Categories
HANDELINGE

HANDELINGE 23

1 Paulus het die Joodse Raad reguit in die oë gekyk en begin praat: “Geagte broers, met ’n absoluut goeie gewete het ek my lewe tot vandag toe in diens van God gelei!”

2 Toe het die hoofpriester Ananias die mense wat by Paulus staan, beveel om hom op die mond te klap.

3 Daarop sê Paulus vir hom: “God gaan jóú klap, jou skynheilige! Hier sit jý om my volgens ons wet te verhoor, maar in stryd met die wet beveel jy dat ek geklap moet word!”

4 Die mense by Paulus sê toe vir hom: “Dis die hoofpriester van God wat jy so uitskel!”

5 “Jammer, broers. Ek het nie besef hy is die hoofpriester nie,” het Paulus gereageer. “Daar staan inderdaad geskryf: ‘’n Leier van jou volk mag jy nie beledig nie.’”

6 Paulus het besef dat ’n deel van die Joodse Raad Sadduseërs was en ’n ander deel Fariseërs, en daarom roep hy toe in die raad uit: “Geagte broers, ek is ’n Fariseër en ek is uit ’n Fariseërfamilie. Dit is oor my toekomsverwagting oor die opstanding van die dooies dat ek verhoor word!”

7 Toe hy dit sê, het die Fariseërs en die Sadduseërs onder mekaar begin stry, en die vergadering het verdeeld geraak,

8 want die Sadduseërs sê daar is geen opstanding nie, en ook nie engele en geeste nie; die Fariseërs glo weer dat al drie bestaan.

9 ’n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. Sommige van die skrifkenners uit die Fariseërparty het opgespring en baie heftig hulle saak gestel: “Ons vind niks slegs in hierdie man nie,” het hulle geskreeu. “Miskien het ’n gees of ’n engel met hom gepraat.”

10 Die bakleiery het só erg geword dat die offisier oor duisend man bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het hy sy eenheid beveel om hom tussen hulle te gaan uithaal en terug te bring kaserne toe.

11 Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Net soos jy hier in Jerusalem oor My getuig het, só moet jy ook in Rome doen.”

’n Komplot word gesmee om

Paulus te vermoor

12 Toe dit dag word, het die Jode ’n komplot gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle Paulus doodgemaak het nie.

13 Meer as 40 mense het só saamgesweer.

14 Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde gegaan en gesê: “Ons het ons met ’n eed verbind om nie aan iets te proe totdat ons Paulus dood het nie.

15 Julle en die Joodse Raad moet die offisier oor duisend man laat weet dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom voor sy aankoms permanent uit die weg te ruim.”

16 Paulus se susterskind het egter gehoor van die hinderlaag. Hy is na die kaserne toe en het by die barakke ingekom en Paulus ingelig.

17 Paulus roep toe een van die offisiere oor honderd man en sê vir hom: “Vat hierdie jong man na die offisier oor duisend man toe, want hy het iets om aan hom te rapporteer.”

18 Hy vat hom toe na die offisier oor duisend man toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my geroep en my gevra om hierdie jong man na u toe te bring omdat hy iets het om aan u te rapporteer.”

19 Die offisier vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant toe en vra vir hom: “Wat is dit wat jy aan my wil rapporteer?”

20 Hy het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, kwansuis om sy saak noukeuriger te ondersoek.

21 U moet u nie deur hulle laat oorreed nie, want meer as 40 mans uit hulle geledere lê hom voor om hom te vermoor. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom permanent uit die weg geruim het nie. Hulle is gereed en wag nou net vir instemming van u kant af.”

22 Die offisier het hom toe dié opdrag gegee: “Moenie vir iemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.” En hy het die jong man laat gaan.

Paulus word Sesarea toe gestuur

23 Die offisier oor duisend man het toe twee van die offisiere oor honderd man geroep en hulle beveel: “Maak 200 soldate, 70 perderuiters en 200 spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand Sesarea toe te vertrek.

24 Sorg dat daar rydiere vir Paulus is, en bring hom veilig by goewerneur Feliks.”

25 Toe skryf hy hierdie brief:

26 Claudius Lisias skryf aan die hooggeagte goewerneur Feliks. Groete!

27 Hierdie man is deur die Jode gearresteer en hulle was op die punt om hom te vermoor toe ek met my eenheid ingegryp het. Omdat ek agtergekom het dat hy ’n Romeinse burger is, het ek hom in beskerming geneem.

28 Ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, en het hom daarom voor hulle Raad gebring.

29 Ek het bevind dat die klag gaan oor twispunte in verband met hulle wet, verseker nie ’n klag wat die dood of tronkstraf verdien nie.

30 Toe ek verneem het daar is ’n komplot teen die man, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Sy aanklaers het ek aangesê om hulle klagte teen hom aan u voor te lê.

31 Die soldate het ooreenkomstig hulle opdrag vir Paulus gevat en hom dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris.

32 Die volgende dag het hulle teruggekeer kaserne toe terwyl die berede soldate met hom Sesarea toe is.

33 Toe hulle in Sesarea aankom, het hulle die brief vir die goewerneur gegee en Paulus aan hom oorhandig.

34 Hy het die brief gelees en Paulus gevra van watter provinsie hy is. Hy hoor toe dat hy van Silisië af kom.

35 “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers kom,” het die goewerneur gesê. Toe het hy beveel dat Paulus in die paleis van Herodes onder arres gehou word.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ACT/23-32e37fae3c53a2c8d5a159f12d69dfe4.mp3?version_id=117—

Categories
HANDELINGE

HANDELINGE 24

Paulus verantwoord sy optrede

voor Feliks

1 Vyf dae later het die hoofpriester Ananias saam met ’n paar van die familiehoofde en ’n advokaat, Tertullus, daar aangekom. Hulle het hulle aanklag teen Paulus aan die goewerneur voorgelê.

2 Paulus is ingeroep en Tertullus het die aanklag begin voorhou: “Hooggeagte Feliks, deur u toedoen lewe ons nou al lank in vrede, en deur u beleid het daar vir ons volk goeie transformasie plaasgevind.

3 Dit verwelkom ons altyd en oral met alle dankbaarheid.

4 Ek wil u egter nie nog langer vermoei nie, en daarom versoek ek u om met u kenmerkende welwillendheid kortliks na ons te luister.

5 Ons het bevind dat hierdie man ’n absoluut verderflike invloed is. Hy maak dat al die Jode oor die hele wêreld in opstand kom. Hy is ’n leier van die Nasarener-splintergroep.

6 Hy het selfs die tempel probeer ontheilig, en toe het ons hom gearresteer.

8 U sal self agterkom waaroor ons hom aankla wanneer u hom oor al hierdie dinge verhoor.”

9 Die Jode het ook gepraat en bevestig dat dit is soos Tertullus sê.

10 Op ’n teken van die goewerneur aan Paulus dat hy moet praat, het hy hom begin verweer: “Ek weet dat u al jare lange ervaring het van regspreek oor Joodse sake. Daarom stel ek my verweer met hoë verwagting.

11 U kan self agterkom dat ek nie meer as twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom het om by die tempel te aanbid nie.

12 Verder het niemand my in die tempel gekry dat ek met iemand stry, of dat ek in die sinagoges of in die stad betogings organiseer nie.

13 Dit waarvan hulle my nou beskuldig, kan hulle ook nie vir u bewys nie.

14 “Dít erken ek egter wel voor u: Die God van my voorvaders dien ek volgens ‘Die Pad’; hulle noem ons ’n splintergroep. Ek handhaaf alles wat in die wet voorgeskryf is en in die profeteboeke geskryf staan.

15 Ek het my hoop op God gestel – iets wat hulle self ook verwag – dat God die opstanding van die goeies en die slegtes gaan laat plaasvind.

16 Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd ’n skoon gewete voor God en die mense te hê.

17 “Na baie jare het ek teruggekom om my volk met ’n finansiële bydrae te help en om aan God te offer.

18 Ek was nog besig met die offer in die tempel, pas klaar met die reinigingshandeling, toe hulle my kry. Daar was nie ’n skare nie en ook geen oproer nie.

19 ’n Paar Jode van die provinsie Asië was wel daar. Dit is eintlik húlle wat hier voor u moes gewees het en die aanklag moes gemaak het, as hulle iets teen my sou hê!

20 Of laat hierdie mense sommer nou self sê watter misdaad die Joodse Raad gevind het toe ek voor hulle was.

21 “Of miskien was dit oor hierdie een stelling wat ek uitgeroep het toe ek in hulle midde gestaan het: ‘Ek staan vandag hier voor julle tereg omdat ek aan die opstanding van die dooies glo!’”

22 Feliks, wat nogal baie van “Die Pad” geweet het, het toe die verhoor uitgestel en gesê: “Wanneer die offisier oor duisend man, Lisias, kom, sal ek oor julle saak beslis.”

23 Hy het die offisier oor honderd man beveel om Paulus nog aan te hou, maar hom spesiale behandeling te gee en sy eie mense nie te verhoed om vir hom te sorg nie.

24 Na ’n paar dae het Feliks, met sy Joodse vrou, Drusilla, gekom en vir Paulus laat haal en na hom geluister oor die geloof in Christus Jesus.

25 Paulus het met hom gepraat oor wat dit beteken om reg voor God te lewe, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel.

Feliks het bang geword, en sy reaksie was: “Vir eers kan jy maar gaan, en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep.”

26 Hy het die hele tyd verwag dat Paulus hom sou probeer omkoop, en daarom het hy hom heel dikwels laat haal en met hom gepraat.

27 Twee jaar later het Feliks ’n opvolger gekry, Porsius Festus. Omdat Feliks die Jode ’n guns wou bewys, het hy by sy vertrek vir Paulus in die tronk gelos.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ACT/24-8abc1c7c563fe83dfeb1eb76c952e4ee.mp3?version_id=117—

Categories
HANDELINGE

HANDELINGE 25

Paulus verskyn voor Festus

1 Drie dae na sy aankoms in die provinsie het Festus van Sesarea af opgegaan Jerusalem toe.

2 Die priesterhoofde en die leiers van die Jode het toe ’n verslag teen Paulus by hom ingedien. Hulle het ’n beroep op hom gedoen

3 en van hom die guns gevra om Paulus Jerusalem toe te laat kom. (Hulle het ’n hinderlaag beplan om hom op pad permanent uit die weg te ruim.)

4 Festus het egter geantwoord dat Paulus in Sesarea aangehou word, en dat hy self van plan was om binnekort daarheen terug te vertrek.

5 “Dié onder julle,” het hy gesê, “wat die bevoegdheid daartoe het, kan dan saam met my gaan. As die man iets onwettigs begaan het, kan julle hom aankla.”

6 Hy het ongeveer agt dae, hoogstens tien, in Jerusalem deurgebring en toe afgegaan Sesarea toe. Die volgende dag het hy gereël dat die hof sit en Paulus laat haal.

7 Toe Paulus in die hof verskyn, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van ’n hele klomp ernstige dinge beskuldig. Hulle kon egter niks bewys nie.

8 Paulus het hom toe verdedig: “Ek het niks teen die Joodse wet of die tempel of die keiser oortree nie.”

9 Maar Festus wou iets vir die Jode doen en sê toe vir Paulus: “Wil jy opgaan Jerusalem toe en dáár voor my oor hierdie dinge verhoor word?”

10 Paulus antwoord hom: “Nee! Voor die keiserlike regbank staan ek tereg. Dít is waar ek verhoor moet word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed.

11 As ek skuldig is en dinge gedoen het wat die dood verdien, probeer ek die dood nie ontduik nie. Aangesien alles waarvan hulle my beskuldig egter blote versinsels is, kan niemand my sommer maar net aan hulle uitlewer nie. Ek appelleer na die keiser!”

12 Festus het die saak met sy raad bespreek en toe geantwoord: “Jy het na die keiser geappelleer; na die keiser toe sal jy gaan!”

13 ’n Paar dae later het koning Agrippa en Bernice in Sesarea aangekom om Festus te verwelkom.

14 Hulle het ’n hele paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak met die koning bespreek: “Hier is ’n gevangene wie se verhoor Feliks ná sy vertrek aan my oorgelaat het.

15 By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode my oor hom ingelig en van my ’n skuldigbevinding teen hom gevra.

16 Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om iemand sommer net as guns uit te lewer nie. Die beskuldigde moet eers geleentheid kry om homself persoonlik in die teenwoordigheid van sy aanklaers te verdedig.

17 “Toe hulle vir die verhoor hierheen gekom het, het ek dus geen tyd gemors nie en die volgende dag die hofsitting gereël en die man laat haal.

18 Sy aanklaers het om hom gestaan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ék verwag het nie.

19 Hulle het dit gehad oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor ’n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe.

20 Ék het geen idee gehad hoe om hierdie tipe saak te ondersoek nie, en het hom daarom gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word.

21 Maar Paulus het geappelleer om onder arres te bly met die oog op ’n beslissing deur Sy Edele die Keiser. Ek het toe beveel dat hy onder arres bly totdat ek hom keiser toe kan stuur.”

22 “Ek sou self ook graag die man wou hoor,” sê Agrippa toe vir Festus.

Festus het geantwoord: “Môre sal jy hom hoor!”

Paulus stel sy saak voor

Agrippa

23 Die volgende dag het Agrippa gekom, en Bernice ook, met groot vertoon. Hulle het die saal binnegekom in geselskap van die generaals en die vooraanstaande inwoners van die stad. Op Festus se bevel is Paulus ingebring.

24 Toe sê Festus: “Koning Agrippa en al die mans hier saam met ons teenwoordig, julle sien hierdie man teen wie die hele Joodse gemeenskap in Jerusalem en hier plaaslik ’n aanklag by my aanhangig gemaak het. Hulle het geskreeu dat hy nie langer behoort te lewe nie.

25 My eie bevinding is egter dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie. Aangesien hy hom op Sy Edele die Keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.

26 “Maar ek het nie iets spesifieks oor hom wat ek vir ons staatshoof kan skryf nie. Daarom het ek hom voor u gebring, en veral voor u, koning Agrippa, sodat ek ná die ondersoek iets kan hê om te skryf.

27 Na my oordeel is dit heeltemal sinloos om ’n gevangene te stuur sonder om die aanklag teen hom duidelik aan te dui!”

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ACT/25-eae9f7bfb084acf26107a7c0f881ab4d.mp3?version_id=117—

Categories
HANDELINGE

HANDELINGE 26

1 Agrippa rig hom toe tot Paulus: “Jy het geleentheid om jou saak te stel.”

Paulus het met sy hand beduie en sy verdediging begin:

2 “Ek ag myself gelukkig, koning Agrippa, dat ek my vandag juis voor u kan verdedig teen al die beskuldigings waarvan ek deur die Jode aangekla word,

3 veral omdat u soveel ondervinding het van al die Joodse gebruike en kwessies. Luister daarom asseblief geduldig na my!

4 “Al die Jode ken my lewenspad van jongs af. Van die begin af het ek my onder my volk in Jerusalem bevind.

5 Hulle weet dus al lankal, as hulle bereid is om daaroor te getuig, dat ek my lewe ingerig het ooreenkomstig die strengste party van ons godsdiens, naamlik die Fariseërparty.

6 En nou staan ek tereg oor my hoop op die belofte aan ons vaders, ’n belofte wat deur God self gegee is.

7 Dit is juis hierdie belofte wat ons volk se twaalf stamme hoop om te verkry, wat maak dat hulle God dag en nag met volle inspanning dien. En nou is dit oor hierdie hoop, U Majesteit, dat ek deur die Jode aangekla word!

8 Waarom is dit vir u almal so onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?

9 “Ek self het gedink dat daar ’n verpligting op my lê om alles in my vermoë te doen teen die Naam van Jesus van Nasaret.

10 En dis presies wat ek in Jerusalem gedoen het.

Met ’n mandaat van die priesterhoofde het ék baie van die gelowiges in tronke gestop, en wanneer daar oor hulle besluit moes word, het ek daarvoor gestem dat hulle permanent uit die weg geruim moes word.

11 Dikwels het ek hulle oral in die sinagoges lyfstraf laat kry om hulle te dwing om Jesus te vloek. Ek het só teen hulle tekere gegaan dat ek hulle selfs in buitelandse stede vervolg het.

12 Op ’n keer was ek hieroor op reis na Damaskus, met ’n mandaat en in opdrag van die priesterhoofde.

13 Dit was teen die middag, U Majesteit, toe ’n lig helderder as die son van die hemel af op my en my reisgenote geskyn het.

14 Ons het almal neergeval, en ek het ’n stem in Aramees vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jouself net seer deur jou teen My te verset.’

15 “‘Wie is U, Meneer?’ vra ek toe.

“En die Here antwoord: ‘Ek is Jesus, dié Een wat jý vervolg.

16 Staan op! Ek het juis hiervoor aan jou verskyn om jou as my dienskneg en getuie aan te stel. Jy moet vertel hoedat jy My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien.

17 Ek sal jou teen jou volk beskerm en teen die nie-Joodse nasies na wie toe Ek jou met volle mandaat stuur.

18 Jou bediening moet hulle oë oopmaak sodat hulle ’n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig, en weg van die mag van Satan na God. Deur in My te glo, ontvang hulle vergifnis van hulle sondes en word hulle deur die geloof deel van mý mense.’

19 “Dis hoekom, koning Agrippa, ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam was nie.

20 Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die nie-Joodse nasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en na God toe moet omdraai, terwyl hulle met hulle doen en late bewys dat hulle tot inkeer gekom het.

21 Oor hierdie prediking het sommige Jode my by die tempel gearresteer en probeer vermoor.

22 Tot vandag toe het God my beskerm, en daarom staan ek hier en getuig voor klein en groot. Ek verkondig niks anders as wat die profete en Moses gesê het gaan gebeur nie:

23 Die Messias moes ly en die eerste wees van die dooies wat opstaan. So sou Hy aan ons volk en aan die nie-Joodse nasies die lig verkondig.”

24 Terwyl hy nog só met sy verdediging besig was, skreeu Festus kliphard: “Jy’s van jou kop af, Paulus! Jou baie studies het veroorsaak dat jy van jou kop af geraak het!”

25 Maar Paulus sê: “Ek is nie van my kop af nie, hooggeagte Festus, maar die stellings wat ek maak, is waar en logies.

26 Die koning is verseker bewus van hierdie dinge, en met hom praat ek openhartig. Ek is doodseker dat niks hiervan sy aandag ontglip het nie, want dis nie iets wat êrens in ’n hoekie gebeur het nie!

27 Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo … ”

28 Agrippa val Paulus in die rede: “Jy wil sommerso in ’n japtrap van my ’n Christen maak!”

29 “Of dit nou ’n oomblik of langer sou vat,” antwoord Paulus, “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, gelowiges sal word soos wat ek is, maar natuurlik net sonder hierdie boeie.”

30 Toe het die koning opgestaan, en ook die goewerneur en Bernice en dié wat saam met hulle daar gesit het.

31 Terwyl hulle uitgaan, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man doen niks wat die dood of tronkstraf verdien nie.”

32 Agrippa sê toe vir Festus: “Hierdie kêrel kon vrygelaat gewees het as hy nie na die keiser geappelleer het nie!”

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ACT/26-5562819346ba864b8ef2e63cd10d7036.mp3?version_id=117—

Categories
HANDELINGE

HANDELINGE 27

Paulus per skip op pad Rome

toe

1 Toe daar besluit is dat ons per skip Italië toe moes reis, het hulle Paulus en ’n paar ander gevangenes aan Julius, ’n offisier oor honderd man van die keiserlike regiment, oorhandig.

2 Vir die vaart het ons aan boord gegaan van ’n skip van Adramittium wat by verskeie hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargus, ’n Masedoniër van Tessalonika.

3 Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus, en het hom toegelaat om na sy vriende toe te gaan om hom te voorsien van wat hy nodig het.

4 Ons het daarvandaan weggevaar en is aan die beskutte kant van Siprus verby omdat die winde teen ons was.

5 Ons het al langs die kus van Silisië en Pamfilië gevaar tot by Mira in Lisië.

6 Daar het die offisier ’n Aleksandrynse skip Italië toe gekry, en ons aan boord laat gaan.

7 Ons het ’n klompie dae lank maar stadig kon vorder en met moeite naby Knidus gekom. Toe die wind te erg teen ons geraak het, het ons onder Kreta verbygevaar, verby Salmone.

8 Ons het toe met moeite langs Kreta op gevaar en uiteindelik ’n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea.

9 Ons het taamlik baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik vir skeepvaart geword, want die winter het begin aanbreek. Paulus waarsku hulle toe:

10 “Manne, ek sien dat ons vaart gevaarlik gaan wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook aan ons lewens.”

11 Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die opinie van die skeepskaptein en die skeepseienaar as aan Paulus se woorde.

12 Die hawe was nie gerieflik om daar te oorwinter nie, en die meeste van die bemanning wou liewer daarvandaan wegvaar en Feniks probeer bereik om dáár te oorwinter. Feniks was ’n veilige hawe van Kreta omdat dit net na die suidwes- en noordweskant na die see toe oop was.

Die storm op see

13 ’n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die bemanning het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Hulle het anker gelig en al langs die kus van Kreta gevaar.

14 Maar dit was nie lank nie toe slaan daar ’n stormwind bekend as die Noordooster van die land af toe.

15 Die skip is diepsee toe gedryf. Omdat dit onmoontlik was om die skip windop te hou, het ons ophou probeer, en ons is deur die wind voortgedryf.

16 Ons het onder ’n eilandjie met die naam Kauda verbygevaar en kon amper nie die reddingsbootjie van die skip (wat altyd op sleeptou was) onder beheer kry nie.

17 Nadat die matrose die reddingsbootjie aan boord gebring het, het hulle reddingstoue gebruik om die onderkant van die skip te verstewig. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis sou vasval, het hulle die dryfanker uitgegooi en die skip só deur die wind laat dryf.

18 Toe die storm ons aanhoudend só erg teister, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi.

19 Die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi.

20 Baie dae lank het die son en die sterre nie eers deurgekom nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.

21 Vir ’n lang tyd het niemand sy mond aan kos gesit nie. Uiteindelik het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Mooi Hawens in Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade gespaar gewees het.

22 En nou vra ek julle: Hou moed! Daar sal verseker geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal tot niet gaan.

23 Verlede nag het daar ’n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan

24 en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En dis nie al nie – om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is.’

25 Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het.

26 Ons moet op ’n eiland strand.”

Die skipbreuk

27 Die veertiende nag wat ons so op die Adriatiese See rondgedobber het, teen middernag, het die matrose vermoed dat hulle naby land kom.

28 Hulle het ’n dieplood uitgegooi en ’n diepte van 36 meter gekry. ’n Bietjie verder het hulle weer gemeet, en toe kry hulle 27 meter.

29 Hulle was bang ons loop naderhand op die rotse en het daarom vier ankers by die agterstewe uitgegooi en gebid dit moet dag word.

30 Die matrose wou wegkom van die skip af en het die reddingsbootjie in die see begin neerlaat asof hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak.

31 Paulus sê toe vir die Romeinse offisier en sy soldate: “As hierdie mense nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.”

32 Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom laat afval.

33 Net toe die dag begin breek, het Paulus by almal aangedring om iets te eet: “Vandag is al die veertiende dag dat julle in spanning sonder kos wag, en niks eet nie,” het hy gesê.

34 “Daarom dring ek by julle daarop aan om nou iets te eet. Dit sal julle verseker help om te oorleef. Daar sal nie eers ’n haar van een van julle se koppe af verlore gaan nie!”

35 Nadat hy dit gesê het, het hy brood gevat, God voor almal gedank, ’n stuk afgebreek en begin eet.

36 Hulle het toe almal moed geskep en self ook begin eet.

37 (Ons was altesaam 276 mense op die skip.)

38 Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip nog ligter gemaak deur die res van die koringvrag oorboord te gooi.

39 Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het ’n baai met ’n strand gesien. Hulle oorweeg toe om, indien moontlik, die skip daar te laat strand.

40 Hulle het die ankers afgegooi en net daar in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys sodat die wind die skip strand toe kon dryf.

41 Maar die skip het op ’n rif geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe het as gevolg van die geweld van die golwe begin opbreek.

42 Die plan van die soldate was om die gevangenes dood te maak om te keer dat hulle sou uitswem en ontsnap.

43 Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle gekeer om hulle plan uit te voer. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en die land te probeer haal.

44 Die ander moes dan volg, sommige deur aan planke en ander deur aan wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het dit gebeur dat almal veilig aan land gekom het.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ACT/27-f750791aefc90783cf6808e77d7c0a75.mp3?version_id=117—

Categories
HANDELINGE

HANDELINGE 28

Paulus en sy reisgenote op die

eiland Malta

1 Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons uitgevind dat die eiland Malta genoem word.

2 Die inboorlinge was buitengewoon vriendelik teenoor ons. Dit het begin reën en dit was koud. Hulle het toe ’n vuur aangesteek en ons almal genooi om daar te kom sit.

3 Paulus het ’n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar ’n slang uitgekom en hom aan sy hand gepik.

4 Toe die inboorlinge die gedierte aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man is beslis ’n moordenaar. Al is hy uit die see gered, het geregtigheid hom nie toegelaat om te bly lewe nie.”

5 Paulus het egter die ongedierte in die vuur afgeskud en geen nagevolge gehad nie.

6 Hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik morsdood neerslaan, maar nadat hulle ’n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks buitengewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en begin sê hy is ’n god.

7 Daar was ’n plaas in daardie omge-wing wat aan die hoof van die eiland, ’n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik as sy gaste gehuisves.

8 Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak.

9 Ná hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland gekom, en is hulle gesond gemaak.

10 Hulle het ons met baie eerbewyse oorlaai, en toe ons wou wegvaar, het hulle vir ons alles opgelaai wat ons nodig gehad het.

Van Malta af Rome toe

11 Na drie maande is ons daar weg met ’n skip wat by die eiland oorwinter het, ’n Aleksandrynse skip met die Dioskuri as boegbeeld.

12 Ons het by Sirakuse op die eiland Sisilië vasgemeer en drie dae daar oorgebly.

13 Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom, heel in die suide van Italië. Na nog ’n dag het daar ’n suidewind begin waai, en op die tweede dag was ons in Puteoli.

14 Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En só het ons Rome bereik.

15 Die gelowiges in Rome het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en ander by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.

Paulus in Rome

16 Na ons aankoms in Rome is Paulus toegelaat om op sy eie te woon met ’n soldaat wat hom bewaak.

17 Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: “Geagte broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek as gevangene uit Jerusalem aan die Romeine uitgelewer.

18 Die Romeine het my verhoor en wou my loslaat omdat daar in my geval geen rede vir die doodstraf was nie.

19 “Maar omdat die Jode daarteen beswaar gemaak het, kon ek nie anders as om na die keiser te appelleer nie, alhoewel ek my volk nie van iets wil aankla nie.

20 Dit is dan die rede waarom ek u laat roep het om u te sien en met u te praat. Ek is in hierdie boeie omdat ek glo dat die hoop van Israel, die Messias, reeds gekom het.”

21 Toe sê hulle vir hom: “Ons het geen briewe oor jou van Judea af gekry nie, en nie een van ons broers het enige nuus gebring of iets kwaads van jou gesê nie.

22 Ons wil graag van jou hoor hoe jy oor die hele aangeleentheid dink, want ons verneem dat hierdie splintergroep oral omstrede is.”

23 Hulle het toe ’n dag met hom vasgemaak, en op daardie dag het daar nog meer mense na sy blyplek gekom. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus vir hulle die koningsheerskappy van God verduidelik en daaroor getuig. Hy het hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus.

24 Sy woorde het party oortuig, maar ander wou nie glo nie.

25 Toe ’n ernstige meningsverskil ontstaan, het hulle begin padgee. Paulus het egter nog vir oulaas een stelling teenoor hulle gemaak: “Hoe van toepassing is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het, naamlik:

26 ‘Gaan na hierdie volk toe

en sê:

Julle sal my woorde hoor

en tog nie verstaan nie.

Julle sal sien wat Ek doen,

en dit tog nie werklik

begryp nie.

27 Ja, die hart van hierdie volk

het verhard,

en hulle hoor swaar met hulle ore,

en hulle het hulle oë toegemaak

sodat hulle nie dalk

met hulle oë sien

en met hulle ore hoor

en met hulle hart begryp

en tot bekering kom

en Ek hulle gesond maak nie.’

28 “Van nou af moet julle goed besef dat hierdie verlossing van God nou vir die nie-Joodse nasies beskikbaar gestel word. En húlle sal luister.”

30 Paulus het ’n volle twee jaar lank in sy eie gehuurde huis gebly, en hy het almal ontvang wat by hom aangedoen het.

31 Hy het verkondig dat God as koning regeer, en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Hy het dit ongehinderd en met die grootste vrymoedigheid gedoen.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ACT/28-18763990bcd5d65bdd3c2859bdb236d0.mp3?version_id=117—

Categories
ROMEINE

ROMEINE 1

1
Paulus skryf aan die Romeinse

gelowiges en stuur ’n seëngroet

Hierdie brief kom van Paulus. Ek is ’n dienskneg van Christus Jesus. Hy het my geroep om sy apostel te wees. Ek is afgesonder om God se Goeie Nuus te verkondig.

2 Hierdie Goeie Nuus het Hy reeds lank gelede deur sy profete in die Skrif beloof.

3 –

4 Dit gaan oor sy Seun, Jesus Christus. Wat sy menslikheid betref, is Hy uit die nageslag van Dawid gebore. Wat sy heilige Goddelikheid betref – sy opstanding uit die dood het kragdadig bevestig dat Hy die Seun van God is. Wat meer is, Hy is ook ons Here!

5 Dit is hierdie Here wat aan my die onverdiende voorreg gegee het om sy apostel te wees en die Goeie Nuus aan al die nie-Joodse nasies te bring sodat hulle kan glo en God kan gehoorsaam, en Hy op hierdie manier verheerlik kan word.

6 Julle maak ook deel uit van daardie nie-Joodse nasies – julle almal wat geroep is om aan Jesus Christus te behoort.

7 Ek skryf aan julle almal in Rome – julle vir wie God liefhet en vir wie Hy geroep het om sý mense te wees.

Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

Paulus se gebed

8 Hier heel aan die begin wil ek vir julle vertel hoe ek vir God in die Naam van Jesus Christus dankie sê vir elkeen van julle, want die hele wêreld praat van julle geloof.

9 Dié God wat ek met hart en siel dien deurdat ek hierdie Goeie Nuus omtrent sy Seun uitdra, is my getuie dat julle dag en nag in my gedagtes is.

10 Elke keer smeek ek dat God, as dit sy wil is, tog nou uiteindelik vir my die pad sal oopmaak om by julle uit te kom.

11 Ek begeer met my hele hart om julle te besoek. Ek wil vir julle ’n geestelike seëning bring om julle in julle geloof te versterk.

12 Eintlik bedoel ek dat ons mekáár dan oor en weer sal kan bemoedig deur ons gemeenskaplike geloof.

Paulus se toekomsbeplanning

en die brieftema: God spreek

13 Broers en susters, julle moet beslis weet dat ek my al dikwels voorgeneem het om na julle toe te kom. Ek hoop om ook onder julle ’n geseënde bediening te hê, net soos onder die ander nie-Jode waar ek gewerk het.

14 Ek het ’n groot verantwoordelikheid teenoor almal – maak nie saak of hulle van ons eie kultuur of van ’n ander kultuur is, of hoe opgevoed of onopgevoed hulle is nie.

15 Daarom is ek gretig om ook aan julle in Rome die Goeie Nuus te verkondig.

16 Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode.

17 Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”

Hoe God die sonde van die nie-

Jode straf

18 Van sy hemelse woonplek af maak God sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk.

19 In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak.

20 Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie.

21 Ja, hulle het ’n Godsbesef gehad, maar tog het hulle Hom nie as God geëer of aan Hom dankbaarheid betoon nie. Inteendeel, hulle het vir hulleself allerlei belaglike voorstellings oor ’n godheid begin maak en hulle verdwaasde harte het heeltemal toegeslaan.

22 Alhoewel hulle daarop aanspraak maak dat hulle danig slim is, het hulle in werklikheid heeltemal in dwaasheid verval – in so ’n mate

23 dat hulle die verering van die onsterflike God met afgode vervang het wat sterflike mense en voëls en diere en slange uitbeeld.

24 Om hierdie rede het God hulle aan hulle eie sondige hartstogte oorgegee, met die gevolg dat hulle onsedelikheid begin bedryf het deur oor en weer immorele praktyke met mekaar se liggame te beoefen.

25 Hulle het immers so ver gegaan om die ware kennis van God te verkwansel vir die leuen en God se handewerk te vereer en te dien in plaas van die Skepper self – dié God wat vir ewig geprys behoort te word. Amen!

26 Dit is daarom dat God hulle oorgegee het aan hulle eie skandelike drifte. Selfs die vroue het die natuurlike seksuele verkeer verruil vir wat teen die natuur is, naamlik dié met ander vroue.

27 Op dieselfde manier het die mans die natuurlike manier om seksueel te verkeer prysgegee en ’n brandende begeerte na mekaar begin koester. Mans het skandelike dade met mekaar bedryf. Gevolglik moes hulle in hulle eie persoon die duur prys vir hulle perversiteit betaal.

28 Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge.

29 Hulle lewe word gekenmerk deur elke vorm van ongeregtigheid, boosheid, grypsug, kwaadwilligheid; hulle is vol jaloesie, moord, twisgierigheid, skelmstreke, slegte bedoelings en skinderpraatjies.

30 Hulle steek kwaad, haat God en is arrogant, hooghartig en verwaand; hulle is vindingryk om slegte dinge te bedink en ongehoorsaam aan hulle ouers;

31 jy kan nie met hulle redeneer nie en ook nie op hulle reken nie; hulle is liefdeloos en sonder ontferming vir ander mense.

32 Hulle is bewus van God se bepaling dat mense wat met sulke praktyke besig is, die dood verdien. Tog is hulle nie net self aktief daarmee besig nie; hulle spoor ook nog ander aan wat daarmee besig is.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ROM/1-9d48d0cda8bd0c0fcec72f317d4dc37d.mp3?version_id=117—

Categories
ROMEINE

ROMEINE 2

God oordeel almal regverdig

1 Jy sê dalk: “Dis darem verskriklike mense wat jy beskryf!” Jy is egter self sonder verontskuldiging. Deurdat jy ’n oordeel oor ander uitspreek, veroordeel jy immers jouself, want eintlik doen jy dieselfde soort dinge. Daarom is jy ook sonder verontskuldiging.

2 Ons weet tog dat God ’n suiwer oordeel sal vel oor enigiemand wat met sulke praktyke besig is.

3 Dink jy dan – jy wat ander veroordeel wat hierdie dinge doen, en tog ook self daarmee besig is – dat jy God se oordeel sal vryspring?

4 God is so oorvloedig in sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld teenoor jou. Minag jy dit werklikwaar? Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?

5 Maar nee, omdat jy so verhard is en in jou hart weier om tot inkeer te kom, is jy besig om vir jou ’n verskriklike oordeel op die oordeelsdag op te bou – daardie dag wanneer God, die regverdige regter,

6 almal sal oordeel volgens wat hulle gedoen het.

7 Aan dié wat met volharding aanhou om goed te doen, en op hierdie manier streef na die toekomstige heerlikheid, eer en onsterflikheid wat Hy vir hulle weggebêre het, sal Hy die ewige lewe gee.

8 Maar dié wat hardkoppig weier om die waarheid te gehoorsaam en toegee aan die ongeregtigheid, sal Hy in sy woede straf.

9 Daar wag swaarkry en benoudheid vir elke mens wat aanhou kwaad doen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood.

10 Maar daar wag heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat aanhou met goeddoen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood.

11 God trek immers niemand voor nie.

12 Want almal wat sonder die wet gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan. En almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet veroordeel word.

13 Want dit is nie die blote aanhoor van die wet wat mense vrymaak van God se oordeel nie; dit is hulle wat God se wet gehoorsaam wat God se vryspraak ontvang.

14 Wat nou die nie-Jode betref wat nie God se geskrewe wet het nie – as hulle instinktief die vereistes van die wet nakom, selfs al het hulle nie die wet nie, stel hulle vir hulleself ’n wet.

15 Hulle optrede toon duidelik dat die vereistes van die wet in hulle harte geskryf staan. Boonop bevestig hulle gewetens dit deurdat hulle gedagtes hulle óf aankla óf vryspreek.

16 So sal dit ook wees op die oordeelsdag wanneer God, deur Jesus Christus, sal oordeel oor die verborge dieptes van ons lewe. Dít is deel van die Goeie Nuus wat ek verkondig.

Ook die Jood staan skuldig voor

die wet

17 Jy dra die naam van ’n Jood. Jy vertrou daarop dat jy oor die wet van God beskik en jy spog daarmee dat jy ’n spesiale verhouding met God het.

18 Ja, jy weet wat God van jou verwag; jy kan goed tussen reg en verkeerd onderskei omdat jy wetsonderrig ontvang het.

19 Jy beskou jouself as ’n gids vir die blindes, ’n ligbaken vir mense wat in die donker verkeer – sonder God.

20 Jy dink jy kan die onkundiges onderrig en die beginners touwys maak omdat die wet vir jou die beliggaming van alle kennis en waarheid is.

21 Hoe is dit dan dat jy wat vir ander leermeester speel, nie jou eie lesse ernstig opneem nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy nie ook self nie?

22 Jy wat sê dat ’n mens nie egbreuk mag pleeg nie, maak jy jou nie ook daaraan skuldig nie? Jy wat die afgode verafsku, doen jy nie ook mee aan die berowing van die tempels van die nie-Jode nie?

23 Ja, jy wat jou op God se wet beroem – jy beroof God van sy eer deurdat jy self sy wet oortree!

24 Geen wonder nie dat die Skrif sê: “Julle veroorsaak dat God se Naam onder die nie-Joodse nasies sleggemaak word.”

25 Die besnydenis beteken wel vir jou iets as jy God se wet gehoorsaam. Maar as jy die wet oortree, is jy niks beter daaraan toe as ’n onbesnede nie-Jood nie.

26 En as die onbesnede nie-Jode die bepalings van die wet nakom, sal God hulle dan nie beskou as besnedenes nie?

27 Ja, as iemand wat kragtens geboorte onbesnede is, tog God se wet gehoorsaam, sal dit selfs téén jou tel – jy wat met die letter van die wet, besnydenis en al, tog God se wet verbreek!

28 Jy is nie ’n ware Jood bloot omdat jy in die openbaar as ’n Jood bekend staan of omdat jy uitwendig besny is nie.

29 Inteendeel, die ware Jood is dié een wat dit in sy binneste is. En die ware besnydenis is nie dié een wat aan jou liggaam verrig word nie; nee, dit is die besnydenis van jou hárt wat deur die Gees van God verrig word, nie deur wetsvoorskrifte nie. Só ’n persoon ontvang lof – nie van mense nie, maar van God.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ROM/2-da3aaeab48ca08f74465c76ae3999caf.mp3?version_id=117—

Categories
ROMEINE

ROMEINE 3

God bly altyd betroubaar

1 Beteken dit dan enigiets besonders om ’n Jood te wees? Of hou die besnydenis enige voordeel in?

2 Inderdaad! Dit hou baie voordele in. Die belangrikste is die feit dat God sy openbaring aan die Jode toevertrou het.

3 Wat sê dit vir ons? Impliseer die feit dat party Jode ontrou geword het dan nie dat God se getrouheid aan sy beloftes ook daarmee heen is nie?

4 Beslis nie! Al sou elke mens ’n leuenaar wees – God se waaragtigheid staan steeds vas. Soos die Skrif sê:

“U sal reg bewys word

in wat U sê,

en U sal u regsaak wen.”

5 “Maar,” kan party sê, “dan dien ons ongeregtigheid tog ’n goeie doel, want as God ons ten spyte van ons sondes vryspreek, sal dit vir die mense wys hoe wonderlik goed Hy is. En dan sou God mos onregverdig wees as Hy die sonde wel straf!” Ja, so sou mense nogal geneig wees om te redeneer.

6 Maar dit is natuurlik ondenkbaar! As God onregverdig was, hoe sou Hy ooit as die regter van die hele wêreld kon kwalifiseer?

7 Party sal egter nog bly sê: “Maar hoe kan God my nog steeds as ’n sondaar veroordeel as my oneerlikheid juis sý waaragtigheid oorvloedig laat blyk en tot sy verheerliking dien?”

8 Volgens hierdie absurde redenasie sou ons moes sê: “Kom ons doen die slegte sodat die goeie daaruit kan voortkom!” Dié wat sulke onsin verkondig, verdien tereg God se oordeel – en tog belaster sommige mense my deur te beweer dis presies wat ek preek!

Dis duidelik dat alle mense

sondaars is

9 Waarop kom dit neer? Dat ons wat Jode is, voor God beter is as ander? Hoegenaamd nie! Ons het immers reeds duidelik aangetoon dat die Jode sowel as die nie-Jode almal onder die mag van die sonde verkeer.

10 Dit is soos die Skrif sê:

“Niemand is goed nie –

selfs nie een nie.

11 Daar is nie een wat

verstandig is nie;

niemand wat ernstig

na God soek nie.

12 Almal het hulle rug op God gekeer;

almal het sleg geword.

Daar is niemand

wat die goeie doen nie –

selfs nie een nie.”

13 “Hulle keel is soos

’n geopende graf.

Met hulle tonge

pleeg hulle bedrog.”

“Die gif van dodelike slange

drup van hulle lippe.”

14 “Hulle monde is vol vervloeking

en bitterheid.”

15 “Hulle is haastig

om moord te pleeg.

16 Oral waar hulle gaan,

laat hulle verwoesting

en ellende agter.

17 Hulle weet nie waar

ware vrede lê nie.”

18 “Eerbied vir God speel by hulle

geen rol nie.”

19 Ons weet dat die wet van toepassing is op almal wat onder die wet is. Daarom kan niemand van ons ons verweer nie en is die hele wêreld skuldig voor God.

20 Niemand sal dus op grond van wetsgehoorsaming voor God vrygespreek kan word nie. Hoe beter ons die wet van God leer ken, hoe duideliker blyk ons sonde.

God spreek ons vry op grond

van Christus se dood

21 Maar nou het God vir ons ’n ander weg bekendgemaak waardeur ons sy vryspraak kan verkry – nie deur wetsgehoorsaming nie, maar langs die weg waarvan die Skrif al lankal getuig:

22 God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo.

23 Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.

24 Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant.

25 –

26 Want God het Hom gestuur as ’n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo. Op hierdie manier het Hy duidelik aangetoon wat sy vryspraak behels: Aan die een kant het Hy die sondes vergewe wat vroeër in die tyd van sy verdraagsaamheid begaan is; aan die ander kant het Hy ook duidelik aangetoon wat sy vryspraak nóú behels. Op hierdie manier blyk dit dat Hy nie net regverdig is nie, maar terselfdertyd ook elkeen regverdig verklaar wat in Jesus glo.

27 Kan ons ons dus daarop beroem dat ons enigiets gedoen het om die vryspraak te verdien? Dis heeltemal buite die kwessie, want ons vryspraak berus nie op ons goeie dade nie, maar op ons geloof.

28 Ons is immers daarvan oortuig dat mense vrygespreek word deurdat hulle glo en nie deur wetsgehoorsaming nie.

29 Per slot van sake is God nie net ’n God van die Jode nie, maar ook van die nie-Jode.

30 Daar is net een God en daar is net een manier om sy vryspraak te ontvang. Hy spreek mense vry net deurdat hulle glo – en dit geld vir Jode sowel as nie-Jode.

31 As ons die geloof beklemtoon, beteken dit dan dat ons die wet ter syde stel? Natuurlik nie! In werklikheid laat ons die wet juis tot sy reg kom.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ROM/3-5913b24bac4c01f21aa81051cfde4c13.mp3?version_id=117—

Categories
ROMEINE

ROMEINE 4

Ook Abraham is vrygespreek

deur die geloof

1 Abraham is ons aardse voorvader. Hoe pas hy in hierdie prentjie van vryspraak deur die geloof?

2 Was dit op grond van sy goeie werke dat God hom vrygespreek het? As dit inderdaad so was, sou hy dalk goeie rede gehad het om te spog. Maar vanuit God se oogpunt het hy absoluut niks gehad om oor te spog nie.

3 Die Skrif verklaar mos: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

4 Wanneer mense ’n werk verrig, word hulle loon nie as ’n guns beskou nie, maar as vergoeding.

5 Die saak staan heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses vryspreek – hulle word vrygespreek deurdat hulle glo.

6 Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word:

7 “Gelukkig is daardie mense

wie se oortredings

nie gestraf word nie

en wie se sondes uitgewis word.

8 Gelukkig is die mens

vir wie die Here die sonde

glad nie meer toereken nie!”

9 Geld hierdie uitspraak net vir die Jode, of sluit dit ook die nie-Jode in? Wel, wat dan van Abraham? Ons het tog gesê dat hy deur God vrygespreek is deurdat hy glo.

10 Het hierdie vryspraak plaasgevind nadat hy reeds besny was of terwyl hy nog onbesnede was? Die antwoord is dat God hom reeds tevore, toe hy nog onbesnede was, vrygespreek het en dat hy eers daarna besny is!

11 Die seremonie van die besnydenis was ’n teken, ja, ’n plegtige bekragtiging daarvan dat Abraham alreeds geglo het en deur God vrygespreek is – selfs nog voor sy besnydenis. So het Abraham die geestelike voorvader geword van almal wat glo sonder dat hulle die besnydenis ontvang het en só deur God vrygespreek is.

12 En hy het ook die geestelike voorvader geword van hulle wat besny is, maar net as hulle dieselfde soort geloof het as wat ons vader Abraham gehad het voordat hy besny is.

13 Dit is dus duidelik dat God se belofte om die hele wêreld aan Abraham en sy nasate te gee nie berus het op wetsgehoorsaamheid nie, maar op die nuwe verhouding wat tot stand kom deur die vryspraak deurdat iemand glo.

14 As jy dus beweer dat mense die wêreld as erfdeel sou kon verkry op grond van wetsgehoorsaamheid, het die geloof betekenisloos geword en het die belofte sy krag verloor.

15 Wetsgehoorsaamheid bring juis straf mee – die enigste manier om wetsverbreking te voorkom is om geen wet te hê nie!

16 Die geloof is dus die sleutel! God se belofte word as ’n genadegeskenk gegee en ons as sy nageslag sal dit baie beslis ontvang – nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar almal wat deel in Abraham se geloof. Want Abraham is die vader van ons almal wat glo.

17 Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is.

18 Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.”

19 En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie.

20 Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee.

21 Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het.

22 Inderdaad, God het Abraham regverdig verklaar omdat hy in Hom geglo het!

23 Hierdie wonderlike waarheid – dat God Abraham regverdig verklaar het omdat hy geglo het – staan nie net opgeteken ter wille van Abraham self nie.

24 Dit wil ook vir óns verseker dat ons net so vrygespreek sal word as ons in Hom glo wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het.

25 Hierdie Jesus is oorgelewer om ter wille van ons sondes te sterf, en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

—https://api-cdn.youversionapi.com/audio-bible-youversionapi/553/32k/ROM/4-ba2fa41d88c8665f8f3268bb92631ff5.mp3?version_id=117—