarop gegooi het. Hulle het ook die fonteine toegestop en al die bruikbare bome afgekap. Uiteindelik was net Kir-Geres oor. Maar die soldate met slingervelle het die stad omsingel en dit ingeneem.

26 Toe die koning van Moab besef dat hy besig was om die oorlog te verloor, het hy 700 van sy soldate teen die koning van Edom gelei in ’n desperate poging om deur die vyandelike linies te breek, maar hulle kon dit nie doen nie.

27 Toe vat hy sy oudste seun wat hom sou opvolg en offer hom as ’n brandoffer op die stadsmuur. Dit was vir Israel so afskuwelik dat hulle teruggetrek het na hulle eie land toe.

Categories
2 KONINGS

2 KONINGS 4

Elisa help ’n arm weduwee

1 Op ’n dag kom die weduwee van een van die profete na Elisa toe en bekla haar nood by hom: “My man, u dienaar, is dood. U weet hoe hy die Here gedien het. Nou dreig die skuldeiser om my twee seuns as slawe weg te neem.”

2 “Wat kan ek doen om jou te help?” vra Elisa. “Sê vir my, wat het jy in jou huis?”

“Hoegenaamd niks nie, behalwe ’n kan met olie,” antwoord sy.

3 Toe sê Elisa: “Gaan leen leë kruike by al jou bure. Leen soveel as wat jy kan kry.

4 Dan moet jy en jou seuns in jou huis ingaan en die deur agter julle toemaak. Maak dan al die leë kruike vol olie. Dié wat vol is, moet jy een-kant sit.”

5 Sy het gedoen soos hy gesê het en die deur agter hulle toegemaak. Haar seuns het die kruike vir haar gebring, en sy het die een na die ander vol gemaak.

6 Spoedig was elke kruik propvol!

“Bring vir my nog ’n kruik,” sê sy vir een van haar seuns.

“Daar is nie meer nie!” sê hy vir haar. Toe het daar nie meer olie uit die kan gekom nie.

7 Sy het vir die man van God gaan vertel wat gebeur het. Hy sê vir haar: “Gaan verkoop nou die olie en betaal jou skuld. Van dit wat oorbly, kan jy en jou seuns lewe.”

Elisa en die vrou uit Sunem

8 Op ’n keer het Elisa na die dorp Sunem toe gegaan. Daar het ’n baie welgestelde vrou gewoon. Sy het by hom aangedring om by hulle te kom eet. Van toe af het hy elke keer wanneer hy daar verbygegaan het daar geëet.

9 Na ’n tyd sê sy vir haar man: “Ek dink die man wat dikwels hier by ons aankom, is ’n heilige man van God.

10 Kom ons bou vir hom ’n dakkamertjie en meubileer dit met ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp. Dan kan hy daarin oorbly wanneer hy hierlangs kom.”

11 Eendag kom Elisa weer daar aan en kon na die dakkamer toe gaan om daar te rus.

12 Hy sê toe vir sy dienaar Gehasi: “Gaan roep die Sunamitiese vrou.” Toe sy daar aankom,

13 sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: ‘Ons waardeer al die moeite wat jy vir ons gedoen het. Maar wat kan ons vir jou doen? Moet ek dalk ’n goeie woordjie vir jou by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?’”

“Nee,” antwoord sy. “Ek is gelukkig tussen my mense wat vir my omgee.”

14 Elisa vra: “Is daar nie tog iets wat ons vir haar kan doen nie?”

Gehasi sê toe: “Sy het nie ’n seun nie en haar man is al oud.”

15 “Gaan roep haar weer,” sê Elisa vir hom. Toe die vrou terugkom, sê Elisa vir haar terwyl sy in die deur staan:

16 “Volgende jaar hierdie tyd sal jy ’n seun in jou arms vashou!”

“Nee, Meneer!” maak sy beswaar. “Asseblief, man van God, moenie vir my onwaarhede vertel nie.”

17 Maar die vrou hét swanger geword. ’n Jaar later het sy ’n seun in die wêreld gebring net soos Elisa vir haar gesê het.

18 Toe die kind groter geword het, het hy op ’n keer na sy pa toe gegaan waar hy en die werkers besig was om te oes.

19 Skielik roep hy: “My kop! My kop!”

Sy pa sê toe vir een van die werkers: “Dra hom na sy ma toe.”

20 Die dienaar het hom huis toe ge-neem en sy ma het hom op haar skoot vasgehou. Teen die middag het hy egter gesterf.

21 Sy dra hom toe boontoe en lê hom op die bed van die man van God neer, gaan uit en trek die deur toe.

22 Toe roep sy haar man en vra: “Stuur tog een van die werkers en ’n donkie sodat ek na die man van God toe kan gaan en gou weer kan terugkom.”

23 “Hoekom wil jy dan vandag gaan?” wil hy weet. “Dit is tog nie ’n Nuwemaanfees of ’n Sabbat nie!”

Maar sy sê: “Alles is reg.”

24 Sy saal die donkie op en sê vir die dienaar: “Maak gou! Jaag die donkie aan en moenie stadiger gaan tensy ek vir jou sê nie.”

25 Sy gaan toe en het by die man van God, by Karmelberg, aangekom. Die man van God het haar in die verte sien aankom. Hy sê vir Gehasi: “Kyk, dis die vrou uit Sunem.

26 Hardloop haar tegemoet en vra haar: ‘Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? Gaan dit goed met jou seun?’”

“Dit gaan goed,” sê die vrou vir Gehasi.

27 Maar toe sy by die man van God op die berg kom, val sy op die grond voor hom en gryp sy voete.

Gehasi probeer om haar weg te stoot, maar die man van God sê: “Laat haar met rus! Sy is diep bedroef en die Here het dit nie vir my bekendgemaak nie.”

28 Toe sê sy: “Meneer, het ek u gevra vir ’n seun? Het ek dan nie gesê u moenie vir my valse hoop gee nie?”

29 Elisa sê toe vir Gehasi: “Maak jou gereed. Vat my kierie in jou hand en gaan. Moenie met enigiemand op die pad praat of hom groet nie. Gaan gou en sit die kierie op die seun se gesig.”

30 Maar die seun se ma sê: “So seker as die Here leef en u self ook leef, ek sal nie huis toe gaan tensy u met my saamgaan nie.” Elisa het toe opgestaan en saam met haar gegaan.

31 Gehasi het vooruitgegaan en die kierie op die kind se gesig gesit, maar daar was geen teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom: “Die seun het nie wakker geword nie.”

32 Toe Elisa daar aankom, het die kind nog dood op die profeet se bed gelê.

33 Hy het alleen ingegaan, die deur agter hulle twee toegemaak en tot die Here gebid.

34 Toe gaan lê hy op die seun met sy mond op dié van die seun, sy oë op die seun s’n en sy hande op die kind s’n. Die seun se liggaam het begin warm word!

35 Elisa staan toe op en stap ’n paar keer heen en weer in die kamer. Toe gaan lê hy weer op die seun. Hierdie keer het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak!

36 Elisa beveel toe vir Gehasi: “Gaan roep die Sunamitiese vrou!” Toe sy inkom, sê Elisa: “Hier, vat jou seun!”

37 Sy kom toe in, val voor hom neer en buig voor hom, oorstelp van dankbaarheid. Sy het haar seun opgetel en hom ondertoe gedra.

Wonderdade tydens ’n

hongersnood

38 Elisa het teruggegaan na Gilgal toe. Daar was egter hongersnood in die land. Eendag, terwyl ’n groep jong profete voor hom sit, sê hy vir sy dienaar: “Sit ’n groot pot op die vuur en maak ’n bredie vir die jong profete.”

39 Een van die jong mans gaan toe om kruie in die veld te soek. Hy kom af op ’n rank met wilde komkommers en pluk daarvan ’n sak vol. Toe hy terugkom, sny hy dit stukkend in die pot sonder dat hy geweet het wat dit was.

40 Hulle het die bredie opgeskep, maar nadat hulle ’n hap of twee geëet het, roep hulle: “Man van God, daar is gif in die bredie!” Hulle kon nie verder eet nie.

41 Elisa sê toe vir hulle: “Bring vir my ’n bietjie meel.” Hy neem dit, gooi dit in die pot en sê: “Nou is dit weer eetbaar. Gaan gerus aan met die ete.” Toe hulle dit eet, was dit nie meer sleg nie.

42 Op ’n dag bring ’n man van Baäl-Salisa vir die man van God ’n sak vars koring en twintig garsbrode van die nuwe oes. Elisa sê vir hom: “Gee dit vir die mense sodat hulle dit kan eet.”

43 “Wat?” sê sy dienaar. “Hoe kan ons 100 mense met so min kos gee?”

Maar Elisa het herhaal: “Gee dit vir die mense sodat hulle kan eet, want die Here sê daar sal genoeg vir almal wees. Daar sal selfs nog oorbly!”

44 En sowaar, daar was genoeg vir almal en hulle het nog kos oorgehou, net soos die Here gesê het.

Categories
2 KONINGS

2 KONINGS 5

Naäman gesond gemaak

1 Naäman was die koning van Aram se bevelvoerder van die leër. Hy was ’n belangrike man en hoog in aansien by die koning, want die Here het deur hom groot oorwinnings aan Aram gegee. Hoewel Naäman ’n magtige krygsman was, was hy melaats.

2 Die Arameërs het strooptogte in die land Israel uitgevoer en ’n jong Israelitiese meisie gevang. Sy het die diensmeisie van Naäman se vrou geword.

3 Sy het vir haar meesteres gesê: “As Meneer net na die profeet in Samaria kan gaan, sal hy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

4 Naäman het die koning gaan vertel wat die meisie uit Israel gesê het.

5 “Gaan gerus,” sê die koning van Aram. “Ek sal ’n brief skryf wat jy vir die koning van Israel kan gee.” Naäman het toe gegaan. Hy het 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem.

6 Hy het die brief aan die koning van Israel gegee. Dit het gelui: “Ek stuur my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe sodat jy hom van sy melaatsheid kan gesond maak.”

7 Toe die koning van Israel dit lees, het dit hom ontstel sodat hy sy klere geskeur het en sê: “Hierdie man stuur ’n melaatse na my toe om hom gesond te maak! Is ek dan God wat kan doodmaak en laat lewe? Kyk, hy soek net moeilikheid met my!”

8 Elisa, die man van God, het gehoor van die koning se reaksie en stuur toe vir hom ’n boodskap: “Hoekom is u so ontsteld? Stuur Naäman na my toe. Dan sal hy agterkom dat daar ’n ware profeet in Israel is.”

9 Naäman het met sy perde en strydwaens gekom en voor Elisa se huis gewag.

10 Maar Elisa het ’n boodskap aan hom gestuur: “Gaan en was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal jou liggaam herstel en sal jy van die melaatsheid gesond word.”

11 Maar Naäman het baie kwaad weggegaan en gesê: “Ek het gedink hy sal uitkom en my ontmoet! Ek het verwag dat hy sy hand oor die melaatsheid sou waai en die Naam van die Here sy God aanroep en so vir my gesond maak!

12 Is die Abana en Parpar van Damaskus nie beter riviere as al die riviere van Israel saam nie? Hoekom kan ek my nie in een van hulle gaan was en so gesond word nie?” Naäman het toe omgedraai en in woede weggegaan.

13 Maar sy amptenare het probeer om hom te oortuig en gesê: “Meneer, as die profeet gesê het dat u een of ander moeilike ding moes doen, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy sê: ‘Gaan en was jou en jy sal gesond word’?”

14 Naäman het toe afgegaan na die Jordaanrivier toe en hom sewe keer in die rivier gewas, soos die man van God hom beveel het. Toe word sy vel gesond soos dié van ’n jong seun s’n. Hy was volkome genees!

15 Naäman en sy hele gevolg gaan toe terug na die man van God toe. Hy het voor hom gestaan en gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel. Aanvaar asseblief my geskenk.”

16 Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die Here leef, Hy vir wie ek dien, ek sal geen geskenke aanvaar nie.” Naäman het daarop aangedring dat hy die geskenk aanvaar, maar Elisa het geweier.

17 Naäman sê toe: “As u dit nie wil neem nie, sal u toelaat dat ek twee muilvragte grond kry om saam te vat? Van nou af sal ek nooit weer brandoffers of ander offers aan enige god bring nie as net aan die Here.

18 Maar mag die Here my vergewe ten opsigte van hierdie één ding: Wanneer my heer die koning ingaan in die tempel van die god Rimmon om daar te aanbid en op my arm leun, mag die Here my vergewe wanneer ek ook moet buig in die tempel van Rimmon.”

19 “Gaan in vrede,” antwoord Elisa. Naäman het toe sy terugtog begin.

Gehasi se inhaligheid

Toe hy ’n entjie weg was,

20 sê Gehasi, die dienaar van Elisa die man van God, vir homself: “My heer moes nie toegelaat het dat hierdie Arameër Naäman weggaan sonder om ’n geskenk te aanvaar uit alles wat hy saamgebring het nie. So seker as die Here leef, ek sal hom agternasit en iets by hom kry.”

21 Gehasi het hom toe agternagesit.

Toe Naäman sien hoe hy agter hom aan hardloop, klim hy af van sy wa en gaan om hom te ontmoet. “Is daar iets verkeerd?” vra Naäman.

22 “Nee, alles is reg,” antwoord Gehasi. “My meester het my gestuur om vir u te sê twee jong profete het so pas uit die Efraimsberge aangekom. Hy sou graag 34 kilogram silwer en twee stelle klere wou hê om vir hulle te gee.”

23 “Sekerlik, maar vat 68 kilogram silwer,” sê Naäman. Hy het by hom daarop aangedring om die 68 kilogram silwer en twee stelle klere te neem. Dit het hy in twee sakke gepak en saam met die twee stelle klere aan twee van sy dienaars gegee om dit voor Gehasi uit te dra.

24 Toe hulle by die heuwel kom, vat Gehasi die geskenke by die dienaars en steek dit weg in sy huis. Daarna het hy die manne teruggestuur.

25 Toe hy by die profeet kom, vra Elisa vir hom: “Waar was jy, Gehasi?”

“Ek was nêrens heen nie,” antwoord hy.

26 Maar Elisa sê vir hom: “Het my hart nie saamgegaan toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet nie? Is dit die tyd om geld en klere, olyfboorde en wingerde, skape en beeste, slawe en slavinne in die hande te kry?

27 Omdat jy dit gedoen het, sal jy en jou nageslag vir altyd ly aan die melaatsheid van Naäman.” Toe Gehasi die vertrek verlaat, was hy reeds melaats, so wit soos sneeu.

Categories
2 KONINGS

2 KONINGS 6

Die byl wat dryf

1 Op ’n keer kom die groep profete na Elisa toe en sê vir hom: “Soos u kan sien, is hierdie plek waar ons saam met u byeenkom, te klein vir ons.

2 Laat ons afgaan na die Jordaanrivier toe waar elkeen ’n paal kan gaan kap. Ons kan daar ’n nuwe vergadersaal bou.”

“Goed,” sê hy. “Gaan gerus.”

3 “Kom tog saam met ons!” vra een van hulle.

“Goed, ek kom saam,” sê hy.

4 Hy het saam met hulle gegaan. Toe hulle by die Jordaan aankom, begin hulle bome afkap.

5 Terwyl een van hulle besig was om ’n boom te kap, val sy byl in die water. “Ag, Meneer!” roep hy uit. “Dit is ’n geleende byl!”

6 “Waar het dit ingeval?” vra die man van God. Die man wys toe vir hom die plek. Elisa het ’n stok afgekap en dit in die water gegooi. Die byl het boontoe gekom en gedryf.

7 “Gryp dit,” sê Elisa vir hom. Die man het sy hand uitgesteek en dit gegryp.

Elisa uitoorlê die Arameërs

8 Die koning van die Arameërs was in ’n oorlog teen Israel gewikkel. Hy het met sy offisiere beraadslaag en gesê: “Ons sal ons kamp op dié en dié plek opslaan.”

9 Elisa, die man van God, het egter dadelik die koning van Israel gewaarsku: “Moenie naby daardie plek gaan nie, want die Arameërs trek daarheen op.”

10 Dan het die koning boodskappers na die plek gestuur waarvan die man van God gepraat het en die mense gewaarsku. Hulle was dus op hulle hoede. Dit het etlike kere gebeur.

11 Hieroor was die koning van Aram baie ontsteld. Hy roep toe sy offisiere en vra hulle: “Wie van julle is die verraaier? Wie is dit wat die koning van Israel oor my planne inlig?”

12 “Dis nie ons nie, o Koning,” antwoord een van die offisiere. “Elisa, die profeet in Israel, vertel alles aan die koning van Israel. Selfs wat u in u slaapkamer sê, is aan hom bekend!”

13 Die koning van Aram beveel hulle toe: “Gaan en stel vas waar Elisa is. Dan stuur ek troepe om hom te vang.”

Hy kry toe berig: “Elisa is in Dotan.”

14 Een nag stuur die koning van Aram toe ’n groot leër en baie perde en strydwaens om die dorp te omsingel.

15 Toe die dienaar van die man van God die volgende môre vroeg opstaan en buitentoe gaan, sien hy oral net troepe, perde en strydwaens.

Benoud roep hy vir Elisa: “Ag, Meneer, wat moet ons nou maak?”

16 “Moenie bang wees nie!” sê Elisa vir hom. “Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant!”

17 Toe bid Elisa: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!” Die Here het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was.

18 Toe die Aramese leër naderkom, bid Elisa: “Here, slaan hulle tog met blindheid!” Die Here het gedoen soos Elisa gevra het.

19 Elisa sê toe vir hulle: “Julle is op die verkeerde pad! Dis ook nie die regte stad nie! Volg my en ek sal julle neem na die man vir wie julle soek.”

So het hy hulle na Samaria toe gelei.

20 Net toe hulle Samaria binnegaan, bid Elisa: “Here, laat hulle weer sien.” Die Here het hulle oë oopgemaak en toe hulle opkyk, is hulle binne-in Samaria!

21 Toe die koning van Israel hulle sien, roep hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, my vader, moet ek hulle doodmaak?”

22 “Natuurlik nie!” sê Elisa vir hom. “Maak jy die krygsgevangenes dood wat jy met jou swaard en boog gevang het? Gee vir hulle kos en iets om te drink sodat hulle kan teruggaan na hulle koning toe.”

23 Die koning het toe ’n groot fees vir hulle voorgesit en hulle toe teruggestuur na hulle koning toe. Daarna het die Aramese plunderaars nie weer die land Israel binnegeval nie.

Ben-Hadad beleër Samaria

24 ’n Tyd later het koning Ben-Hadad van Aram egter sy hele leër opgeroep en Samaria beleër.

25 Daar het toe ’n ernstige hongersnood in die stad ontstaan. Na ’n tyd is ’n donkiekop verkoop vir een kilogram silwer, en ’n handjie vol duiwemis vir omtrent 50 gram silwer.

26 Op ’n dag, terwyl die koning op die stadsmuur verbyloop, roep ’n vrou na hom: “Help my tog, my heer die koning!”

27 “As die Here jou nie help nie, wat kan ek dan doen?” antwoord hy. “Ek het geen kos van die dorsvloer of wyn uit die parskuip om vir jou te gee nie.

28 Maar wat is jou probleem?” vra die koning. Sy antwoord: “Hierdie vrou het voorgestel: ‘Gee jou seun dat ons hom vandag kan eet, dan eet ons my seun môre.’

29 Toe het ons my seun gekook en opgeëet. Die volgende dag sê ek: ‘Maak jou seun dood sodat ons hom kan eet,’ maar sy wou nie en het haar seun weggesteek.”

30 Toe die koning dit hoor, skeur hy sy klere van radeloosheid. Soos die koning al met die muur loop, merk die mense dat hy ’n roukleed onder sy klere dra.

31 “Mag God my tref as ek vandag Elisa seun van Safat se kop aan sy lyf laat bly,” sê die koning.

32 Elisa het in sy huis gesit en praat met die leiers van Israel. Die koning het ’n boodskapper vooruit gestuur, maar voordat hy daar aankom, sê Elisa vir die leiers: “Kyk, die moordenaarskind het iemand gestuur om my kop af te kap. Wanneer hy hier aankom, moet julle die deur sluit en hom buite hou. Sy koning is kort agter hom.”

33 Terwyl Elisa besig was om dit te sê, kom die boodskapper daar aan met die boodskap: “Die koning sê: Die Here het al hierdie ellende oor ons gebring! Hoekom moet ek nog langer vir die Here wag?”

Categories
2 KONINGS

2 KONINGS 7

1 Elisa het geantwoord: “Luister na hierdie boodskap van die Here! Dis wat die Here sê: ‘Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.’”

2 Die adjudant, vertroueling van die koning, sê vir die man van God: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die Here die vensters van die hemel oopmaak!”

Maar Elisa antwoord hom: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!”

Die melaatses besoek die

Aramese kamp

3 Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. “Hoekom moet ons hier sit en wag om dood te gaan?” vra hulle vir mekaar.

4 “As ons die stad ingaan, sal ons sterf weens die hongersnood; en as ons hier bly, sal ons ook sterf. Ons kan maar netsowel oorgaan na die Arameërs se kamp toe. As hulle ons laat lewe, dan lewe ons. As hulle ons doodmaak, dan is ons dood.”

5 Skemerdonker gaan hulle na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle by die kant van die Arameërs se kamp kom, kry hulle ’n groot verrassing: Daar was niemand nie!

6 Die Here het dit so bewerk dat die leër van Aram die gedreun van strydwaens, die galop van perde en die gedruis van ’n naderende leër gehoor het. “Die koning van Israel het seker die konings van die Hetiete en die Egiptenaars gehuur om ons aan te val!” roep hulle uit.

7 Dit was skemeraand toe hulle halsoorkop gevlug het. Hulle tente, perde, donkies en al hulle besittings het hulle net so agtergelaat en vir hulle lewens gevlug.

8 Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp aankom, het hulle by ’n tent ingegaan. Hulle het geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daar gekry en dit gaan wegsteek. Hulle het ook by ’n ander tent ingegaan, goed gevat en dit begrawe.

9 Daarna sê hulle vir mekaar: “Wat ons doen, is nie reg nie. Dit is ’n dag van wonderlike nuus en ons sê niemand daarvan nie! As ons wag tot dit lig word, sal ’n onheil ons tref. Kom ons gaan en vertel dit by die paleis van die koning.”

10 Hulle gaan toe na die stad, roep na die poortwagters en vertel hulle wat gebeur het: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, ontdek ons daar was nie ’n mens te sien of te hoor nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente het almal nog net so daar gestaan.”

11 Die poortwagters het geskreeu en die nuus oorgedra aan die koning in die paleis.

Israel plunder die kamp

12 In die middel van die nag het die koning opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal vir julle sê wat die Arameërs se plan met ons is! Hulle weet ons het nie kos nie. Daarom het hulle die kamp verlaat en êrens in die veld gaan wegkruip. Hulle dink: ‘Kom ons wag dat hulle uitgaan uit die stad. Dan sal ons hulle lewendig vang en self die stad binnegaan.’”

13 Een van sy amptenare antwoord: “Laat ’n paar manne vyf van die perde wat oorgebly het, vat en gaan vasstel wat is wat. As daar iets met hulle gebeur, sal dit nie ’n groter verlies wees as wanneer hulle hier bly en saam met ons sterf nie.”

14 Twee strydwaens met hulle perde is toe gereedgemaak. Die koning het hulle gestuur om te kyk wat van die Aramese leër geword het.

15 Hulle het tot by die Jordaanrivier agter hulle aangegaan. Die hele pad was besaai met klere en ander goedere wat die Arameërs weggegooi het in hulle haas om te vlug. Die verkenners het teruggekom en dit vir die koning vertel.

16 Toe het die inwoners van Samaria uit die stad gestorm en die Arameërs se kamp geplunder. So het dit dan gebeur dat vyf kilogram meel of dubbel die hoeveelheid gars net ’n sikkel silwer gekos het, net soos die Here belowe het.

17 Die koning stel toe die adjudant, sy vertroueling, aan om die oorvloed bedrywighede by die poort te beheer. Maar die inwoners het hom in die poort doodgetrap.

Alles het net so gebeur soos wat die man van God gesê het toe die koning na sy huis toe gekom het.

18 Die man van God het mos vir die koning gesê: “Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.”

19 Die koning se adjudant het toe vir die man van God gesê: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die Here die vensters van die hemel oopmaak!” En die man van God het geantwoord: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!”

20 Dit het presies so gebeur, want die menigte het hom in die stadspoort doodgetrap.